NU DAVIDSON EN RHYS JOHN
EK WAS in my laaste jaar op skool toe ek en my vriende eendag praat oor manifestering. Ek dink toe ek gaan dit probeer en kyk wat gebeur. Ek het ’n brief aan die heelal geskryf en daarin beskryf presies wat ek in ’n man soek. Bruin hare, blou oë. Hy moet lank, gaaf en vrygewig wees.
En toe verbrand ek die brief – en vergeet daarvan.
’n Maand later gaan ek en my vriende na ’n kuierplek in die Kaap om my 18de verjaardag te vier. Dit was ’n Maandagaand en die klub was nie baie vol nie.
Toe sien ek hom aan die ander kant van die dansvloer. Ek het na my vriende gekyk en gesê: “Ek soek daai een.”
Ek het na hom gestap en met hom begin gesels. Shame, die arme man was ’n introvert, en ek kon sien hy dink: “Uhm, oukei . . .”
Maar ons gesels toe heelaand. Die band tussen ons was onmiddellik daar. En eintlik was ons daarna nog altyd bymekaar en altyd aan mekaar se sy.
Hy was toe in sy eerste jaar op universiteit. Ons het later, toe ons albei op universiteit was, gereeld vir mekaar briefies geskryf en dit onder die ruitveërs van die kar gesit vir mekaar. As ek sy kar iewers geparkeer sien staan, los ek vir hom ’n briefie. Of soms sit hy ’n blom by syne.
Ons het vir mekaar sulke cheesy goed geskryf, soos: “Ek hou jou dop.” Of: “Raai wie dit is?” Of: “Geniet jou dag, Oulik.”
Ek was mal oor dié briefies. Toe ons jonk was, het hy nie gelyk soos hy vandag lyk nie. Hy het lang hare gehad en hy was maer. Hy was eintlik nie my tipe toe ons die eerste keer ontmoet het nie!
Maar sy voorkoms het in die jare sedertdien verander. Hy is vandag atleties; ’n pragtige man. En toe kyk ek op ’n dag na hom – na sy bruin hare en blou oë – en besef: Dis hy! Dis die man wat ek in my brief beskryf het.
Ek het duidelik destyds ’n visie gehad. Ek het hom neergeskryf. En hy is presies soos ek hom op papier geskryf het.
Hy is die man waarvoor ek die heelal gevra het. Ek het gesê wat ek wou hê – en eers jare later besef ek het presies gekry waarvoor ek gevra het en wat ek in daardie briefie van destyds geskryf het.
Ek het eintlik altyd geweet dis hy. Hy het net bekend gevoel. En toe besef ek eers jare later hoekom.
Dis 16 jaar later, en ek voel steeds so. Asof ek hom al my hele lewe lank ken, maar ook asof ek hom steeds ontdek.