Huisgenoot

WAT HET GEWORD VAN . . .

CARELTJIE VAN ASWEGEN

-

SY NAAM was Carel van Aswegen, maar almal het hom Careltjie genoem, en soms “vet Careltjie”. Elke keer wanneer Huisgenoot die reus van Dealesvill­e op die plaas in die Vrystaat besoek het, het hy ’n hele mens meer of minder geweeg. Careltjie was ’n man wat klimtol gespeel het met die kilo’s – nie net met ’n rolletjie hier of daar nie, sommer met 100 kg op of af op die industriël­e skaal.

Tog het hy gereeld moedig voor die kameras gepronk. Hy wou wys hy sál nog seëvier oor die vyand – vet – en dalk dan ook eindelik liefde vind.

In 1986 was hy ’n man met hoop: Hy het van 221 kg tot 133 kg verslank, ’n volle 88 kg ligter om die hart van ’n vrou te probeer verower. Maar met Huisgenoot se besoek in 1991 het die skaal weer op 281 kg getrek.

Daar op die plaas, waar hy saam met sy ma, Duif, gewoon het, het hy oor haar vertel: “My ma is die bantamhenn­etjie wat ’n te groot eier gelê het.”

Met wilskrag en ses klein maaltye per dag het hy weer probeer, en teen 1994 het Huisgenoot berig: “Carel is deesdae ’n vlinder van 184 kg.” Maar die vet weet, soms wil ’n man eet, en teen die jaar 2000 het Carel meer as 300 kg geweeg.

“Krummelpap is my dood,” het hy gesug. Sy swakheid? “Skelm eet! Lekkernye!” Tot 12 snye brood en 2 liter gaskoeldra­nk per dag. Nee, besluit hy weer.

Teen 2002 het Carel ’n netjiese figuur van net meer as 100 kg, en die man het goed gevoel. En drie jaar later staan hy ná ’n blitsroman­se voor die kansel saam met Dalikie Segona van Botswana. Dis net so gou verby – en toe volg vet saam met die verdriet.

Kitsdiëte help niks, het Carel erken. “Dit help nie jy gebruik daai goed nie, jy moet net reg eet.”

Maar helaas, die kilo’s het teruggekru­ip – en tot by sy swaarste ooit, 368 kg, geklim.

En toe is alles verby. Die dag ná Kersfees 2005 is die reus van Dealesvill­e op net 45 aan ’n hartaanval dood.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa