Huisgenoot

’n Mens mág maar droom

-

ONLANGS ry ons op ’n Sondagmidd­ag deur ons stad op ’n besigtigin­gstoer. En daar kom ons op ’n huis af: in ’n antieke boustyl, groot en majestueus. Dadelik begin ons toe droom.

Die huis bly die onderwerp van bespreking, en ek besluit om ’n stap verder te gaan en vir ons ’n afspraak te reël. Die kinders was nog nooit aan so iets blootgeste­l nie. Ons praat mekaar altyd soveel moed in oor “droom groot”, en “jou drome moet jou bang maak”. En nou’s dit tyd om daad by die woord te voeg.

Ons praat positief en begin beplan. Ons seun wonder hoe ons meubels daar gaan kom, en bekommer hom oor die roete wat die meubelwa moet volg. Ek dink aan ons nuwe adres en hoeveel kennisgewi­ngs ek sal moet uitstuur. Ons dogtertjie dink aan die skole, want die naaste skool is nie húlle skool nie.

Die opgewonden­heid is tasbaar ten spyte van die koopprys wat (behalwe in ons drome) ver buite ons bereik is. Die kinders besluit ons moet lyk soos mense met geld en trek “Sondagkler­e” aan.

Dis goed om betyds te wees vir afsprake, en ’n hele kwartier voor die afgespreek­te tyd is ons daar.

Eindelik daag ons agent op en kan ons die droom binnestap. Die leefvertre­k is sprokiesmo­oi, die uitsig asemrowend, en dis tog interessan­t om deur iemand anders se leefwêreld te stap. By die kombuis steek ek vas. Ek sien in my binneoog hoe my dogtertjie my breekgoed uitpak, en ons droom oor die baie borde kos wat gemaak kan word. Buite “bou” die manne swembad.

In daardie oomblik is ons die trotse eienaars van ’n kasteel, want ’n mens mag maar droom.

LYNETTE STRYDOM

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa