Huisgenoot

DHL vir Kersfees

Ver van almal sit Mariaan die Kerstyd en omwens, tot die aflewering opdaag

- Deur THILDE NEL Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

MARIAAN hang die silwer ster heel boaan die Kersboom en staan tevrede terug. Sy skakel die liggies by die muur aan. Die boom lyk kleurvol en feestelik.

Haar hart krimp momenteel ineen. Vanjaar gaan sy die feestyd op haar eentjie in. Frik se dood aan die begin van die jaar was ’n geweldige skok. Vlak in sy sestigs! Wat sake vererger het, was dat Danie en ’n hoogswange­r Helene se planne om Engeland toe te emigreer toe reeds in plek geval het. Dat haar enigste seun ooit die stof van die Hoëveld van sy plaasskoen­e sou afvee, het sy allesbehal­we verwag.

Aan die begin van hierdie jaar is hulle toe vort. Voor hy oorsee is, het hy vir haar ’n simpleks op die dorp gekoop. “Met alles wat deesdae op plase gebeur, soek ek Ma nie alleen op die plaas nie. En ek gaan veels te ver wees om nog daaroor ook bekommerd te wees.”

Hulle het ’ n bestuurder aangestel sodat die boerdery sonder Mariaan se teenwoordi­gheid kon aangaan. Die inkomste uit die plaas hou haar maandeliks meer as aan die gang, maar dit help nie teen die eensaamhei­d nie. Sy was nog nooit werklik sosiaal nie, ook nie as kind nie, en hoewel daar allerhande klubs en dinge is waarby sy op die dorp kan inskakel, hou sy maar van haar eie geselskap.

Maar dis op aande soos vanaand dat die werklikhei­d haar tussen die oë tref. Sy sal ’n bietjie uit haar dop moet kruip, iets soos ’n sopkombuis moet begin sodat sy nie van eensaamhei­d vergaan nie. Danie en Helene het ’n lewe doer oorkant die blou see, en die kans dat hulle gaan terugkom, is klein. Hulle doen moeite om haar in te sluit in hul doen en late, en sy kan haarself nie so oorgee aan die verlang nie.

Onder die Kersboom lê Danie-hulle se geskenke reeds toegedraai vir wanneer hulle volgende jaar Junie kom kuier. Die string liggies wat sy om die boom drapeer het, flikker ritmies sodat die ster aan die bokant kortkort skitter. Sy glimlag. Basta. Alleenwees beteken mos nie haar lewe hoef kleurloos te wees nie.

Sy draai om. Dis tyd om kos aanmekaar te slaan. ’n Vis en slaai is net die regte ding vir ’n warm aand in Desember. Sy plaas ’n enkele mootjie stokvis in haar outydse lugbraaier en staar gehipnotis­eer na hoe die stukkie vis ál in die rondte draai onder die geel liggie. Amper soos ’n kermis-karousel, hoewel die musiek en feestelikh­eid ontbreek.

Wanneer die stukkie vis se ruggie begin verbruin, haal Mariaan koeëlronde kersietama­ties, wit kaas en blaarslaai uit die yskas en breek als in ’n bord. Sy spuit solank balsemieke asyn op die slaai sodat sy net die vissie kan bysit wanneer hy gaar is. Danie-hulle gaan netnou bel, en sy wil teen daardie tyd klaar geëet wees.

Die tydsverski­l van twee ure tussen Suid-Afrika en Engeland is hanteerbaa­r. Dis beter as die arme Amalia wie se kinders in Toronto sit. Vir haar kos dit fyn beplanning om met hulle in Kanada te kommunikee­r. Wanneer Amalia soggens lus is om te gesels, slaap haar kleinkinde­rs nog.

Bets sit met dieselfde probleem. Haar kinders woon in Australië, en om ’n gemaklike tyd te kry om met hulle te gesels, is byna onmoontlik. Bets het al gekla dat sy kan voel hoe haar verhouding met die kleinkinde­rs besig is om soos seep deur haar vingers te glip.

Sy loer na die karousel. Nog ’n minuut of twee se omwentelin­gs voor die vissie gereed is. Sy draai terug yskas toe om vir haarself ’n glas droë witwyn te skink.

Die volgende oomblik versteen sy toe die verskrikli­kste klank deur die kombuis sny soos ’n saag.

Gereed om die indringer aan te vat, swaai Mariaan om, maar dis net sy en die lugbraaier in die kombuis. Hy en sy inhoud bly feestelik draai. Die glaswand vertoon egter ’n massiewe kraak sodat die enkele vissie skoon verwronge lyk.

Toe die klokkie lui om aan te dui die vis is gereed, lig Mariaan die deksel versigtig op en haal die mootjie uit. Hoewel die bak nog in een stuk is, weet sy dis tyd vir ’n nuwe een.

BORD in die een hand en wyn in die ander, stap sy uit op haar stoep. Toe Danie die simpleks gekoop het, was dit haar enigste voorwaarde. Sy sou die plaas groet, maar sy soek ’n plekkie met ’n stoep en tuintjie sodat sy kan asemhaal.

Voor sy kan sit, lui haar selfoon in haar sak. Dis Danie se luitoon. Sy sit vinnig haar wyn op die buitetafel neer en antwoord. “Hallo, my kind. Ek het gedog ek gaan gou klaar geëet kry voor julle bel!”

Hy lag lekker. “Ma bly vergeet ons het in Oktober ’n uur teruggeval.”

Mariaan kry haar sit en neem ’n slukkie wyn. “Ek besef, my kind. Maar ter verdedigin­g, ek hét netnou in die kombuis aan die tydsverski­l gedink en dankie gesê omdat ek in ’n beter posisie met julle in Engeland is as die stomme Bets met die klomp Australiër­s.”

Danie lag. “Ja, twee uur is darem nie te erg nie. Net ’n oomblik, seblief Ma.” Hy roep weg van haar oor af: “Jy en Lambert reg, Helene?” Dan in Mariaan se oor. “Al eet Ma, kan ons maar oorgaan op video?”

Toe Mariaan die uitnodigin­g om oor te gaan op beeld aanvaar, is sy net betyds om te sien hoe Helene met haar enigste kleinkind ingestap kom.

Haar hart word warm. “Ag hemel, Ouboet, dis dan net sy ogies en neusie wat uitsteek!”

“Ouma, hierdie man word warm aangetrek. Dis lekker koud en reënerig hier.”

Mariaan prop ’n stukkie kaas en een tamatie in haar mond en geniet die klein ontploffin­g van koue pitjies teen haar verhemelte. Sy maak haar oë momenteel toe. “Ek mis julle só, Ouboet. Teen die tyd dat ek my enigste kleinseun die eerste keer volgende jaar ontmoet, lees hy al amper.”

Danie lag weer. “Darem nie, Ma, hy gaan teen daai tyd nog heerlik werk aan potent doeke wat sy ouma gaan moet omruil.”

In die venster agter die gesinnetji­e hang ’n enorme, spierwit ster waaruit ’n sagte lig skyn. Die prentjie is vir Mariaan so mooi dat sy skoon trane in haar oë kry. Sy vee vinnig oor haar wang en kyk sitkamer se kant toe. Haar eie Kersboom lyk darem self spoggerig.

Danie het intussen vir Lambert op sy skoot getel sodat hy ook met sy ouma kan “praat”. “As Ouma nou een geskenk dié Kersfees wil hê, wat sal dit wees?”

Mariaan lig haar glas. “Watse vraag is dit, Ouboet? Natuurlik dat julle sal kom kuier. Maar ek weet jy werk, so ek troos my daaraan dat julle volgende Junie kom. Solank julle my net op Kersdag bel, is ek tevrede.”

Haar keel is dik, en om die oomblik ligter te maak, sê sy: “Daar is tóg iets.”

Helene lag. “In daardie geval gaan Ma twee geskenke kry, want ons het vir Ma ’n nuwe lugbraaier bestel. Ek het verlede week vir Danie gesê dis ál wat Ma gebruik, en Ma s’n is uit die oude doos. Ek is verbaas dat hy nog werk!” Haar lag is klokhelder.

Mariaan gee die stryd om haar trane terug te hou gewonne. “Ai, Leen, dis presies wat ek nodig het. My lugbraaier het vanaand gekraak, maar genadiglik nie gebreek nie!”

Helene kyk na Danie. “Sien? Ek het jou gesê.”

Danie soen haar voorkop. “Hierdie vrou van my is darem iets anders, nè, Ma?” Hy tel sy seun op sy skoot en soen sy neusie. “Dis dan presies wat Ouma vir Kersfees gaan kry, nè, Lammie?” Lammie skud sy armpies entoesiast­ies op en af en Danie sê: “Laat dit in my hande, Ma, ek sal aanlyn bestel en DHL sal dit kom aflewer. Ek sal laat weet wanneer sodat Ma by die huis kan wees. Hoe’s daai?”

‘ALLEENWEES BETEKEN MOS NIE HAAR LEWE HOEF KLEURLOOS TE WEES NIE’

DIS drie dae voor Kersfees, en Mariaan sit op haar stoep. Danie het laat weet DHL se track & trace-funksie wys dat die lugbraaier vanoggend afgelewer word. Sy’t besluit sy gaan dit plegtig toedraai en by die kinders se geskenke onder die Kersboom neersit. Wanneer Danie-hulle dan op Kersdag bel, sal sy dit oopmaak.

Haar foon lui. Dis die kompleks se hek. “Delivery, Ma’am.”

Eindelik. Mariaan druk ’n nommer op haar foon en stap sitkamer toe om die aflewering­sman in te wag. Sy sluit solank die houtdeur oop, maar hou die sekuriteit­shek gesluit. Sy sien die ou uitklim met die geweldige kartondoos, bloedrooi strik en al. Die posgeld moes Danie ’n fortuin gekos het.

Sy sluit die sekuriteit­shek oop toe hy naby is. “Thank you, I really appreciate this delivery. Please, put it right there.” Sy beduie na die Kersboom se kant toe. Terwyl hy die pakkie neersit, grawe sy in haar beursie vir ’n geldjie om vir die arme man te gee.

Maar wanneer hy by die Kersboom bly staan, kyk sy op – vas in haar kind se oë. Sy versteen en begin summier huil.

Danie glimlag en kom sit sy arms om sy ma. “Ma het tog seker nie gedink ons gaan die Kersete mis nie! Ek het mos gesê DHL sal kom aflewer, en hier is ons nou – Danie, Helene en Lambert.”

“Ai, Ouboet . . .” Sy kry nie ’n woord uit nie, vat net die babalyfie wat Helene, wat intussen ook ingekom het, na haar toe uithou. Sy druk Lambert so lank teen haar vas dat hy begin kriewel.

Danie sit sy arm om haar skouer. “Kom, Ouma, die man het ’n meneer van ’n doek vir Ouma om te ruil.”

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa