Huisgenoot

WIL NIE SONDER MY MAN LEEF

- VRA VIR IRMA

Skryf gerus vir my oor jou sake van die hart of moeilike persoonlik­e kwessies. Ek beantwoord hier vrae en briewe van lesers en gee graag raad. Ek sal nie jou naam bekendmaak nie, en jou identiteit bly vertroulik. Skryf vir my by: Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of stuur ’n e-pos na vravirirma@gmail.com of SMS Vra vir Irma gevolg deur jou vraag na 36489.

Ek het hulp en raad nodig, maar daar is nie geld vir hulp nie en ek het min tyd tot my beskikking.

Dis nou al 11 maande sedert my man se dood. Ek is moeg vir alleen wees en moeg om so na hom te verlang. Selfs ons vriende wat ons eens gehad het, is weg.

Ek het reeds maande terug ’n afskeidsbr­ief geskryf, maar byt vas ter wille van my volwasse kinders en my pa. Ek het die seer gesien wat my pa beleef het met die dood van een van sy dogters en dié van my man. Ek wil nie daartoe bydra nie.

Met my man se dood het ek alles verloor wat vir my belangrik was, naamlik liefde en geluk. My lewe bestaan uit werk, huis en huil. Hoe oorleef ek dit?

Ek is nou vier jaar ’n weduwee – die raad wat ek jou gaan gee, kom uit my hart en met ondervindi­ng.

Natuurlik vra jy vir jouself: Wat maak ek nog hier? Die gemis en pyn is oorweldige­nd.

Soms staan jy nie eens uit die bed uit op nie. Dae lank eet jy nie, want jy kook nie meer vir jou man nie. Die stilte in jou huis maak jou mal. Jy begin sommer spontaan huil op die vreemdste tye en op enige plek.

Dit is heeltemal normaal. Dit sal met tyd beter word, en jy sal leer om weer te leef met jou nuwe normaal as ’n weduwee.

Vir jou spesifiek raai ek aan om dádelik die volgende te doen:

■ Skakel 0800-567-567 vir die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep, wat 24 uur per dag gratis hulp aanbied.

■ Raak betrokke by ’n hulpbehoew­ende entiteit. Om te gee neem die fokus weg van die trauma wat jou lewe oorgeneem het.

■ Hou aan werk toe gaan. ’n Vaste roetine anker jou in die oomblik.

■ Wees sag met jouself. Die rouproses het sy eie tyd en verskil van mens tot mens.

Later kan jy weer sosialisee­r. My grootste oorwinning was toe ek in ’n restaurant alleen kon eet sonder om uitmekaar te val. Dit sal vir jou kom.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa