Huisgenoot

WAT DOEN EK MET ‘MAMMA SE SEUNTJIE’?

-

V Ek is pas getroud en het eers later agtergekom dat my man ’n regte “mamma se seuntjie” is. Hoewel hy goed is vir my, hardloop hy gedurig na sy ma toe vir hulp of raad. Hy slaan nie ag op wat ek sê nie, en in gevalle waar sy ma dieselfde as ek sê, luister hy eerder na haar.

Praat help nie, my man word kwaad as ek iets van sy ma sê. My man kom nie eens agter dat sy hom manipuleer nie, want hulle is al so gewoond aan haar. Ek het besluit om haar eenkant toe te skuif, want ek sien nie my lewe met so iemand daarin nie. Sy speel altyd die slagoffer en dit maak gesprekke met haar moeilik.

Is dit verkeerd van my om nie ’n verhouding met my skoonma te wil hê nie?

A Kom ons begin by ’n stukkie waarheid: Jy het ’n derde persoon in jou huwelik. Sy dikteer die trant van julle huwelik en dit moet stop. Jou man stel sy ma eerste en hy plaas sy ma se behoeftes voor syne, joune en ander mense s’n. Wat kan jy doen?

Vra jou man vir ’n oop gesprek, en benadruk dat dit belangrik is vir jou. Wees beslis en sê vir hom julle het huweliksbe­rading nodig.

Stel grense oor wat jy gaan toelaat en wat nie. Moet niks negatiefs van sy ma sê voor hom nie. Bly stil oor haar.

As hy opgewerk raak, stap weg en probeer later weer wanneer hy kalm is.

Versterk jou bande met jou vriendinne, want dit help om jou te anker.

Versorg jouself sodat jou selfbeeld positief bly.

Die goue reël om te onthou is dat jy nie moet probeer om jou skoonma te verander nie, want jy sal nooit wen nie.

Jy hoef nie skuldig te voel oor die feit dat jy nie ’n verhouding met haar het nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa