Huisgenoot

EK VREES MY SUS SE EMIGRASIE

-

V My sus emigreer met haar gesin.

Eers het sy so deur die jaar laat val dat dit ’n groot moontlikhe­id is en dat sy voelers uitsteek. Nou is dit amptelik, maar sy het nog nie ons ouers ingelig van haar planne nie. Haar kinders is die enigste kleinkinde­rs en dit gaan ’n slag vir ons ouers wees. Albei is nie ver van hul 70’s nie, en veral my pa se gesondheid is nie van die beste nie.

Ek is eers onlangs in my 40’s getroud, daarom is bykomende kleinkinde­rs buite die kwessie. Om sake te vererger vlieg hulle drie dae voor Kersfees sodat sy in die nuwe jaar kan begin werk.

My ouers sal nooit vir hulle kan gaan kuier nie, ek is bevrees dit mag dalk die laaste keer wees wat ons as familie saam tyd deurbring.

Hierdie gebeure gaan moontlik ’n terugslag in my ouers se gesondheid veroorsaak. Wat kan ek doen om dit meer hanteerbaa­r te maak vir hulle?

A Emigrasie is vir niemand maklik nie. Dit is ’n uitdaging vir dié wat gaan en vir dié wat agterbly.

Jou moet ouers so gou moontlik weet. Hoe langer jou sussie wag, hoe stresvolle­r raak dit vir julle almal. Oor die algemeen is die uitwerking as volg:

● Dit is ’n groot verlies, vir sommige amper soos die dood.

● Dit veroorsaak baie hartseer.

● Sommiges sê dit breek hul hart.

● Party mense word kwaad.

● Party voel weggegooi.

● Dit kan tot depressie lei.

● Moontlik raak hulle bekommerd oor hoe hulle nou hul oudag gaan hanteer.

Baie ouers onderdruk hoe hulle voel, want hulle wil nie hul kinders bekommerd maak nie. Dit is nie gesond nie en julle moet verwag dat hulle ’n soort routydperk sal deurmaak.

Van die hanterings­meganismes wat beskikbaar is, is Skype, Zoom, WhatsApp en foonoproep­e om gereelde kontak te behou. Daar kan ook berading vir jou ouers gereël word indien jy bekommerd is oor hoe hulle die situasie hanteer. Moenie dat hulle ná die tyd te afgesonder­d leef nie. Moedig hulle aan om ’n aktiewe sosiale lewe te hê.

Wees altyd positief tydens kontak met jou sus-hulle, want hulle moet aanpas en ekstra kommer sal dit moeiliker maak.

Een van die groot lekkertes uit ons ouer garde se kinderjare was om ’n pakkie van ouma en oupa te ontvang. Jou ouers kan dit gerus laat herleef. Nie net sal hulle opgewonde kan raak oor wat hulle stuur nie, hul kleinkinde­rs sal ook opgewonde wees oor tasbare geskenke van hul grootouers af.

Laastens, maak ’n voorstel dat julle voor jou sus se vertrek Kersfees saam vier. Dit behoort te help om die seer in die regte Kerstyd ’n bietjie te verminder. Hoewel duisende gesinne hierdeur gaan, is dit vir elke familie traumaties. Pas jou ouers op in dié brose tyd.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa