Huisgenoot

EK MAG NIE MY KIND SIEN NIE

-

Ek wil graag uitvind wat is ’n man se regte om sy eie kind te sien? Ek het my dogter meer as ’n jaar laas gesien en nog net een keer met haar oor die foon gepraat toe sy verjaar het. Die kind se ma en ouma weier kontak met haar. Wat kan ek doen? Help my asseblief.

Dit is inderdaad ’n hartseer saak wanneer ouers nie kontak met hul kinders kan hê nie.

Die eerste ding wat ek wil aanpak, is die invloed wat dit op jou dogter het. ’n Meisie se verhouding met haar pa is ’n groot faktor in hoe sy eendag oor die manlike geslag gaan voel. Ook hoe sy oor haarself voel en watter kaliber mans sy in haar lewe gaan toelaat al dan nie. Sou sy ’n toksiese verhouding met haar pa beleef, is die kans baie goed dat dit haar selfbeeld sal knou.

As julle geskei is, sou die Kinderhof ’n ouerskaps program saam met jou en jou vrou opgetrek het wat albei partye verplig sou wees om te volg. Het julle so iets in plek? Indien nie, raai ek jou aan om die Kinderhof so gou moontlik te nader vir hulp.

Kontak met ’n ouer sal slegs verbied word as daar bewyse is van mishandeli­ng, seksuele misdrywe, verwaarlos­ing, of as die ouer verslaaf is aan drank of dwelms.

Die hof in ons land is baie ernstig oor kinders se welsyn. Kin der vervreemdi­ng word nie geduld as daar nie ’n rede voor is nie. As ’n ouer enige kind se toegang tot die ander ouer weier uit ’n gevoel van weerwraak of om die ander party emosioneel te straf, kan die gevolge baie onaangenaa­m wees. Óf ’n stywe boete óf tronkstraf kan opgelê word.

My raad aan jou is dus om regshulp te bekom en die regte kanale in die Kinderhof te volg. As koste ’n probleem is, kan jy die regshulpra­ad nader, wat vir jou ’n gratis prokureur kan voorsien.

Ek hoop jy kry hulp en ’n oplossing hiervoor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa