Huisgenoot

VERHOUDING­S STRY OP DIE REGTE MANIER

-

Daar’s geen paartjie op aarde wat nie soms goed vies raak vir mekaar nie. Rusies is onvermydel­ik, en in ’n gesonde verhouding kan dit jou en jou maat selfs nader aan mekaar bring. Sorg so dat dit reg en regverdig verloop.

HOU DIT PRIVAAT

Moenie voor julle kinders baklei of ’n derde party, soos ouers of vriende, insleep nie.

HOU DIT RELEVANT

Fokus op die spesifieke kwessie wat nou probleme veroorsaak, en moenie ou wonde oopkrap of gister se koeie uit die sloot opdiep nie.

GEE MEKAAR ’N SPREEKBEUR­T

Elkeen kry ’n beurt om sy saak volledig te stel. Wanneer jy nie praat nie, luister aandagtig na wat jou maat sê. Let op mekaar se lyftaal en kyk mekaar in die oë.

HANDEL DIT AF

Vermy ’n opgekropte of uitgerekte affêre. As jy kwaad is oor iets en dit nie binne 48 uur met jou maat bespreek nie, is dit dalk eintlik net ’n nietigheid.

RESPEKTEER TRANE

Om te huil is nie ’n teken van swakheid nie, maar dit moet ook nie die probleem wegwas nie. Gun mekaar ruimte om julle gevoelens te wys, en bespreek die kwessie verder as julle kalmer voel.

SKREE HELP NOOIT

As jy so kwaad is dat jy wil skel of gil, stap eerder weg. Niemand luister na iemand as hulle voel hulle word aangeval nie. Haal eers diep asem en praat later rustiger verder.

IDENTIFISE­ER DIE WARE PROBLEEM

Stel vas of dit waaroor julle stry regtig te doen het met die stand van julle verhouding. Soms haal mense hul onsekerhei­d, spanning en frustrasie oor ander dinge op mekaar uit. Help mekaar om te bepaal wat onderligge­nd moeilikhei­d veroorsaak. Stel mekaar gerus as die probleem eintlik iets anders is.

STAAK DIE VERWYTE

Moenie mekaar blameer nie, dit sal net veroorsaak dat elkeen sy skanse digter trek. Praat oor die klip in die pad, nie oor wie sy voete die stukkendst­e moes stap nie.

WAT IS DIE LES?

Wat lê anderkant vandag se versoening – hoe kan julle dinge verander of verbeter? Praat oor die pad vorentoe, maar wees spesifiek en realisties daaroor.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa