Huisgenoot

HOE HANTEER EK MY KIND SE WEGGAAN?

-

My hart is so seer vandag. Ons het my seun die naweek universite­it toe geneem en dit was vreeslik om vandag terug te keer na ons huis sonder hom. Ek het baie hard probeer om dapper te wees, maar toe die wiele by die kampus se hek uitrol, toe is ek ’n reënstorm. Al het ek geweet die tyd kom eendag, en al het ons gesorg vir ’n goeie opvoeding vir ons kind, is ek steeds heeltemal onkant betrap deur my reaksie. My man is ook maar stil. Gewoonlik sal hy heelwat te sê hê oor ’n emosionele uitbarstin­g. Is dit normaal om so te voel? Gebeur dit met ander ouers ook?

Kom ek stel jou sommer dadelik gerus: Duisende ouers gaan deur presies dieselfde emosies hierdie tyd van die jaar. Jy en jou man is dus nie alleen nie.

Onthou, 18 jaar lank was jou kind om jou en in jou lewe op ’n intieme ouer-kind-vlak, en daarom is ’n baie sterk band tussen julle gevorm.

Dit is juis hierdie band wat sal sorg dat julle mekaar nog sal koester ten spyte van die afstand tussen julle.

Natuurlik is ’n mens baie opgewonde omdat jou kind die kans kry om die studentele­we te geniet, en terselfder­tyd te bou aan ’n loopbaan.

Maar dis ook ’n aanpassing om hom nie meer om jou voete te hê nie.

Ek wil graag die volgende aan jou noem wat kan verander:

OMSTANDIGH­EDE VERANDER

Geen mens kan bestaan sonder dat daar die een of ander tyd veranderin­g in jou lewe plaasvind nie. Dit hoef glad nie ’n emosionele krisis te wees omdat jou kind semiperman­ent uit die huis is nie. Jy kan jou in die begin so ’n bietjie pamperlang met skoonheids­essies, tee saam met vriendinne of ’n nuwe stokperdji­e. Moenie fokus op jou seun wat afwesig is nie.

VERANDERIN­G IN JUL VERHOUDING

Dis baie belangrik om in ag te neem dat die verhouding tussen jou en jou kind geleidelik gaan begin verander, want hy gaan begin verander. Hy gaan nuwe en ander lewenserva­rings opdoen wat sy perspektie­f oor sekere aspekte gaan verskuif.

Hy gaan dalk anders begin dink oor sekere goed en sy manier van doen daarvolgen­s aanpas. Hy gaan homself begin handhaaf as ’n jong man sonder julle. Selfs die trant van jul gesprekke kan dalk verander soos wat hy sy plek in die wêreld begin verstaan en vul.

VERANDERIN­G IN OUERS SE VERHOUDING

Soos wat elke kind die huis begin verlaat, gaan die dinamika tussen jou en jou man ook verander. Julle gaan weer as ’n paartjie alleen saam leef. Dit is egter ’n gesprek heel op sy eie.

Vir nou raai ek aan dat jy saam met jou kind bly is dat hy die studentele­we kan ervaar. Jy sal wel deur hierdie nuwe fase kom. Sterkte.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa