HARIOT ALLEN OOR HAAR MAN, DYLAN
MY SUSTER se kêrel, Claude, was destyds in die SAKK-weermag, die Suid-Afrika Kaapse Korps. Een Vrydag het hy met dié outjie, die troepie, huis toe gekom. Gewoonlik as Claude huis toe kom, was hy met die intrapslag honger. Ons het toe nog ’n swart stoof in die kombuis gehad en daar was altyd ’n ketel met koffie op. Ek het vir hulle swart koffie met brood gemaak.
Claude het rugby gespeel vir ’n span in die Kleinvlei, Eersteriver. Dit was sommer ’n ou oom wat die span vir die jongelinge opgemaak het, en hy bring toe vir Dylan, want hy was ’n kwaai rugbyspeler.
Ek was die aand nog in my swirlkousie en het ’n apron aangehad. Ek was so skaam voor die outjie, want hy was mooi. Hy het browns aangehad en ’n blou baret op. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het niks van die klere gehou nie, maar ek het van die outjie gehou.
Ek het my hare gaan kam en ons het toe aan die gesels geraak, so skaam-skaam.
Hulle is die aand na die oom van die rugby toe en het later teruggekom. My suster besluit toe ons moet braai. Daar was nie vir my ’n sitplek nie. Dylan sê toe ek moet op sy skoot kom sit.
Toe gebeur die dinge van daar af sommer vanself.
Hy het my nie self gevra of ek sy girlfriend sal wees nie. ’n Paar dae ná ons ontmoet het, het hy na my ma gegaan, en agterna toe vra hy my. Toe sê ek vir hom: “No problems, jy het mos nou klaar met my ma gepraat.”
Van die begin af het ek gehou van die manier wat hy praat. Soos ’n omroeper. Ek het altyd gesê die outjiie het ’n fantastiese stem. Hy moet net met my praat.
Daai tyd het ek vir my ma-hulle huisgehou, skoongemaak en gekook. Hy het elke naweek kom kuier en altyd gesê hy kan nie wag dat dit naweek word nie. Hy het deur die bosse gestap tot by ons, dan pluk hy vir my vyeblomme.
Daardie Desember het hy my in my suster se kamer gevra om te trou. Hy was 21.
Ons het met die bus Bellville toe gegaan om trouringe te gaan koop. Dit was R161 vir ’n troustel – ’n trouring en ’n verloofring.
Vier jaar later het ons getrou. Ek het nog gewerk tot die Woensdag, en die Donderdagoggend is ek gou salon toe vir my hare. Sy broer het my kom optel, toe gaan tel ons my broer op. En toe is ons Mitchells Plain-hof toe. Dit was 25 April 1991.
Ons huwelik werk omdat ons God eerste stel. Ons gaan saam kerk toe, en alles wat ons doen, doen ons saam. As ek wil uitgaan, dan sê hy gaan – maar ek sê altyd as hy nie gaan nie, gaan ek nie.