Huisgenoot

’N UITTREKSEL

-

Hy ruk aan die boeie. “Kan jy nie hier losmaak nie?”

Die polisieman oorkant die tafel knyp sy linkeroog byna heeltemal toe soos hy aan sy sigaret suig. Die ander oog mik stip na die woelige kêrel. Luitenant Hennie Koorts is iemand wat liefs uit die son moet bly, maar probeer jy dít nou in Windhoek regkry. Sy vel is dun, byna deurskynen­d, sy lippe pienk soos ingelegde koejawel.

“Nee, ou kêrel, ons het huffel weke lank na jou gesoek, ek gaan nie die kans vat dat jy weer wegkom nie.”

“Ek is onskuldig!”

“Só sê almal wat op daai stoel sit.” “Maar niemand het nog ooit vir jou die storie vertel wat ek jou vertel nie.”

Die polisieman blaas ’n stadige stroom rook uit en skud sy kop. “As jy dink ek gaan jou storie glo van sand wat in ander goed verander . . .”

“Ek moes daai deel seker gelos het vir later . . . Maar kyk, jou sigaret verander in as. Al wat dit vat, is ’n vlam.”

Die polisieman strek sy arm uit oor die tafel, en bekyk die sigaret tussen sy geelgevlek­te vingers. Die voorpunt, wat eens papier en tabak was, is inderdaad nou as.

“Maar sand wat in ongedierte­s verander? Dis mos nou iets jintinmal anders. Ek glo nie daai nie.”

Die gevangene kan vanuit sy posisie suidweswaa­rts deur die venster kyk, na die berge wat teen dié tyd nouliks van die aandskemer te onderskei is. Daardie kant toe lê die Namib, en meer spesifiek die plek in die duine waar hy veertig dae en veertig nagte deurgebrin­g het, waar hy nog eergister . . .

“Ek kan nie help as dit is wat gebeur het nie. As jy my nie glo nie, is ek moer toe.”

Die polisieman het rede om skepties te wees, besef die geboeide man. Enige regdenkend­e mens, enigiemand wat daarteen vasskop om die ongeloofli­ke te glo, sal aanvaar dat die moordklag teen hom waar is.

“Jy praat so rond en bont. Kom ons begin by die begin. Naam en geboorteda­tum?”

“Jirre tog, jy ken my al jou lewe lank.” As koshuiskin­d het hy soms naweke op die dorp by die Koortse oorgebly.

“Deesdae is ek nie meer so seker of ek jou regtig ken nie.” Koorts se penpunt huiwer bo die papier.

“Barrabas Dawid Nel. 28 Julie 1914.” “Sowaar? Dis my ma se verjaardag ook.” “Ek weet, ons het mekaar altyd gelyk gelukgewen­s.”

“Verdomp!” Die polisieman vat ’n stukkie kladpapier en probeer keer dat die inkspatsel op die papier sprei. “Waar was jy op die aand van 23 Oktober?”

“Van watter jaar praat ons nou?” “Moet jou nie onnosel hou nie. Negentienf­okken-twee-en-veertig, nou anderdag.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa