Huisgenoot

ONS DOGTER SE GEDRAG ONTAARD IN ’N NAGMERRIE

-

Ons het een dogter wat sopas matriek geskryf het en ook twee seuns in die laerskool. Ek is ’n tuisteskep­per en my man het ’n goeie werk. Geen probleme of tienergeit­e is ooit van haar kant af ontvang nie. Ons was ook nog nooit bekommerd oor haar toekoms nie, want sy het altyd laat blyk dat sy saam met haar groep maats gaan studeer en later voltyds gaan werk. Kort voor Kersfees het ons dogter haar bas op die bank voor die televisie geplak, en dis waar sy nou nog is. Toe ons haar vra wat fout is, het sy met ’n stem vol bravade aangekondi­g sy wag vir ’n ryk man om mee te trou. Ons het eers gelag, want dit is ’ n absurde uitlating. Soos die tyd verloop, roer sy steeds nie, en met ’n opvolggesp­rek was haar redenasie dat sy nie insien hoekom sy moet swoeg vir geleerdhei­d en later verder swoeg by ’n werkplek as sy net eendag gaan trou en kinders grootmaak nie. Sy reken iemand met geld sal dit ten minste die moeite werd maak. Nie eens haar geliefde ouma het tans ’n invloed op hierdie sottigheid nie en ons sit met ons hande in die hare. Help, asseblief.

Dit is beslis ’n tameletjie waarmee julle sit. Kom ons probeer perspektie­f kry deur na die groter prentjie te kyk.

In die eerste plek is jou dogter reg dat miljoene vroue met geleerdhei­d kinders grootmaak en huishou. Jou dogter moet net herinner word dat dit in haar geval altyd ’n keuse sal wees. Sy hoef nie ’n tuisblyma te wees as sy eerder ’n beroep wil beoefen nie. Sy hoef nie eens kinders te beplan as sy nie wil nie.

Deur net heeldag op die bank te sit gaan sy ook nie ’n ryk man na die voordeur lok nie. Hulle moet ten minste van haar bewus wees. Wat is sy van plan om te doen om dit te bewerkstel­lig? Daar is baie gevaarlike webtuistes waar jong vroue inteken en in groot moeilikhei­d beland. Mans wat jong vroue teiken, is nie jou speelmaat nie, al kom hulle hoe sjarmant voor.

Wat julle dadelik kan doen, is om ’n kontrak tussen julle en haar op te stel. Daarin is die bepalings vir huurgeld, etes, wasgoed, klereaanko­pe en kamernethe­id saamgevat. Wees ferm daarmee, dit laat haar dalk anders dink oor die feit dat sy net so wil bly sit.

Onthou tieners gaan gewoonlik uit en hou van sosiale aktiwiteit­e en bly soms tot laat uit. Die feit dat jul dogter dit nie eens saam haar met maats doen nie, laat my wonder of sy nie dalk onderligge­nde depressie het nie. Neem haar eers na jul huisdokter toe, wat sy sal vertrou. Dis vir gemoedsrus.

 ?? ?? Skryf gerus vir my oor jou sake van die hart of moeilike persoonlik­e kwessies. Ek beantwoord hier vrae en briewe van lesers en gee graag raad. Ek sal nie jou naam bekendmaak nie, en jou identiteit bly vertroulik. Skryf vir my by: Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of stuur ’n e-pos na vravirirma@gmail.com of SMS Vra vir Irma gevolg deur jou vraag na 36489.
Skryf gerus vir my oor jou sake van die hart of moeilike persoonlik­e kwessies. Ek beantwoord hier vrae en briewe van lesers en gee graag raad. Ek sal nie jou naam bekendmaak nie, en jou identiteit bly vertroulik. Skryf vir my by: Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 of stuur ’n e-pos na vravirirma@gmail.com of SMS Vra vir Irma gevolg deur jou vraag na 36489.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa