Huisgenoot

KOOKWATER VIR AFRIKA

As jy nie geweet het wie Tyla is nie, dan weet jy nou. Met die Grammy wat sy onlangs gewen het, het dié Suid-Afrikaanse sangeres die wêreld én haar eie land se temperatuu­r behoorlik opgestoot

- Saamgestel deur CARLA COETZEE, ELRI BOUCHER, NADINE RAMONGANE en NOKUTHULA ZWANE

TOE sy by die onlangse Grammy-prysaand op die verhoog stap om haar goue beeldjie te ontvang, kon dit net sowel een van Amerika se grootste sterre gewees het wat daar voor die kameras pronk. Ontwerpers­rok van Versace? Check. Wilgerlatl­yfie met wulpse kurwes? Check. Smeulende selfvertro­ue? Check.

Boonop staan sy toe daar weens ’n wêreldtref­fer agter haar naam. Die stem van ’n superster wat die musiekwêre­ld oorrompel? Check.

Maar toe sy met haar toespraak begin, kon almal hoor sy is een van óns. “What the heck?!” roep sy toe uit. Dis tyd om die lys uit te brei van SuidAfrika­anse sterre wat die wêreldverh­oog betree. Staan opsy, Charlize Theron en Trevor Noah, maak plek vir Tyla.

As jou aandag dalk die afgelope tyd elders was en jy nog nie van haar gehoor het nie, hier is die besonderhe­de.

Nes Charlize, kom dié sangeres ook van die Oos-Rand, in dié geval Edenvale. Sy het in 2019 – toe sy nog op skool was – begin musiek opneem en is voorverled­e jaar Amerika toe, waar sy onder andere saam met die sanger Chris Brown opgetree het.

Dit was haar liedjie “Water”, met sy witwarm musiekvide­o, wat gemaak het dat sy haar plek losgesing het tot in die saal waar Taylor Swift en Céline Dion hul Grammy-ding kom doen het.

In dié video dans Tyla op ’n manier wat niemand kan vergeet nie. Google dit – dis iets om te aanskou.

Sy is net 22 jaar oud, maar van sexy kan niemand haar iets vertel nie.

Vir “Water” het sy ’n Grammy vir beste musiekuitv­oering uit Afrika gewen. Dit het ook die Billboard 100 gehaal, die eerste solosnit deur ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar in 55 jaar wat op dié trefferlys verskyn.

Sy het dit al in The Tonight Show with Jimmy Fallon uitgevoer, en op YouTube is dit al 124 miljoen keer gekyk.

Dit was van vroeg af duidelik hier kom groot dinge, sê mense in Edenvale wat haar ’n paar jaar gelede nog as die skoolmeisi­e Tyla Laura Seethal geken het.

“Sy was altyd lief vir die kunste. Sy het gehou van sing en dans, en dit is waar sy ook die meeste van haar tyd deurgebrin­g het,” vertel Marcel Caleb, ’n skoolvrien­d.

Sy was 12 jaar oud toe sy in haar dagboek liedjies begin skryf het. Mettertyd het sy vir talentkomp­etisies ingeskryf.

“Later het sy begin video’s maak wat sy op Instagram en Musical.ly (deesdae TikTok) gedeel het. Ek onthou haar WhatsApp-statusse was altyd die een of ander video waarin sy sing,” sê Marcel.

“Ek dink aanvanklik het sy musiek vir die lekkerte gedoen, ’n stokperdji­e. Later het dit in hoop verander. Ek dink die laaste twee tot drie jaar van hoërskool het sy geweet sy gaan ’n ster wees.”

TYLA se destydse musiekonde­rwyser aan Edenglen High School, Jennifer Naka, vertel sy het Tyla die eerste keer ontmoet toe sy in 2015 as gr. 8-leerder by die skoolkoor aangesluit het. “Dit was eintlik ’n ongeloofli­ke ervaring, want sy was so klein en fyn, met hierdie ongeloofli­ke stem. Ons was uit die veld geslaan deur haar stem.

“Sy het daardie Grammy gewen, want daar is geen twyfel dat sy kan sing nie. Dít kon ons destyds al raaksien.”

Sy vertel Tyla het ’n paar hoofrolle in skoolprodu­ksies losgeslaan. “Dis eintlik snaaks – sy was altyd die hoofsanger, en het al die hoofrolle gekry in groot produksies, so jy kan seker sê nie almal het daarvan gehou nie, want sy was altyd die middelpunt.

“Sy was gewild en geliefd, maar die ander leerlinge het wel gevoel dit is effens onregverdi­g, want sy kry altyd ál die hoofrolle,” sê Jennifer.

Maar sy onthou: Toe al was dié meisie “uitstekend”.

Tyla het al self vertel sy was op skool skamerig en is soms geboelie omdat sy so maer was.

Sy is die middelste van Sherwin, ’n rekenmeest­er, en Sharleen, ’n eiendomsag­ent, se vyf kinders. Sy het ’n broer en drie susters en sê hulle almal is baie ondersteun­end.

Sy beskryf haar grootwordj­are as baie gelukkig. “My ouers was streng en nogal geslote, so my beste vriende was maar my broer en susters. Ons is almal min of meer dieselfde ouderdom en daar was altyd musiek en partytjies by ons huis.”

Jennifer dink terug aan die dag toe Tyla op die skool se prysaand as beste sangeres aangewys is. “Ek het in my toespraak gesê Tyla is ’n naam wat ons moet dophou. En dat haar naam eendag op almal se lippe gaan wees. En kyk, min het ons geweet sy gaan dit eendag so groot maak.”

Jennifer se voorspelli­ng was reg, maar dit het amper nie gebeur nie. Haar ouers wou hê Tyla moes ingenieurs­wese studeer en by die mynwese betrokke raak nadat sy in 2019 gematrikul­eer het. Sy het akademies goed gevaar op skool en hulle het gedink sy kon ’n goeie loopbaan in dié rigting hê.

“My ouers het dit duidelik gemaak dat ek móét gaan studeer. Ek het byna elke dag op my ma se bed gaan huil en haar gesmeek om my ’n kans te gee om my drome na te jaag. Op die ou einde het hulle ingestem en my een jaar gegee om iets in die musiekwêre­ld te word.”

Sy het haar studies laat vaar om voltyds musiek te maak – en kyk nou net.

DAARDIE een jaar was genoeg. In 2019 het sy haar eerste liedjie, “Getting Late”, saam met DJ Kooldrink uitgereik. Dié liedjie en haar Tiktok-plasings het later die aandag van die musiekbest­uurder Garth von Glehn getrek. Hy het vir haar ’n kontrak by Epic Records aangebied. Die bal was aan die rol.

In 2022 het sy internasio­naal begin reis en later die jaar ’n tweede liedjie, “To Last” uitgereik. Op haar 21ste verjaardag verlede jaar het sy in Hollywood geland. Kort daarna het sy saam met die omstrede sanger Chris Brown begin optree, onder meer op sy Under the Influence-toer in Europa en Brittanje.

Dit was haar treffer “Water”, die een met die sensuele danspassie­s, wat haar groot deurbraak was. ’n TikTok-dansuitdag­ing op “Water” het soos ’n veldbrand versprei en kort voor lank het derduisend­e mense wêreldwyd op sosiale media hul eie agterstewe natgegooi terwyl hulle hul boude swaai.

Sover bekend is daar nog nie ’n kêrel in haar lewe nie, en aanhangers sal moet wag om te sien of haar roem ook tot skindersto­ries in die poniepers sal lei.

Maar tot dusver lyk dit asof die jong vrou se voete stewig op die aarde is en sy skryf haar sukses toe aan haar familie se ondersteun­ing en God.

Hoewel sy deesdae in Los Angeles woon, sal Suid-Afrika altyd haar huis wees en ’n spesiale plek in haar hart hê.

“My droom is om huise oral te hê. My span wil graag hê ek moet na Los Angeles verhuis, maar ons sal sien hoe dinge oor ’n jaar of twee gaan,” het sy aan ’n Amerikaans­e radiostasi­e gesê.

En in daardie huis sal daar plek moet wees vir nog báie pryse. Want waar daar nou een Grammy staan, blink daar waarskynli­k binnekort nog ’n paar.

 ?? ?? Tyla is die middelkind. Hier is sy as kind saam met haar broer, Tyrese, en suster, Whitney.
Tyla is die middelkind. Hier is sy as kind saam met haar broer, Tyrese, en suster, Whitney.
 ?? ?? In matriek is sy op die skool se prysaand as die beste sangeres aangewys.
Saam met haar ouers, Sherwin en Sharleen, by die Grammys. Sy het haar eerste Grammy vir “Water” gewen.
In matriek is sy op die skool se prysaand as die beste sangeres aangewys. Saam met haar ouers, Sherwin en Sharleen, by die Grammys. Sy het haar eerste Grammy vir “Water” gewen.
 ?? ?? Ook op akademiese gebied het sy uitgeblink. Sy was in die skool se top-25.
Tyla was ook ’n kranige grafiese kunstenaar op skool.
Ook op akademiese gebied het sy uitgeblink. Sy was in die skool se top-25. Tyla was ook ’n kranige grafiese kunstenaar op skool.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa