Huisgenoot

PIETER DIE STRES VAN VERHUISING

-

BAIE mense het die afgelope twee maande die nuwe jaar begin deur na ’ n nuwe woonplek te verhuis. Soms na ’n ander adres op dieselfde dorp, maar dikwels selfs na ’n ander provinsie. Hier is raad van ’n paar lesers oor hoe om verhuising te hanteer en dinge makliker te maak.

MILLIE

Die laaste keer wat ek verhuis het, was sowat 15 jaar gelede. Om ’n goeie verhuising­smaatskapp­y te huur was hopeloos te duur. Ek was toe pas geskei en moes my begroting fyn dophou. Daarom was die bakkie en sleepwa van vriende al genade.

“Wat kan verkeerd gaan, dis net 200 km ver?” het ek gedink.

Dit het in ’n totale fiasko ontaard. Eers het ’n paar bokse afgeval wat nie goed vasgemaak was nie. Toe sak ’n reënbui uit. Niks was bedek nie en die skade aan my houtmeubel­s was enorm. My hart was gebreek!

Die trauma was só erg dat ek vandag steeds in dieselfde huis bly en volstrek weier om weer te trek.

My raad is dat ’n mens maar die fooi vir ’n verhuising­smaatskapp­y betaal. Dan het jy gemoedsrus dat alles goed sal afloop.

Ek was 15 jaar lank alleen voor ek getrou het. Sowat ’n maand voor die troue het ons ’n huis gekry en dit was tyd om alles na ons nuwe blyplek te skuif.

My verloofde het sommer tjop-tjop haar woonstel ontruim. Ek, aan die ander kant, het nie besef hoeveel goed ’n mens oor die jare kan opgaar nie. Teen die einde is ’n bakkievrag vol goed weggery.

Daarna het dit my nog ’n volle dag geneem om die meenthuis skoon te maak. Ek is ’n skoon mens, maar om elke gaatjie en plekkie te skrop is ’n ander storie.

My raad is dat jy ’n skoonmaakd­iens se hulp inroep vir hierdie taak. Hulle werk gewoonlik deeglik, vinnig, los die plek spiekeries en spaar jou baie tyd.

JULIANA

Dis ’n nagmerrie om te verhuis. Ons het meer as 20 jaar in dieselfde huis gewoon voor ons besluit het om af te skaal. Ons laaste kind was eindelik uit die nes en ons het ’n kleiner plek gekoop.

Om die buitekamer, motorhuis en elke vertrek binne die huis te ontruim was soos om ’n berg te klim. My man en ek het een vertrek op ’n slag gevat, en dit het gevoel asof ons nooit gaan klaarkry nie. Ons het die meeste van die goed na die liefdadigh­eidswinkel geneem, en teen die tyd dat ons by ons nuwe huis ingetrek het, was ons albei gedaan. Ek het glad nie besef hoeveel goed ek in my huis opgegaar het nie.

My raad is dat ’n mens opgaar betyds keer. Ons maak nou só: Elke ses maande gaan ons deur ons hele huis en die buitegebou­e. As ons iets nie sedert die vorige inspeksie gebruik het nie, moet dit waai. Ons kleiner huis is nou maklik om skoon te hou en ’n mens weet heeltyd waar alles is.

TANNIE MARIA

My kind, ek het my hele lewe op ’n plaas gewoon. So tussen die antieke meubels en goete van al die vorige geslagte.

Dis soos ’n ou kombers vol stories en herinnerin­ge wat jou elke dag omvou.

Verlede jaar is die oom oorlede en ek het in ons huis op die dorp gaan woon, want dit was baie alleen op die plaas en ek het nie veilig gevoel nie. Ek het my kosbaarste meubelstuk­ke en erfgoed opgepak en saamgepiek­el om naby my te hê.

Toe maak ek my rug seer en moes noodgedwon­ge vir ’n operasie in die stad gaan.

My kinders het my by die hospitaal kom haal en toe kry ek die skok van my lewe: Hulle stop voor ’n ouetehuis en laai my daar af met ’n groot koffer klere.

Hulle het die plaas en die huis sowel as al die inhoud verkoop.

My raad is dat ’n mens ander se gevoelens in ag moet neem. Ek het lank gesukkel om aan te pas en ek rou ook nog oor my man. ’n Mens moet mooi en bedagsaam werk met jou bejaarde ouers.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa