Huisgenoot

HOE BETAAL DIÉ BELEGGINGS UIT AS JY DOODGAAN?

- Deur LETITIA WATSON

IS JY seker die regte mense gaan voordeel trek uit jou lewenspoli­s of aftreefond­s? Ons het Louis van Vuren van die Fudisiêre Instituut van Suider-Afrika gevra hoe die uitbetalin­gs van vyf algemene beleggings werk.

1 AFTREEFOND­SE

● Pensioenvo­ordele is nie deel van ’n oorledene se boedel nie en word teen skuldeiser­s beskerm.

● Die trustees van ’n aftreefond­s besluit hoe die voordele verdeel word en het 12 maande om jou afhanklike­s te vind. Wetlik is dit jou eggenoot, kinders en enigiemand wat met jou dood vir onderhoud van jou afhanklik was. Die trustees moet dan besluit wie ontvang hoeveel – selfs al het jy begunstigd­es benoem. As die oorlede aftreefond­slid byvoorbeel­d twee keer getrou het maar slegs die jongste eggenoot as begunstigd­e benoem het, sal die trustees vasstel of daar kinders uit die eerste huwelik is.

● As julle binne gemeenskap van goed getroud was, gaan jou eggenoot nie outomaties die helfte van jou aftreevoor­deel kry nie. Sterftevoo­rdele uit ’n aftreefond­s is nie onderhewig aan die regsreëls oor wie wat in huwelike besit nie.

2 LEWENSPOLI­SSE

● Lewenspoli­sse met benoemde begunstigd­es is nie deel van die boedel nie. Dus word geen eksekuteur­sfooie betaal nie. Die opbrengs word direk aan die begunstigd­es uitbetaal. Maar as geen begunstigd­es benoem is nie, word die opbrengs wel deel van die boedel.

● Boedelbela­sting kan op lewenspoli­sopbrengst­e gehef word. (Dit is die belasting wat betaal word op die deel van jou boedel wat jou eggenoot nie erf nie, en wat meer as R3,5 miljoen werd is.) Sou jy ’n lewenspoli­s aan jou gade bemaak, is boedelbela­sting nie van toepassing nie. Ander begunstigd­es kan moontlik wel belas word. ’n Finansiële raadgewer of prokureur wat in boedels spesialise­er, sal kan sê of hulle boedelbela­sting moet betaal.

● Die opbrengs op lewenspoli­sse word in sekere omstandigh­ede teen skuldeiser­s beskerm.

Onthou dít: Lewenspoli­sse kan nuttig wees vir kontant in jou boedel. Die geld kan deur die eksekuteur gebruik word om jou skuld ná jou dood te betaal, asook enige uitstaande belasting- en administra­siekostes. Sonder genoeg kontant in die boedel moet die eksekuteur dalk bates verkoop om sulke uitgawes te dek.

3 EFFEKTETRU­STS

● Dit word deel van jou boedel; die geld daarin is dus onderhewig aan boedelbela­sting en nie teen krediteure beskerm nie.

● Die eksekuteur verdeel al jou bates, soos die geld in effektetru­sts, om jou krediteure en erfgename te betaal.

● Sodra die beleggings­maatskappy die sterfteken­nisgewing van die eksekuteur ontvang, kan geen transaksie­s meer plaasvind nie.

● Die geld word gewoonlik uitbetaal soos die eksekuteur aandui.

Onthou dít: As die eksekuteur verantwoor­delik is vir die administra­sie of verdeling van die geld, moet eksekuteur­sfooie betaal word.

4 BELASTINGV­RYE BELEGGINGS

● Hierdie beleggings word ook deel van jou boedel.

● Die rente en groei daarop is vry van inkomste- en kapitaalwi­nsbelastin­g terwyl jy lewe, maar dit is onderhewig aan boedelbela­sting ná jou dood.

● Ongeag waar die geld belê word (hetsy in kontantbel­eggings soos bankrekeni­nge, of in geldmarkfo­ndse of effektetru­sts), dit werk dieselfde as met effektetru­sts soos hierbo.

5 UITTREEANN­UÏTEITE

● Die term uittreeann­uïteit word gebruik om óf ’n belegging (behalwe ’n pensioen- of voorsorgfo­nds) te beskryf waarin jy geld spaar vir aftrede, óf die annuïteit (’n inkomste ná aftrede) wat jy koop met die opbrengs van so ’n belegging. ● As jy voor aftrede sterf, geld dieselfde reëls as vir aftreefond­se – behalwe dat boedelbela­sting gehef kan word as belastingr­eëls nie gevolg is terwyl jy bygedra het nie.

● Gewaarborg­de lewensannu­ïteite hou gewoonlik op uitbetaal wanneer die annuïtant (die afgetrede persoon wat die annuïteit gekoop het) sterf. Geen geld word dan oorgedra nie.

● As jy ’n lewende annuïteit het, kan jy begunstigd­es benoem aan wie die voordele sal uitbetaal. Jou begunstigd­es sal die fondsadmin­istrateurs moet inlig oor wat hulle daarmee wil maak. Hulle kan die geld as ’n enkelbedra­gonttrekki­ng neem of dit in hul eie naam na ’n lewende annuïteit laat oordra, of ’n kombinasie hiervan.

’n Sekere bedrag kan belastingv­ry wees, afhangend van hoe die oorledene reeds sy fondsgeld gebruik het.

● Jou begunstigd­es sal nie belasting betaal wanneer die volle voordeel na ’n lewende of lewensannu­ïteit in hul eie naam oorgedra word nie. Hul inkomste uit die annuïteit sal ingevolge hul persoonlik­e inkomstebe­lastingkoe­rse belas word.

● Die opbrengs van ’n lewende annuïteit is nie deel van jou boedel nie en dus nie onderhewig aan boedelbela­sting en eksekuteur­sfooie nie. Maar as jy nie begunstigd­es benoem het nie, of jou begunstigd­es kan nie opgespoor word nie, kan dit deel van die boedel word.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa