Huisgenoot

MY BURE SE SEUNTJIE IS ’N VERPESTING

-

V Ek bly al baie jare in ’n stil, veilige woonbuurt. Ek is ’n baie privaat mens en het ekstrahoë mure by my swembad en onthaalgeb­ied aangebring om my doen en late privaat te hou. Ek werk gereeld van my huis af, want dis lekker stil en ek kry baie gedoen.

Onlangs het nuwe bure ingetrek, en hul jong seun het vir my ’n regte laspos geword. Dit lyk nie of hy skoolgaan nie, hy sit heeldag op hul huis se dak en hou my dop. Hy kan tot binne-in my huis sien van daardie hoogte af.

Hy het nou reeds ’n paar keer my watertoevo­erpunt toegedraai – toe ek hom uitvang, het hy belowe hy sal nie weer nie, maar nou ja . . .

Hy gooi goed oor die muur in my swembad in, en toe ek onlangs weer van die huis af werk, het ek hom betrap waar hy oor die muur klim na my erf toe. My ander bure sê dat hy gereeld op my dak ook sit. Sy ouers loop weg of weier om hul voordeur oop te maak wanneer ek met hulle probeer praat.

Help my met raad, asseblief. Ek weet ek kan nie met die kind praat in sy eie erf nie, dis sy ouers se verantwoor­delikheid.

Maar wat doen ek as hy my eiendom betree? My swembad is nie omhein nie, en ek vrees ’n tragedie. Kan ’n mens ’n klag teen die ouers indien?

Hoe gaan ’n mens te werk?

A Hierdie is leeuwêreld. Daarmee bedoel ek dit is ’n gevaarlike situasie, juis omdat ’n minderjari­ge kind betrokke is en jy baie versigtig moet omgaan met hoe jy die saak hanteer.

Dit is onwettig om grond te betree sonder die eienaar se toestemmin­g.

Dit word beskou as ’n kriminele oortreding, en kan tot ’n boete of tronkstraf lei.

Hierdie kind plaas homself ook in situasies waar hy kan seerkry.

Hy klim op jou dak en kan val, hy klim oor hoë mure en kan val, hy kry dalk die idee om in jou swembad te spring en die gevaar bestaan dat hy kan verdrink. Dit terwyl niemand tuis is om hom onmiddelli­k te help nie.

Die ouers is onverantwo­ordelik deur nie ’n stokkie voor sy manewales te steek nie.

Dit is ook jammer dat hulle jou poging om na hulle uit te reik, blatant ignoreer. Net hulle sal die rede weet.

Ek raai ten sterkste aan dat jy regshulp bekom om jou by te staan, juis omdat dit ’n minderjari­ge kind is.

Die owerheid sal ook aandag gee aan hoekom die kind nie in die skool is nie. Dalk het die ouers versuim om hom by ’n skool in te skryf, of dalk ontvang hy tuisonderr­ig.

Moet asseblief onder geen omstandigh­ede probeer om die saak alleen te hanteer nie.

Ten laaste, moenie wag nie, doen dit dadelik.

’DIE OUERS IS ONVERANTWO­ORDELIK DEUR NIE ’N STOKKIE VOOR SY MANEWALES TE STEEK NIE’ – IRMA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa