Huisgenoot

Wanneer dit tyd raak om die motorhuis te takel

-

vroeg in elke nuwe jaar het ons mensdom altyd goeie voornemens wat dan nie eens ’n maand of twee hou nie.

Ons gesin het besluit om ons motorhuis te orden. Dit klink maklik, maar is ’n moeisame en uitmergele­nde taak. Alle huise het nie meer pakkamers nie en dis waar die motorhuis inkom. Dit is óns pakplek.

Watter man ken nie daardie opdrag om ’n boks “net vir nou” in die motorhuis te gaan sit nie? Ou blompotte, albums, speelgoed wat ontgroei is . . . Dit word mos altyd net tydelik gebêre om eendag uitgesorte­er te word. En vir ons het “eendag” aangebreek.

Toe ek vroeër my ouerhuis moes opruim, het ek baie voornemens gemaak. Ons dra soveel dinge saam met ons wat dalk net vir ons waarde het. Dit is swaar om weg te gooi, ’n mens voel skoon skuldig. Ek het toe besluit om dit self te doen. Sodat my kinders dit nie eendag hoef te doen nie.

Makliker gesê as gedaan! Skielik besef ek watter belangrike vertrek daardie motorhuis is. Dit bewaar daardie oorskot van jou lewe, al is dit dalk nou oorbodig. ’n Mens bêre al hierdie belangrike dinge daar, maar kom nooit daarby uit nie. Miskien vermy ’n mens dit juis.

Soms ry jy verby ’n motorhuis wat leeg is, of net ’n kar in het. En dan wonder ek, het hulle nie iets om te bêre nie? Of kry hulle dit net reg om lig te leef?

Waarom wil ek vashou aan hierdie deel van my lewe wat eintlik verby is? Die uitskot en oorskot wat nie meer plek het nie? En ek besef ’n mens wil eintlik net nie daar wees waar jy besluite moet neem nie.

Nou is die tyd om hierdie Rubicon oor te steek. LYNETTE STRYDOM

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa