Kersfees op Kersbos
Met ’n paar beenaf vryers en ’n afbeen Kersvader
HIERDIE vakansiehuis gaan stampvol wees, dink Alta toe sy die foon neersit. “Dit was Cecile; hulle gaan ook Kersbos toe vir Kersfees.” “Duinehuis het plek vir baie mak skape,” antwoord Conrad. Dit gaan nogtans ’n uitdaging wees. Veral wat hul tweeling betref. Lila en Lizette wou eerder saam met hul maats matriekvakansie gaan hou, maar Conrad het sy voet neergesit. Hy laat nie sy meisiekinders onder sy oë uit nie.
Dan is daar haar ma, die matriarg. Ouma See, noem die kleinkinders haar. Haar verstand is nie meer helder sedert haar man se dood vroeër vanjaar nie. Daarom wil almal dié jaar om haar laer trek.
“Waar is julle skaap?” is Ouma se standaardverwelkoming wanneer die kinders daar aankom. Die huis is groot genoeg; die kos moet ook genoeg wees, dan is Ouma se wêreld reg.
Eerste op die agenda is die versiering van die Kersboom. Dis saamkuier en familie-inhaaltyd. Elkeen bring sy eie versiersels van die huis af.
“Julle ken almal my Kersvader?” vra niggie Elize terwyl sy ’n kunswerk omhoog hou. “Soos elke jaar mag niemand behalwe ek hieraan raak nie.”
Die Europese kunswerk, ’n erfstuk van haar ander ouma, is geklee in klere van rooi fluweel en ’n spierwit wolbaard, maar sy een stewel is weg. Kersvader het ’n af been. Dit word hoog, buite bereik, gehang. Ouma is in vervoering en staar glimlaggend na die ornament.
“Hy lyk soos oorle Alwyn.”
Sy verlang na Oupa. Maar die baie mense en doenighede maak haar gelukkig. Dit verdryf die eensaamheid van die alleenjare. Elke jaar sal sy vol vreugde oor die vol dorp verklaar: “Almal is hier, huidjie en muidjie en klierstertakkedis.”
Daar is gereeld danse in die karavaanpark. Terwyl die ouer mense dans, hou die jongeres strandkuiers met groot vure en kuier ook tot ounag.
“Ons moet die meisiekinders dophou; hulle het rooihakskene,” sê Ouma aan die ontbyttafel.
En hulle is ondeund. Maak allerhande planne. Verdwyn wanneer hulle in die kosmaakspan moet wees en lê eerder in die duine voor die huis en sonbaai. Hulle is klaar met skool en reg vir pret.
Hulle ry ook oor na die buurdorp om daar te gaan dans, en dis hier waar pa Conrad die tweeling in die oog moet hou. Lila met haar blonde hare, sproetjies en ’n latlyfie is gou voordanser. Kort voor lank is daar ’n tou beenaf vryers wat wil kom “koffie drink”.
Lizette het lang swart hare soos ’n Spaanse danseres en is ook ’n bekommernis. Die skool se rugbykaptein, Tinus, was dié jaar gans te danig met haar en kom te veel kuier. Hy is reeds voorskriftelik oor wat sy mag en nie mag nie. Hoe sy haar hare moet dra, met wie sy mag vriende wees. Hopelik vergeet sy ná die vakansie van hom.
Vir Lila is die Weskus soos ’n lekkergoedfabriek vol keuses; die aanbod is baie en goed. Sy gesels met almal en is met almal ewe vriendelik. Maar gou is daar
twee voorperde. Carlo en Romano Agento is so Afrikaans soos boerbeskuit, maar hul Italiaanse oupa se Mediterreense voorkoms en lenige lyf is in goeie mate tussen die twee neefs verdeel. Carlo is sag op die oog en hart, en Romano het ’n onstuimige seerowervoorkoms.
Hulle wil nie net dans nie. En Lila wys geen uitnodiging van die hand nie. Carlo kom laai haar tydens kwaaisee op vir seekyk en rondry in sy 4x4. Romano is mal oor swem, en op die warm dae is hulle gereeld saam in die water.
“Jy sal moet versigtig trap, Lila,” preek Ouma See, “die neefs gaan uitvind. Die dorpie is kleiner as ’n kerkbasaar. Dat hulle nog nie agtergekom het nie is net omdat Carlo-hulle op Elandsbaai en Romano op Piketberg bly. Maar dis net ’n kwessie van tyd.”
Lila lag dat haar kuiltjies induik. “Ontspan, Ouma! Ek is net vriende met hulle; daar is geen wedywering nie.”
“Ja, dis wat jý sê. Die vraag is hoe húlle daaroor voel. Die vriendskap lyk allesbehalwe platonies wanneer hulle jou so vurig onder die bougainvillea soen.”
Lila gaap haar ouma soos ’n dooie vis aan.
“Ja, almal loer julle af. Hoekom dink jy drink almal deesdae so baie koffie? Sodat hulle by die stoep kan verbyloop kombuis toe.”
“Ai, en soen hulle nie lekker nie,” swymel Lila. “Carlo se soene is soos vlinders op jou lippe. Jy wonder of dit daar is en wens daar is meer van hulle, en Romano, hy soen soos ’n dorstige wat deur die woestyn gekom het. Hy kan nie genoeg kry nie. Die twee van hulle is net perfek.”
“Lila, dis te veel inligting vir ’n mens se ouma,” sê sy voor sy in die kombuis gaan verslag doen. “Hier kom moeilikheid,” voorspel sy bondig.
Conrad besluit Alta moet hul dogter aanpraat. “Jy sal dié Lila in die bek moet ruk, Alta, sy kan nie twee vryers op sleeptou hê nie. Katrol haar ’n bietjie in.”
“Ontspan, my man, dis Desember. Die vakansie is een van die dae iets van die verlede. Die kinders dink deesdae anders as in ons jong jare. Hulle raak nie so jonk ernstig nie, en dis aanvaarbaar om meer mense te leer ken.
“Ek gaan nie ’n nat kous wees nie.”
Met Lizette se sake is hy heel ingenome. Jaco Louw, seun van ’n boer in die distrik, kuier saam in die bondel. Daar is geen druk van sy kant nie, maar hy sit gereeld saam met Lizette op die duine, ’n entjie van die ander niggies, en gesels.
OUKERSAAND breek aan met die mooiste Dwarskersbos- sonsondergang. Dit is gebruik dat sangers van huis tot huis loop om Kersliedere te sing. Almal staan buite om te luister. Maar Lila is so gespanne soos ’n boogsnaar. Carlo en Romano het albei opgedaag en staan weerskante van haar. Carlo het sy arm om haar skouers; Romano het sy arm om haar middel. Agter hulle staan Lizette en Jaco, vasgevries. Wanneer vat die twee mekaar se hande agter Lila se rug? Maar Lila besluit vinnig dis tyd om te gaan dans en kry dit reg om die amoreuse neefs tot by die saal te navigeer waar die bolling mense vir haar asemruimte skep.
“Sjoe, Ma,” kla sy later teenoor Alta in die kleedkamer, “ek dog my hart klim by my keel uit.”
“Ja, en hoe dink jy moet die twee manne voel? Ek dink hulle het iets agtergekom. Ek wil graag sien hoe jy jou hieruit wikkel.”
Die res van die vakansie hou Lila die neefs uitmekaar, en Lizette praat ál minder van die rugbykaptein en meer van Jaco. Soggens lê die niggies tussen die duine en stories uitruil. Die Weskus doen sy magic; almal is genoegsaam.
MAAR met die oppak is daar pandemonium. Die Duitse Kersvader is weg. En Ouma vermis van haar klere. Terwyl Alta en Cecile Ouma “dwing” om te gaan bad, soek die ander dogters deur haar kas. Sy is geneig om goed te verlê.
Terwyl die soektog aan die gang is, daag die Agento-neefs saam op en versoek baie stram om Lila te sien. Buite op die stoep word sy versoek om haar intensies met hulle in die reine te bring. Hulle het uitgevind hulle staan onder dieselfde boom se koelte.
“Ek is jammer, ouens, ek is te jonk om ernstig te raak. En buitendien, julle is albei superaantreklik. As ek by my huis was waar ek julle in normale omstandighede beter en langer kon leer ken het, sou dit makliker wees. Julle sal my moet kans gee.”
Twee baie ongelukkige neefs ry weg, maar nie sonder dat hulle adresse en foonnommers geruil het nie.
In die kamer word die Kersvader saam met ’n foto van Oupa tussen Ouma se onderklere gevind. Elize besluit dat Ouma die erfstuk naby haar hart mag hou sodat hy Ouma in haar laaste jare aan Oupa kan herinner.
Terug by die huis in Kaapstad is daar gereeld oproepe van Carlo en Romano. En toe die universiteit open, is die Agentobroers van die seniors wat Lizette en Lila op Stellenbosch verwelkom. Daar kry Lila kans om die twee neefs beter te leer ken.
Lizette en Jaco raak ná hul studies verloof en gaan werk saam in Londen. Wanneer die Kersbossers vakansietye skimp en vra wanneer lui die trouklokke, lag Lizette dit af en sê sy wag dat Lila trou.
Die familie raak later gewoond aan die twee neefs wat gereeld kom kuier. Hulle bly van Lila se beste vriende. Hulle raak soos familie by Duinehuis en in die Kaap.
Tot een naweek toe Lila huis toe kom en die hele naweek loop en sing. Vreemde liedjies vol je t’aimes. Die Saterdagaand daag Carlo op en vra om Conrad en Alta te “spreek”. Dieselfde aand glip hy ’n diamantring aan Lila se vinger.
DIE volgende Kersfees word ’n dubbele strandtroue op Dwarskersbos gehou. Terwyl Conrad met sy tweelingdogters na ’n boog vol blomme op die strand voor Duinehuis stap, glimlag Jaco stil vir Lizette. Carlo kyk na Lila soos ’n kat wat ’n hele bak room gekry het.
Die liefde is ’n dowe ding; hy laat jou vreemde liedjies sing, dink Alta terwyl sy na haar tweeling kyk. Ouma See glimlag breed en trots.
Die onthaal is in die karavaanpark se saal. Hierdie keer dans die tweeling met die regte maats.
En in die ruiker op die bruidstafel staan die afbeen Kersvader en glimlag deur sy wit baard vir die beenaf vryers. Hulle is nou almal waar hulle hoort.
Op die Weskus heers vrede, en die liefde oorwin.
‘DIS TE VEEL INLIGTING VIR ’N MENS SE OUMA. HIER KOM MOEILIKHEID’