Huisgenoot

LARRY HAGMAN, OFTEWEL J.R. EWING VAN DALLAS

-

HY WAS slu. Skelm. ’n Skurk. Maar niemand het regtig omgegee nie, want wanneer J.R. Ewing onder daai cowboyhoed van hom uitloer of nog ’n whiskey wegslaan, het almal vasgenael gesit. Hy het gekonkel in al 357 episodes van die eerste aflewering van Dallas, die TVfenomeen wat Huisgenoot aanvanklik as ’n “speurdrama” beskryf het toe dit die eerste keer in 1978 uitgesaai is. En toe word hy geskiet – en die wêreld ruk tot stilstand.

Die laaste episode van Dallas is op 12 November 1991 in Suid-Afrika uitgesaai, met die lot van die geslepe Texas-oliebaron nog onseker. En toe die reeks jare later herleef, ook in fliekforma­at, blyk dit J.R. leef sowaar steeds – en maak nog altyd moeilikhei­d.

Oor homself het J.R. gesê: “The world is littered with the bodies of people that tried to stick it to ole J.R. Ewing.”

Nes J.R. het die akteur wat die rol vertolk het, Larry Hagman, sy drankie dalk ’n bietjie te veel geniet. Hy’t op ’n kol erken hy het tot vyf bottels sjampanje per dag gedrink en selfs bourbon in plaas van melk by sy oggendpap gegooi. In sy memoires, Hello Darlin’, het hy gebieg hy’t gereeld dronk op die stel opgedaag.

Larry moes teen 1995 ’n leweroorpl­anting kry, maar het daarna steeds in die bottel gekyk.

In 2011 het nog ’n diagnose aan sy deur kom klop. “As J.R. kon ek met enigiets wegkom – omkopery, afpersing en affairs. Maar kanker het my gekry,” het hy toe vertel.

Larry is in November 2012 in ’n hospitaal in Dallas oorlede terwyl hy in dié blink stad was om nog ’n aflewering te skiet van die reeks wat tot vandag toe sinoniem is met sy karakter. Hy was 81 jaar oud.

Sy vrou, Maj Axelsson, is vier jaar later oorlede. Hulle was meer as 50 jaar getroud.

Anders as Larry en Maj was J.R. en sy eerste vrou, die ewe legendarie­se Sue Ellen (gespeel deur Linda Gray), diep ongelukkig in hul huwelik op hul uitgestrek­te Southfork-landgoed. Toe J.R. haar eenmaal vra wat in hul slaapkamer haar pla, het sy geantwoord: “You’re in it.”

Tog het miljoene kykers haar dalk beny.

 ?? ?? J.R. Ewing het die wêreld gereeld op die kassie met sy doen en late geskok, maar dis Larry wat eintlik agter die skerms gereeld swaar getrek het in sy persoonlik­e lewe.
J.R. Ewing het die wêreld gereeld op die kassie met sy doen en late geskok, maar dis Larry wat eintlik agter die skerms gereeld swaar getrek het in sy persoonlik­e lewe.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa