Huisgenoot

KINDERS WAT DRANK MISBRUIK

-

Vandag wil ek aan alle ouers en grootouers vra: Wat het geword van ons plig om ons kinders te beskerm? Wat het geword van ons verantwoor­delikheids­besef om ons kinders van kleins af te leer wat reg en verkeerd is – dit wat hulle sal toerus om die regte besluite te neem wanneer hulle eendag groot is?

Ek sit en kyk hoe oupas en oumas, ma’s en pa’s toekyk hoe hul jong spruite of kleinkinde­rs – eintlik nog sommer seuntjies en dogtertjie­s – drank gebruik en dit dan baie snaaks vind. Nog erger is dat hulle self die drank gee sodat die kinders kan proe en “daaraan gewoond kan raak”. Ai, wat gaan van hierdie klein kindertjie­s word wanneer hulle eendag groot is?

Ek wonder hoe sit en kyk jy toe dat jou kind drank gebruik en dan is dit vir jou nog snaaks ook? Hoe laag het ons standaarde en waardes dan geword dat ons as grootouers dit toelaat? Waar is daardie liefde en koestering en drang om hulle liewer hierteen te beskerm? Of is dit omdat julle as ouers en grootouers dit self misbruik – en daarom is die gebruik daarvan deur kinders nie vir julle verkeerd nie?

Al wat ek kan doen, is om te sê dat ek sal bid. Bid dat hierdie kleine mensies nie deur oupas en oumas, ma’s en pa’s se toedoen eendag uitgelewer sal word aan die ander wrede gebruike en misbruike daar buite nie.

Dat hulle tog eendag die regte keuses sal maak.

En ek bid ook vir julle, elke ouma en oupa en pa en ma, dat julle die kinders sal beskerm teen die versoeking van vergrype eerder as om dit wat verkeerd is “reg en normaal” te maak.

BEKOMMERDE OUMA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa