RICHARD CHAMBERLAIN
NIEMAND wat dit gekyk het, sal daardie stomende tonele op die eiland ooit vergeet nie. Dis meer as 40 jaar later, maar noem jy vandag The Thorn Birds, kry kykers van destyds steeds dáárdie kyk in hul oë: Father Ralph en Meggie wat só vurig vry dat hul romanse die verhouding van ’n miljoen fantasieë sou word.
Die akteur Richard Chamberlain was álmal se droomman toe die reeks in die 1980’s in Suid-Afrika uitgesaai is.
Hy was toe reeds ’n Hollywood-hartebreker. Hy het immers in reekse soos Dr. Kildare en Shogun gespeel. Maar toe speel hy die aantreklike Katolieke priester Ralph de Bricassart, die man wat moet kies tussen sy toewyding aan God en sy liefde vir die mooie Meggie, gespeel deur Rachel Ward.
O, en het hy nie gewroeg nie. Dit was iets vreesliks.
Meggie: “You can have me now. You can marry me. You love me.”
Ralph: “But I love God more.”
G’n wonder die Australiese skrywer Colleen McCullough se 1977-boek, waarop die reeks gegrond is, het meer as 30 miljoen eksemplare verkoop nie.
En toe, in 1989, breek die kollektiewe hart van ’n generasie vroue: Die akteur op wie hulle so verlief was, is van die mark af. Dit het eers bekend geword toe die Franse tydskrif Nous deux steelfoto’s gepubliseer het van Richard en die man met wie hy in 1984 getroud is, Martin Rabbett.
Richard het eers in 2003 in die openbaar oor sy verhouding gepraat, en vertel hy kon destyds Ralph se wroeging verstaan omdat hy ook met tye geworstel het met sy eie innerlike konflik. Hy het ook toe ’n boek oor sy lewenspad geskryf, getiteld Shattered Love.
“Ek het eers op 68 amptelik gedeel dat ek gay is,” het hy vanjaar vertel.
Hy en sy man is in 2010 geskei, maar dit gaan klaarblyklik goed met Richard. Hy verjaar op 31 Maart en word dan 90 jaar oud. Hy woon deesdae saam met vriende in Hawaii.
En Rachel wat destyds Meggie gespeel het? Sy is al meer as 40 jaar lank getroud met Bryan Brown, wat die karakter Luke in The Thorn Birds gespeel het. Ja, hoeka Luke wat so goor was met Meggie in die reeks.
Maar dis aan Ralph-en-Meggie wat kykers vandag steeds in dieselfde asem dink.
Meggie: “Oh, Father, I’m so glad I’m not dying. What would I ever do without you?” Ralph: “Oh, silly. You’ll never be without me.” Inderdaad. Want in ons herinneringe is daardie twee karakters sowaar steeds saam daar op daardie romantiese eiland.
IN ’N oogwink was byna ses dekades se onwankelbare liefde verby – my man was dood, en ek en my twee kinders moes kyk hoe die kis stadig in die grond verdwyn. Toe ek my oë weer uitvee, laai my kinders my af by ’n aftreeoord in Parys. Hier moes ek my alleenheid self hokslaan.
Ná drie jaar van gereelde middagslapies, geskeduleerde etes en kuiertjies van my twee kinders, was ek verstom toe ’n nuweling in die aftreeoord op ’n dag by my wil kom kuier.
Hy het ’n kort broekie op ’n warm Saterdag gedra, en vriendelik geglimlag. Sy sjarmante persoonlikheid was al wat nodig was om my hart weer vinnig te laat klop – en dít op 77 jaar oud.
“My naam is Ronald,” het hy gesê en geglimlag. Hy is 82, het hy vertel.
Sy woorde was soos ’n magneet. Die konneksie was magies.
Ronald was beskaafd en aangenaam. Ons sitkamergeselsie het moeiteloos gevloei. Ons het oor alles gesels: sy vrou wat oorlede is, ons alleenheid, ons kinders.
Maar niks het my voorberei op wat hy volgende sou sê nie: “Siende dat ons albei aangetrokke is tot mekaar, dalk moet ons in die huwelik tree?”
Ek was stomgeslaan, maar wou jubel. Ek het geweet wat my antwoord sou wees, maar die gedagte aan my kinders het my laat briek.
Wat sou my kinders hiervan sê, het ek bly wonder.
Ronald het verstaan dat ek nie op daardie oomblik ’n antwoord kon gee nie. Tog het hy ná ete daardie aand weer kom klop sodat hy net mooi kon onthou waar ek bly.
Die volgende dag was hy weer daar – hy het dieselfde vraag weer gevra. Dié keer het ek geweet ek is klaar lief vir hom.
“Ek sien eintlik nie waarvoor ons moet wag nie,” het ek geantwoord.
Ek het geweet hy sal my op die hande dra en my gelukkig hou. In jou herfsjare is daar nie tyd vir speel nie, dan moet jy elke oomblik aangryp.
Binne ’n week het ons onsself op my seun se boot bevind en uitgekyk oor die waters van die Vaal.
Nes ons, het my kinders en sy kinders én ons kleinkinders lekker gekuier. Met hulle almal se goedkeuring van ons groot besluit het ons trouplanne toe sommer gou lewe gekry. Dit was fabulous!
Nou, twee weke later, kyk ek gereeld na die blink klippie op my vinger wanneer ons elke aand lê en sepies kyk. In dié oomblikke praat ons gereeld van ons planne vir hoe ons die Kaap bietjie rooi wil verf.
Ronald pas gou aan by my reëlings. Daar’s geen probleme met my Ronnie nie. Hy is perfek. Elke aand wanneer ons Bybel lees, dank ons God vir nog ’n dag saam met mekaar.
Ek is dankbaar dat die Here my nog ’n kans gegee het om lief te hê, en om die beste vrou vir my nuwe man te wees.