My geknaag soos ’n marmot het vrugte afgewerp
eindelik!
Ronel. Ek skryf oor jou brief en die oppak van ’n lewe (7 Desember).
Ek begin môre amptelik werk, so hierdie is my laaste bietjie ruskans. Ek lees lekker aan ’n pak artikels. Enige artikel wat ek skryf, sou die opskrif “My geknaag soos ’n marmot het (eindelik) vrugte afgewerp!” moet kry.
Want ná twee jaar se nimmereindigende geknaag aan Paps en Mams om te trek na ’n kleiner, veiliger plekkie het hulle eindelik bes gegee. En toe moes ons as familie 50 jaar se goed begin pak.
Weet jy hoeveel goed ’n mens in 50 jaar kan versamel en opgaar? Jy het geen idee nie. Die laaste aand wat ons in die huis geslaap het, was baie emosioneel. Ons het van voor af hartseer geraak oor die wete dat dit in hierdie huis was waar alles begin het. Ons het ’n heildronk gedrink op die swembad, toe op die broodbome, daarna op die braai . . . alles en almal was gecover. Saam het ons gelag en gehuil.
Ek en my sussie het ook boksies gemaak. My boks, haar boks, die “dalk”-boks en die “dalk nie”-boks, Lina se boks, Monica se boks, en natuurlik die Salvation Army-boks.
Nou ja, op dag 3 het ons Paps betrap waar hy die Salvation Army-boks weer uitpak: “Wie het die skulp daar gesit . . . en die glasbord?” wou hy weet terwyl hy grawe. Soos hy uitpak het ons probeer terugpak, maar die skulp het hy soos goud beskerm, want dis mos om die badkamerseep op te sit, hy het dit dan uit Mauritius gebring.
Ons het lekker gelag en gevloek en gehuil en oplaas is ons toe darem veilig deur die trek. Maar ja, oppak is nie vir sissies nie.
Beste groete.
DEBBIE, KZN