Huisgenoot

SIEN NIE KANS VIR ’N VERHOUDING OP MY OUDAG

- VRA VIR IRMA

Ek is reeds drie jaar lank ’n weduwee en het ook twee van my kinders aan die dood afgestaan. Ek rou dus nog ongeloofli­k baie.

Tans woon ek in ’n woonstel by ’n ouetehuis. Hier bly ook ’n wewenaar wat dink vroue val oor hul voete vir hom. Hy is sewe jaar ouer as ek. Nou het dié wewenaar by my begin flikkers gooi. My man was baie goed vir my, en ek het ’n baie swaar tyd agter die rug met al die sterftes. Ek sien regtig nie kans vir ’n verhouding van enige aard met enige man nie.

Ek weet nie hoe ek die situasie moet hanteer nie.

My innige simpatie – dit is nie net moeilik om ’n eggenoot te verloor nie, dis ook baie erg as jou kinders jou ook ontval. Dit klink vir my of jy vir jouself ’n rustige en veilige lewe geskep het met ’n woonstel by die ouetehuis. Al voel dit dalk soms nie vir jou so nie, is dit eintlik ’n baie gunstige situasie om in te wees, veral as weduwee.

Daar is egter ’n groot waarheid oor ons as mensdom: Dit maak nie saak waar ons ons in die wêreld bevind nie, ander mense sal altyd ’n invloed op ons hê, goed of sleg. Ouetehuise is juis een van die plekke waar legendarie­se karakters woon. Geite en goeters kom sterk na vore juis omdat lewens verantwoor­delikhede nou minder is en almal meer tyd tot hul beskikking het.

Daardie man het ’n baie goeie selfbeeld as hy dink vroue vind hom onweerstaa­nbaar. Die probleem is, sodra iemand soos hy iemand soos jy raakloop wat nie dink hy is die vangs van die jaar nie, is dit soos ’n wortel voor ’n donkie se neus. Dit maak jou dan onweerstaa­nbaar vir hom.

Jy sal moet vasstaan. Laat hom duidelik verstaan jy is nie beskikbaar vir enige verhouding nie. Jy sal dit moet noem elke keer wanneer hy toenaderin­g soek tot hy die boodskap kry.

Die rouproses het sy eie tyd, verskil van mens tot mens en is emosioneel sowel as fisiek uitputtend. Jy is die enigste een wat sal weet wanneer jy gereed is vir ’n dieper vriendskap of dalk’ n liefdesver­houding.

Indien jy nooit weer iemand spesiaal in jou lewe toelaat nie, is dit ook reg. Jy leer nuwe lewensvaar­dighede aan om alleenwees te kan hanteer en om stilte te waardeer. Om te verwag ’n mens moet altyd iemand aan jou sy hê om aanvaarbaa­rbaar te wees is ’n euwel waarvan ek self ook glad nie hou nie.

Dit is ’n groot kompliment as ’n man in jou belangstel op enige ouderdom. Aanvaar sy aandag met grasie, maar wys hom die deur met ’n ferm hand.

Skryf gerus vir my oor jou sake van die hart of moeilike persoonlik­e kwessies. Ek beantwoord hier vrae en briewe van lesers en gee graag raad. Ek sal nie jou naam bekendmaak nie, en jou identiteit bly vertroulik. Skryf vir my by: Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of stuur ’n e-pos na vravirirma@gmail.com of SMS Vra vir Irma gevolg deur jou vraag na 36489.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa