Huisgenoot

Kersfees, vonke en vuurwerke

Carla moet iemand saamneem na haar familie se Kersete – maar daar’s net een mens wat ál haar liggies aanskakel

- Deur ELSA WINCKLER Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

VIES sit Carla haar foon neer en spring so vinnig op, die krammasjie­n val en papiere spat oor haar lessenaar.

Hoekom het sy nie net stilgebly soos wat sy gewoonlik doen nie? Hoekom uitblaker sy hét ’n man ontmoet net om haar ma stil te kry?

Nou wil Ma die man sien. Môre met Kersfees.

Dis asof Nick van Deventer, die hoofkarakt­er in elke liewe droom sedert sy nege maande gelede as sy persoonlik­e assistent begin werk het, vandag ekstra werk op haar gelaai het.

Almal is al huis toe, behalwe hy en daarom sy. Stapels werk lê nog en wag; waar kry sy iemand om op so kort kennisgewi­ng te nooi?

Hoekom karring haar ma deesdae weer so sy moet trou? Ná vele vervelige, eienaardig­e, hopelose afsprake met die teenoorges­telde geslag het sy besluit sy gaan nié weer date as die man nie minstens een liggie by haar aanskakel nie. En daar moet darem ’n beduidenis van ’n vonkie tussen hulle wees.

Wat sy natuurlik vir niemand kan vertel nie, is dat sy wél eindelik ’n man raakgeloop het wat nie net een nie, maar elke liewe liggie by haar aanskakel. Die probleem is net, hy is haar baas; hy kyk nie eens in haar rigting nie, blaf net bevele en stuur e-posse met opdragte.

Haar foon lui. Dis Marlene, haar oudste suster. Natuurlik met haar ma gesels.

Nick se kantoordeu­r is toe. Sy antwoord.

Marlene groet nie. “Wie is die man wat jy môre saambring? Wanneer het dit gebeur en hoekom weet ek en Sandra nie?”

Carla kreun. “Natuurlik is daar nie ’n man in my lewe nie; ek werk 24/7. Al mans wat ek sien, is my kollegas.” “En jou baas?”

“Wel, uhm . . .”

Marlene lag. “Ha! Daar is dit weer. Jy stotter wanneer jy van hom praat.” “Ek st- ek stotter nie; moenie laf . . .” “Jou oë blink, jy bloos en jy stotter wanneer jy oor hom praat. Ek en Ma en Sandra sien dit al ’n geruime tyd. Die rede vir al Ma se vrae.”

“Julle is laf. Nick is . . .”

“Nick, nè?”

“Almal by die werk noem hom so.” “So, is daar vonke tussen julle?” Carla sluk ’n volgende kreun in. “Nee, Marlene, daar is nie vonke nie. En nee, ek het nie ’n date vir Ma se Kersete môre nie, en ek het ook nie tyd om een te soek nie. Sien jou môre!”

“Maar . . .” begin Marlene, maar Carla het reeds die foon doodgedruk.

“Daar’s nie vonke nie, Sussa, maar bleddie vuurwerke,” brom Carla en gaan weer sit.

Eers toe sy na haar rekenaar opkyk, vang sy die beweging uit die hoek van haar oog. Nick staan in die deur, sy hande in sy broeksakke, ’n effense glimlag op sy gesig.

Sy raak koud. Hoeveel het hy gehoor? “Uhm . . . dit was my suster.”

“Ek is môre beskikbaar,” sê hy. “Middag of aand?”

Carla staar na hom. Waarvan praat die man? “Beskikbaar?”

“Dis nie ’n moeilike vraag nie, Carla. Die date wat jy vir môre nodig het – vir middag- of vir aandete?”

Eindelik werk haar breinselle weer. “O, nee!” keer sy vinnig. “Dankie, maar ek sal regkom.”

“Ek is die een wat jou 24/7 laat werk. Hoe laat?”

Desperaat spring sy op. “Nick, regtigwaar . . .”

“Middag of aand?”

“Middag, maar . . .”

“Kry jou halftwaalf. Is die probleme by die Eppingstoo­r opgelos?”

“Ja . . .”

Sy kry een van daai knieknakke­nde glimlagte van hom. “Baie dankie. Ek het geweet jy sal ’n oplossing vind.” Hy kyk op sy horlosie. “Jy kan gerus gaan sodra jy klaar is. Ek sien jou môre. Jou bonus is inbetaal.”

Dis die eerste woord wat sy vanjaar oor ’n bonus hoor. Sover sy weet, het niemand anders in die maatskappy een gekry nie. “Bonus?”

“Jy verdien dit. Ek kan nie sonder jou nie.”

Hy draai weg, maar nie voor sy iets sien wat sy sweer ’n glimlag is nie. Sy knip haar oë, maar Nick het sy kantoordeu­r reeds agter hom toegemaak.

FRONSEND staar sy na die toe deur. Baie vreemd. Nick glimlag nooit nie, en hy praat selde direk met haar – iets wat haar goed pas. Daai vonke maak dit moeilik. Sy kan hom beslis nie saamneem na haar mense se Kersete nie; dis heeltemal belaglik. Die Van Deventers van hierdie wêreld meng nie met Sonnekusse nie – dis só eenvoudig.

Buitendien, hoe verduideli­k sy haar loud en sonder-filters-familie aan iemand soos haar baas?

Sy sal ’n e-pos stuur om te sê dankie, hy hoef nie saam te kom nie.

Eers toe sy aan die einde van die dag haar lessenaar regpak, sien sy dit – die knoppie van die interkom na Nick se kantoor is aan.

Wanneer het dit gebeur? Hoeveel van haar en Marlene se gesprek het hy gehoor? Hy’t geweet sy soek ’n date, maar dit kon hy hoor toe hy die deur oopgemaak het. Waaroor het sy en Marlene alles gepraat?

Vonke en o, flip, het sy nie ook hardop oor die vuurwerke tussen haar en Nick gebrom nie?

NET voor Carla die voordeur van haar ouers se huis oopmaak, kyk sy die eerste keer weer na Nick. Van die oomblik dat sy haar voordeur oopgemaak en hom gesien het, is haar mond kurkdroog. Hy het hom nie aan haar e-pos gesteur nie.

Sy kon die hele pad tot hier nie ’n woord uitkry nie. Die klein ruimte in sy sportmotor het met elke kilometer gekrimp tot sy later van niks anders bewus was as sy mooi hande op die stuurwiel nie.

Haar stembande werk nou eers weer. “Net ’n waarskuwin­g: My ma is mal oor Kersfees.”

Hy lig ’n wenkbrou. “Meer as jy?”

Sy lag. Hy was duidelik verras deur haar Kersboom en die paar Kersversie­rings. “Baie meer.”

Voor sy die deur kan oopmaak, vlieg dit oop en haar ma verskyn in die deur, uitgedos in ’n bloedrooi rok.

“Carla, my liefkind,” groet haar ma en omhels haar soos altyd voor sy na Nick draai. “En is dit die man wat jou ogies deesdae laat blink?”

“Mamma,” kreun Carla blosend. “Nick is my . . .”

Nick glimlag en steek sy hand uit. “Ek hoop so.”

Haar ma maak haar arms wyd oop. “Dan kan ek maar vir jou ’n drukkie gee. Ek wag al baie lank vir die regte man vir haar. Kom in!”

CARLA vermy Nick se oë terwyl sy hom aan die res van haar groot gesin voorstel. Sias probeer natuurlik om Nick se hand te vergruis soos wat hy gewoonlik doen met enige man wat sy susters huis toe bring, maar Nick trek nie ’n spier nie.

Teen die tyd dat hulle om die tafel gaan sit, het Marlene en Sandra gelukkig nog niks onbehoorli­ks of onvanpas gesê nie. Maar haar susters se vonkelende oë vertrou sy net glad nie.

“Ons vat hande,” sê haar pa en steek syne na weerskante uit.

Carla knyp haar oë styf toe en laat sak haar kop voor sy haar hande baie effens na die kante uitsteek.

Sias vou sy hand om haar regterhand. Sy trek haar linkerhand effens terug. Gelukkig wil Nick nie hande vashou nie.

Die volgende oomblik tel hy haar hand op. Elektrisit­eit knetter hoorbaar. Hy vleg sy vingers deur hare. Haar asem raak eenvoudig weg.

“. . . Amen.”

Sias los haar hand en sy probeer haar hand uit Nick s’n trek, maar hy hou net stywer vas en laat sak hul hande saam tot op sy been. Weer kraak elektrisit­eit hoorbaar.

“Baie statiese elektrisit­eit in die vertrek,” lag haar ma.

“Omtrent vonke,” sê Sandra ewe sedig. “Wel, Nick,” begin Marlene, en Carla probeer vir haar met haar oë beduie om stil te bly.

Haar oudste suster ig - noreer haar. “Ons Carla soek al haar lewe lank na iemand by wie die vonke spat. En nou lyk dit vir my op hierdie Kersfees is daar meer as Kersliggie­s aan die tafel.”

Nick draai sy kop en vang Carla se oog. “Vonke?” Hy skud sy kop. “Dis nie hoe ek dit sal beskryf nie.”

Dis doodstil om die tafel. Haar pa se oë vernou; almal se glimlagte verdwyn.

“Dis eerder,” sê Nick en lig haar hand tot by sy mond, “. . . vuurwerke.”

Hy buk na haar toe oor. “Ek is so bly die interkom was aan, anders het dit my dalk nog ’n jaar gevat om my moed bymekaar te skraap.”

Hy buk af en soen haar, sommer so voor almal.

Êrens buite ontplof vuurwerke.

‘ONS CARLA SOEK AL HAAR LEWE LANK NA IEMAND BY WIE DIE VONKE SPAT’

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa