Huisgenoot

MENSE OORDEEL MY OMDAT EK SKEI

-

Dit is my tweede huwelik. Net ’n maand ná ons troue het ek my man in ’n buite-egtelike verhouding betrap.

Vir my was dit ’n uiters moeilike pad van vergifnis en herstel. Ek het steeds in ’n goddelike ingryping geglo.

Ek was op 40 selfs bereid om swanger te raak sodat my man ’n kind van sy eie in ons huis kon sien grootword.

Dit is nou ses jaar later, en toe doen hy dit weer. Hy het in sy eerste huwelik ook rondgeloop en ek vermoed sterk dat hy my meer as net twee keer verkul het.

Ek het hom reeds ná daardie eerste verhouding gewaarsku dat ek hom sal los as dit weer gebeur, en wel, dit is presies wat ek nou besig is om te doen.

Ek en my kinders verdien beter. Ek kan nie meer leef met die wete dat nie net ons huwelik nie, maar soveel ander dinge in die slag bly as gevolg van hierdie gedrag van my man nie.

Soveel mense stel nou voor dat ek hierdie dinge eerder saam met my man moet uitwerk. Waarom dink mense wanneer ’n vrou vir haarself opstaan, beteken dit sy is koud?

My kinders gaan nie sien hul ma is ’n slaansak nie, want dit is presies hoe ek tans voel; ek word emosioneel mishandel.

Oordeel mense my dalk omdat dit maar so gaan in hul huise ook?

Aan die een kant wil ek dit beaam en sê ja, die meeste mense leef met ’n blinde oog vir die sondes van hul lewensmaat­s. Maar aan die ander kant is daar miljoene huisgesinn­e waar wedersydse respek en vertroue belangrik is en die botoon voer.

Jy is deel van die groep wat ’n gesonde morele kompas het. Jou man se ontrouheid in sy eerste huwelik was eintlik ’n flikkerede rooi lig waarop jy moes ag geslaan het.

Dit is egter ook waar dat ons as vroue altyd glo met ons sal dit anders wees, dat jy ’n man kan verander.

Geen mens kan egter vir ’n ander een verander nie. ’n Mens kan ook nie aan jouself werk as jy nie erken jy het ’n probleem nie.

Jy het die volste reg om sekere vereistes aan ’n lewensmaat te stel, veral as dit bevorderli­k is vir die standaard waarvolgen­s julle graag as ’n gesin wil funksionee­r.

Jy het voorheen gewys dat jy nie onredelik is nie, en met jul eerste groot probleem het jy alles gedoen om jul huwelik staande te hou. Jy is geen verduideli­king aan familie of vriende verskuldig oor enige besluit wat jy aangaande jou huwelik neem nie. Natuurlik mag jy hulle ook vra om hul neus uit jou sake te hou.

Jy noem nie wat jou man se reaksie op jou besluit is nie; nietemin, behou jou waardighei­d, verseker jou kinders van jou liefde, en doen wat die beste is vir julle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa