SPEURHOND WILLEM IN DIE AMASONE
Deur ELIZABETH WASSERMAN Tafelberg, R237*
Einde verlede jaar verskyn Speurhond Willem in die Amasone en later vanjaar kom die tiende boek in dié gewilde reeks uit. Die held van die verhaal, die regte Willem, is egter al in 2016 oorlede, vertel Elizabeth Wasserman uit Nelson, die dkd kusdorp in NieuSeeland waarheen sy en haar man getrek het. “Ons eie Willem was 11 jaar oud, en ons treur steeds. In diep oomblikke van rou het ons ’n baie ingewikkelde bruin spanjoel op Gumtree gekoop en hom Sherlock gedoop. In Speurhond Willem in die ruimte word Willem mos die trotse ouer van ’n broeisel brakkies, en een van hulle se naam is Sherlock. Sherlock het ’n klein rol gespeel in Speurhond Willem in
Australië waar hy saam met sy bende kangaroes en dingo’s boewe in die boendoe rondjaag. Dit pas by sy karakter!
“Sherlock het saam met ons getrek en hy geniet die lewe. Hy gaan oral saam met ons en swem elke dag in die rivier of die see.”
Elizabeth was ’n patoloog en professor by Geneeskundige Mikrobiologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Vir haar Anna Atoom-trilogie is sy met die Alba Bouwer-prys bekroon. Sy is ook die skrywer van die Elf Dae- reeks vir tieners, asook die volwasse roman Die fantastiese mevrou Smit (2022).
“Die tweede mevrou Smit, Die nege lewens van mevrou Smit, word in Mei gepubliseer en ek werk reeds aan nommer drie!” sê die onledige skrywer.
Sy vertel sy het uitgetree as akademikus. “Vir ‘aftree’ is ek nog skugter, maar dit help seker nie om dit vir altyd te ontken nie. Ek staan nou meer tyd af aan skryf.
Gelukkig is ’n groot deel van die werk van skryf mos om genoeg materiaal in te oes vir ’n lekker storie. Dit hou my besig!”
Het die skuif na ’n ander land haar skryfwerk beïnvloed?
“Ek het ’n sonnige hoekie vir my rekenaar, met ’n mooi uitsig. ’n Nuwe omgewing is baie stimulerend. Ons bring baie tyd in die natuur deur. Daar is nuwe soorte plante om te leer ken, nuwe voëls, en daarmee saam nuwe idees oor ons verwantskap met die planeet waarop ons woon,” sê Elizabeth.
“Ek let veral op die subtiele verskille in die manier hoe mense met mekaar omgaan, hoe verdraagsaam almal is, en wat hulle gevoel van verantwoordelikheid is teenoor mekaar en die omgewing.
“Dan fantaseer mens oor hoe dit kan en behoort te wees. Ek bestee ook heelwat gedagtetyd aan hersiening van alles wat ek al in my lewe ervaar en gesien het.
“Die proses van leer hou mos nooit op nie.”