Huisgenoot

’ N BESIGE MAAND VIR VULKANE

-

In November was daar in vier lande baie sigbare vulkaniese aktiwiteit.

In Italië is opgelet dat Campi Flegrei, ’n “supervulka­an” naby Napels, besig is om te ontwaak. ’n Vulkaan “ontwaak” wanneer nuwe, warm magma na die oppervlak deurdruk. Campi Flegrei is een van 20 supervulka­ne op Aarde. ’n Supervulka­an is een wat lawa en as op ’n massiewe skaal uitspoeg wanneer dit uitbars. Daar gaan gewoonlik duisende jare verby voor ’n supervulka­an weer aktief word. Die laaste keer dat Campi Flegrei uitgebars het, was in 1538.

Ook die vulkaan Etna, 700 km weg, in Sisilië, het begin uitbars.

In Ysland moes die dorpie Grindavik, ’n uur buite die hoofstad, Reykjavik, ontruim word nadat ’n 15 km lange magmatonne­l daar naby begin vloei het. Mense het net vyf minute gehad om hul troeteldie­re en besittings te gaan haal.

Daar was deurgaans klein uitbarstin­gs wat die magma verder aangestoot en die grond verswak het. Die aktiwiteit het ’n skeur in die middel van ’n pad op die dorp gelaat. Wetenskapl­ikes sê as die vulkaan uitbars, sal daar lawa uitvloei, maar ’n aswolk sal nie vorm nie.

In Mexiko het owerhede ook waarskuwin­gs begin uitstuur nadat die Popocatépe­tl-vulkaan begin as spoeg het. Dis een van die aktiefste vulkane in Mexiko.

Intussen het Japan ’n nuwe eiland bygekry nadat ’n uitbarstin­g aan die kus van Tokio gelei het tot die vorming van ’n nuwe stukkie land. Dit is naby die eiland Iwoto. Vulkaniese aktiwiteit is volop in die gebied, maar die vorming van ’n nuwe eiland is ’n seldsame gebeurteni­s.

Van die 1 500 aktiewe vulkane in die wêreld, is 111 in Japan. Die land is geleë in die sogenaamde “Ring van Vuur”, ’n groot gebied reg rondom die Stille Oseaan waar baie vulkaniese uitbarstin­gs en aardbewing­s voorkom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa