Huisgenoot

MY SUSTER: MAG ONS INMENG?

-

Ons is vier sussies en almal in ons 50’s. Drie van ons is getroud en die oudste is baie vroeg in haar lewe geskei.

Ons het altyd beplan om ’n paar lande te besoek sodra die laaste een van ons se kind uit die huis is. Dit is nou sulke tyd. Maar ons ousus het begin dié kant toe en daai kant toe verskoning­s maak. Ons is goeie speurders en vind toe uit sy sien iemand.

Uiteraard het dit niks met ons te doen nie en sy sal met ons deel wat en wanneer sy wil. Die probleem is dat die man wat by haar kuier aan ons almal bekend is en hy is nou regtig nie die ridder op ’n wit perd nie. Hy is werkloos, praat baie groot en skuld heelwat mense geld.

Ons sus het ’n uitstekend­e werk, is finansieel baie sterk en leef totaal onafhankli­k.

Sy het sedert haar egskeiding ’n taamlik sterk afkeer in mans ontwikkel. Daarom is dit vir ons vreemd wat nou aangaan.

Ons is bang hierdie man is besig om ’n gat in haar kop te praat en dat sy dalk vir hom geld sal gee. Nog erger is dat hy haar dalk kan oorreed om te trou.

Mag ons inmeng? Ons is bang vir haar onthalwe.

Onder enige ander omstandigh­ede sou ek gesê het nee, julle mag glad nie inmeng in persoonlik­e verhouding­s nie.

Maar in julle geval is julle gewapen met inligting wat vir julle die rooi ligte laat flikker.

Daar is drie moontlike maniere om na dié werklose man in haar lewe te kyk:

■ As hy iemand is wat sy werk verloor het

Dan het hy ondersteun­ing nodig. Moedig hom aan om werk te soek.

■ As hy iemand is wat kies om ’n tuisbly-man te wees

Onthou, baie mans is uitstekend­e tuisbly-ouers of -lewensmaat­s.

Sorg dat hy sy kant ten volle in die verhouding en huishoudin­g bring. Maak seker die ander gade verdien genoeg om die situasie te regverdig. Neem in ag sulke huwelike is dikwels baie suksesvol.

■ As hy ’n leeglêer is wat op jou suster wil teer

So ’n ou dink die wêreld skuld hom iets. Hy is lui en ongemotive­erd. Hy kry vir hom ’n vrou wat finansieel sterk is, maar wat ook ’n sagte teiken is wat min weerstand bied. Vir haar gee hy elke verskoning onder die son oor hoekom hy nie werk nie.

Ek is seker jul sussie is op-enwakker en sal haar nie om die bos laat lei nie. As die hele dorp van die man se manewales weet, behoort sy ook daarvan te weet.

Ek stel voor julle kuier saam met haar en spreek jul kommer uit. Beklemtoon dit kom uit ’n plek van liefde.

Sy sal óf met julle deel hoe sake tussen haar en hierdie man staan óf sy sal nie.

Respekteer haar reaksie, maar die belangriks­te is dat julle daarna uit haar verhouding bly.

Dit is vir my mooi om te sien dat julle mekaar se belange op die hart dra.

’KUIER SAAM MET HAAR EN SPREEK JUL KOMMER UIT. BEKLEMTOON DIT KOM UIT ’N PLEK VAN LIEFDE’ – IRMA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa