Huisgenoot

HOEKOM IS EK SKIELIK VIR ALLES BANG?

- Vra vir Irma, Posbus 1802, Kaapstad 8000 vravirirma@gmail.com SMS 36489.

My probleem klink dalk simpel en onlogies, maar ek moet iets daaromtren­t doen. Sien, ek woon nou al vyf jaar alleen. Dit was nog nooit vir my ’n probleem nie. Ek het nog altyd ’n goeie alarmstels­el gehad, en het ook twee honde wat buite en binne saam met my leef.

Die afgelope jaar het dinge drasties verander by my. Ek het skielik bang geword vir alles. Ek het ligte laat aanbring om die huis, heinings aangepas, die alarmstels­el opgradeer en selfs ekstra kameras oral laat aanbring.

Ek slaap sleg, want die geringste geluid laat my dink iemand betree my eiendom. Ek bestee onnodig baie tyd om na die kameras se beeld op my foon te staar. Ek woon in ’n rustige, goeie woonbuurt, maar ek is die hele tyd baie angstig.

Ek werk van die huis af en gaan net een keer per week winkels toe vir aankope. Wanneer ek terugkeer, is ek ’n senuweewra­k en ek slaan in sweet uit net aan die gedagte dat iemand dalk in my huis is.

Waarom is ek so? Ek het nie ’n traumaties­e ervaring gehad nie. Kan jy my asseblief help?

Laat ek jou dadelik gerusstel: Vrese op enige vlak is nooit simpel of onlogies nie. Dit verg aandag sodat ons kan bepaal waar dit vandaan kom en wat daaromtren­t gedoen kan word.

Daar is die moontlikhe­id dat jy aan ’n algemene angssteuri­ng ly, soos miljoene ander mense wêreldwyd. Gewoonlik gebeur dit ná ’n traumaties­e ervaring; jy noem egter dat jy geen negatiewe voorvalle gehad het nie.

Die ander oorsaak kan natuurlik wees as ’n mens hoë vlakke van spanning beleef. Dit lei dikwels tot ’n gevoel van gevaar, al is daar nie gevaar nie. Die gevolg is dat ’n mens paniekerig begin raak, want jy voel hulpeloos. Van die simptome met so ’n angsaanval kan wees:

■ ’n vinnige hartklop

■ die gevoel dat jy wil flou word

■ kortasem

■ ’n naar of siek gevoel

■ bewerighei­d en oormatige sweet

■ ’n tinteling in die vingers en lippe

■ die gevoel dat jy geen beheer het nie.

Ek wil graag aan jou noem dat baie mense hulle tot alkohol, dwelms of dobbel wend as ’n vorm van selfmedika­sie vir hul angs. Dit maak eintlik die probleem net erger.

Ek raai jou ten sterkste aan om ’n profession­ele persoon te gaan spreek wat jou kan help met jou angs. Jy sal hanterings­meganismes leer wat jy kan toepas wanneer jy so vreesbevan­ge raak, soos byvoorbeel­d kalmerende asemhaling­stegnieke.

Jou honde is beslis ’n aanwins, en ek is seker hulle sal alarm maak as iets vreemds buite beweeg. Dit sal dalk ook goed wees as hulle by jou in jou kamer slaap snags.

Skep moed, jou angstighei­d is beslis oorkombaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa