REHALDINE SNELL EN WILDENE ABRAHAMS
EK WAS hopeloos laat vir my Tinder- date. Op pad het ek heeltyd gedink oor die slegte indruk wat dit gaan maak.
Ek het gereël dat ons mekaar ontmoet by ’n kafee op ’n plaas buite Stellenbosch waar ons keramiekpotte kan skilder – sodat ons met iets besig kan wees as ons met ’n mond vol tande sit.
My hare was opgetooi, vars van die haarkapper af, en ek het ’n goudgeel sonneblomrokkie aangehad wat ek spesiaal vir hierdie date
gekoop het.
En toe hardloop ek amper teen die deur vas. My verwilderde oë het oor die mense gegly, en toe onmiddellik met hare gelock.
Dit het gevoel asof ek haar lank reeds ken.
“Ek is Wildene,” het sy met ’n senuweeagtige glimlag gesê.
“Ek is Rehaldine,” sê ek.
Ons het uitgebars van die lag, asof ons nie ná al die aanlyn geselsies geweet het ons name rym nie.
Ons het dadelik aan die gesels geraak. Ek was verlig, want dit was asof sy heeltemal vergeet het dat ek amper veertig minute laat was.
Ná ure se gesels – soos ’n ou paartjie – het die kelner ons laat weet dis toemaaktyd.
Dit word toe ’n aand van goeie geselskap, my eerste soen én eerste liefde – beste aand van my lewe.
Drie maande later vra sy my op ’n warm dag om agter haar aan te ry tot by ’n afgeleë koffieplek tussen Wellington en Gouda. Ek kon sien sy was op haar senuwees.
Voor die koffieplek het sy ’n piekniekmandjie met ’n groot bos sonneblomme uitgehaal en ek het besef ons gaan net hier eet.
Sy haal toe bewend tien wit kaartjies uit haar broeksak.
“Wildene, kalmeer asseblief, dit lyk asof jy my gaan vra om te trou,” het ek gesê.
Ek het afgekyk na die kaartjies in haar hand en sy’t begin lees — elkeen ’n rede hoekom sy my gekies het om mee uit te gaan.
Vandag, drie jaar later, in ons eie woonstel met ons eie hond, koester ek nog steeds dié tien kaartjies. Dis kaartjies wat ek hoop ons troudag sal sien.