Huisgenoot

OUPATJIE EN GOGGATJIE

-

DIT was ’n liefde tot ná die dood toe. Dis nou as jy destyds vir Oupatjie geglo het. Want Sarel Pretorius, ook bekend as Oupatjie, het sy vrou, Gesina, só liefgehad dat hy saans op ’n enkelbed langs haar kis geslaap het. Oupatjie se wêreld het in 1989 tot stilstand geruk toe sy Goggatjie, soos hy haar genoem het, weens longontste­king dood is. Hy was so gebroke, hy het sy werkers ’n paar dae later afgedank. Skielik was hy stoksielal­leen daar op die plaas in Newcastle in KwaZulu-Natal.

Oupatjie het Goggatjie se liggaam laat balsem en sy geliefde in haar kis laat rus. En toe begin die eintlike werk: Hy begin bou aan ’n grafkelder sowat 100 meter van die opstal af.

Dit het hom jare geneem en R120 000 uit die sak gejaag, maar Sarel het deurgedruk omdat hy by sy vrou wou wees.

Toe die grafkelder eindelik klaar is, het dit Gesina se laaste rusplek geword. Maar toe kon Oupatjie ook weer sy Goggatjie sien. Hy het haar kis oopgemaak en weer na sy geliefde vrou gekyk.

Hy het haar daarna gereeld besoek. Soms het hy smiddae by haar gesit en tee drink, en soms het hy haar hand vasgehou.

“Natuurlik vat ek aan haar hand, sy is mos myne, myne. Sy behoort mos nie aan iemand anders nie? Ek vat aan haar hand en dis koud, ek gee vir haar ’n soentjie. Vir my is dit niks snaaks nie. Sy is net koud, dis al,” het Oupatjie destyds aan Huisgenoot vertel.

Ag, maar hy’t haar nog steeds gemis. So baie dat hy soms sommer daar in die grafkelder op ’n enkelbed naby haar kis geslaap het. Hy’t toe al sy eie begrafnis begin beplan. Oupatjie wou die dag wanneer hy sy oë finaal hier op aarde toemaak in sy eie kis langs sy Goggatjie tot ruste kom. Dan moet sy familie die deur na die grafkelder toesweis sodat niemand hulle weer kan kom steur nie, het hy besluit.

Toe Oupatjie in 2015 dood is, het sy seun dié wens eerbiedig.

“Niemand sal sommer weer daardie deur kan oopkry nie. Ons het tot die sleutelgat toegesweis,” het Oupatjie se seun later aan Huisgenoot vertel. “Dis nou net ’n gewone graf.”

’n Gewone graf waar ’n ongewone paartjie nou saam rus.

 ?? ?? Oupatjie, Sarel Pretorius, het vir hom ’n enkelbed ingerig sodat hy altyd naby sy Goggatjie, sy vrou, Gesina, kan wees.
Oupatjie, Sarel Pretorius, het vir hom ’n enkelbed ingerig sodat hy altyd naby sy Goggatjie, sy vrou, Gesina, kan wees.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa