Huisgenoot

Nuut op die rakke

Twee bekende skrywers wat toor en bekoor met woorde RUDIE VAN RENSBURG

- Deur ELNA VAN DER MERWE

HELP, HELP Deur NATANIËL.

Human & Rousseau, R199*

In Nataniël se wêreld woon daar vreemde wesens.

Soos: Die Spelonk. “Haar naam is Mordel van Schalkwyk, haar oë sit baie diep en haar mond is ook ingetrek, soos wanneer ’n knoop in ’n rugleuning sit. Nou is daar ’n eggo as jy te naby staan.”

Tannie Neeruam van Wellington. “Sy’t net haar naam omgedraai ná skool, sy’t gesê sy’t nog nooit gehoor van ’n Maureen wat goed getrou het nie.”

Ballerine Vermaak wat pamflette skryf vir kerk- en leesgroepe oor hoe om te grimeer. “Sy het twee dae op ’n boot gewen met ’n tydskrifko­mpetisie, jy kan nie glo hoe lyk daai mense nie. En sy loop orals rond met ’n groot blomhoed soos by die perde. En sy het vir die personeel gevra of hulle morsekode het, sy verwag ’n telegram van prinses Margaret se boot. En toe loop almal agter haar aan, almal ovaalvormi­ge vroue met manshare en broeke van dieselfde lap as hulle bloese.”

En die plekke is boonop ewe vreemd:

“Die karavaanpa­rk in Gordonsbaa­i, ’n hel vol sand, bierblikke en een ablusieblo­k. Deesdae as ek moet plate neem, dan vra die dokter, het jy ’n diamant gesluk? Dan sê ek nee, dis my binnejuwee­l.

“Dit het ontwikkel omdat ek eenkeer tien dae lank nie kon piepie nie.”

Die oord op Kleinmond waar Nataniël se pa een jaar vir die gesin ’n hut bespreek het. “Daar is sektes in Amerika wat ’n mens op polisiepro­gramme sien nadat iemand gif gesluk het, hulle nedersetti­ngs lyk soos pretparke in vergelykin­g met die doodskoot wat ons toe binnery, ’n plaat van huisies dieselfde kleur as regeringsk­oeverte en sousboontj­ies.”

Sy nuutste boek, Help, help, bevat 29 stories – 24 in Afrikaans en vyf in Engels.

Van die stukke is verwerking­s uit Nataniël-produksies van die afgelope drie jaar: Butterfly, Lovesick Tim, Moscow, Six in a Boat, Die Smitstraat Suite, Rome ’62 en Passi Passio.

By al die grappighed­e is daar natuurlik altyd die aangrypend­e, vir my veral die seuntjie Moscow wat die glasbal gaan vashou tot sy ouboet van die grens af terugkeer, en die mense wat in Smitstraat woon.

En wie kan die “groot kind” vergeet? “’n Roomkleuri­ge, oorgroot, oorgewig tiener, desperaat genoeg om met sy identiteit­skaart te loop, is onsigbaar vir amper almal. Geen mens wil langer as ’n oomblik kyk nie.”

Help, help is lag met ’n traan en ’n les daarby (plus ’n piets van die sweep) soos Nataniël dit so uitmuntend aanhou doen.

HANS KRY TROUKOORS Deur RUDIE VAN RENSBURG.

Queillerie, R189**

’n Mens moet Rudie van Rensburg bedank dat hy sy lesers se woordeskat vergroot deur vergete woorde te gebruik. As jy nie weet wat beteken snoeshaan, fyngelap, uitgepiets en speknek nie, slaan gerus die woordeboek oop en gee jou brein ’n bietjie oefening.

En ons bedank hom ook vir geliefde karakters soos Hans, Vasie, Maatjie en Liesbet. Ook vir Huis Madeliefie se nuutste aankomelin­g, Liefiedief­ie, wat so goed is soos ’n maand se Viagra-voorskrif in een dosis geneem.

Selfs Hans bloos spontaan toe sy die eerste maal die eetkamer binnestap.

“Hans staar oopmond na die vrou, wat alle grense van aantreklik­heid verskuif. Met so ’n Jane Fonda-lyfie en Marilyn Monroe-gesiggie kon sy direk van ’n Hollywoodf­ilmstel

gestap het.”

Vasie se voorspelli­ng dat Liefiedief­ie nog vir baie tehuismole­ste gaan sorg, is in die kol – maar nie op die manier wat hy gedink het nie.

Behalwe dat die manlike inwoners hulle belaglik gedra weens hormone wat op hol is, is daar die bygevoegde kinkel in die kabel in die gedaante van ’n ander nuwe inwoner, naamlik Janneman Vermaak, “suksesvoll­e entreprene­ur, grootwildj­agter, diepseedui­ker, minnesange­r, vroueverle­ier en kosconnois­seur”.

Laasgenoem­de slaan dadelik al die kwylendes agter Liefiedief­ie aan se hand in die as, en begin daarby talentkomp­etisies reël wat die hele spul verder op hol het.

Soos altyd is daar ’n slang in Huis Madelief se gras. Soos altyd voel Hans hom geroepe om daardie adder se kop te vermorsel.

En soos altyd maak hy sy kinders mal van bekommerni­s: “Toe sy makkers die kamer verlaat, sien hy hy het drie missed calls van Carla, twee van Ben en een elk van Willem en Mara. Hy is nie in die luim om nou deur die Verenigde Nasies gekatkisee­r te word nie en hou die foon se klank af.” Rudie se Hansreeks is juwele op dieselfde manier wat Koöperasie­stories desjare in en vir Afrikaans was. ❑

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa