PURE YSTERPERD
Die era van die stoomtrein is nog glad nie vergete in die Suid-Kaap nie, waar drie broers die wonderlike ervaring van treinreis herskep het – en daarmee saam ’n nostalgiese avontuur vir oud en jonk
Die Ekströmbroers, (van links) Graeme, Sean en Kevin, by hul statige stoomlokomotiefdame, Jenny, gebou in 1948.
HAAR naam is Jenny. En al is sy nie meer vandag se kind nie, laat sy die koppe draai. Eers sien jy die rookpluim aankom; dan hoor jy die naderende gedruis. En dan die magiese oomblik wanneer jy haar groot, glimmende lyf sien nader stoom. Toe sy met ’n allemintige geluid van skreeuende remme tot stilstand kom, staan die skare op Hartenbos se stasie opgewonde nader om hul oë oor haar indrukwekkende kurwes te laat gly.
Eenkant slaan drie mans die toneeltjie trots gade. Hulle is die Ekström-broers, eienaars van dié pragtige ou stoomlokomotief. Soos die jongste, Graeme (42), vertel: “Ons is met stoom in ons are gebore. Ons het al drie grootgeword met ons oupa aan moederskant, Claude Way-Jones, wat ’n stoomtreindrywer was.”
Hul oorlede pa, Errol, was ewe versot op treine. “My ma sê steeds my pa het net met haar getrou omdat haar pa stoomtreine gery het.”
Die plesiertrein het ook ’n keurig gerestoureerde eetwa van Jenny se portuur, en dis hier waar ons verder met die broers Graeme, Kevin (51) en Sean (53) sit en gesels. Die kroeg, die wynrakke, houttafels en stoele – als asem die nostalgie van ’n vergane era uit. Ander gaste kom sit aan vir ete, en gou klingel die eetgerei gesellig.
Jenny en haar gevolg van treinwaens is duidelik vir die broers ’n liefdestaak en huldeblyk aan hul pa se visie.
“Ons klomp kleinkinders het dikwels skelm saam met oupa Claude in die stoomtrein gery,” vertel Graeme.
Maar Sean help jou gou reg: Graeme was die laatlam, ook op die voetplaat – dis nou die ruimte binne ’n lokomotief waar die werk gedoen word. “Ek en Kevin het grootgeword op die stoomtreine tussen Noupoort in die Oos-Kaap en Mosselbaai. Sondae het ons vis gevang en dit gebraai in die fire box van die lokomotief.”
HUL pa, Errol, het altyd stoomtreine gevolg om foto’s te neem. Die broers se ma, Sylvia, beaam: “Ek en my man was mal oor treine. Ons drie seuns het so tussen die treine grootgeword. Stoomtreine is in ons bloed.”
In 1989 het Errol besluit om sy eie treinmaatskappy te stig: die Southern Cape Railway. Sy eerste lokomotief, ’n GMAM
Garratt-lokomotief no. 4070, het hy deur Spoornet bekom. Dié stoomtrein het talle ritte van Mosselbaai na Kamfer bo-op die Montagupas gedoen, asook van Mosselbaai na Knysna.
En gou was daardie tjoef-tjaf-tjoef vir die broers soos ’n hartklop.
Errol het mettertyd nog treine gekoop, en hul roetes het later uitgebrei om spesiale ritte van Kaapstad na die KKNK op Oudtshoorn in te sluit, asook reise na die Roseskou in Port Elizabeth en die Addoolifantpark.
Helaas is Errol in 1991 oorlede en sy besigheid het vir eers tot stilstand geknars. Maar dit was altyd die broers se droom om sy nalatenskap te laat herleef. Hulle het begin rondsnuffel en eindelik gehoor van Jenny met haar vyf waens, wat al dekades lank by die Kaapstad-stasie staan en verroes. Dit was ’n groot gelukskoot, want gewoonlik word ou lokomotiewe opgesny om teen sowat R1 000 per ton skroot verkoop te word. Jare lange onderhandelinge het gevolg voor die broers haar van ’n onwaardige einde kon red. In 2023 het die huidige Transnet haar en vyf waens Mosselbaai toe gebring en ’n sesde wa is hier aangekoop.
Vandag, ná liefdevolle restourasie met onderdele wat onder meer op Facebook Market Place opgespoor is, lyk Jenny so goed soos 100 jaar gelede. Sedert verlede September het sy al 13 000 mense tussen Mosselbaai en Groot-Brakrivier vervoer.
Die broers se doel en droom is eintlik heel eenvoudig, vertel Kevin: om inwoners van die Tuinroete en vakansiegangers met ’n stoomtreinrit te bederf.
Maar al is hul harte by Jenny, is hulle nie direk daarby betrokke om haar aan die stoom te hou nie.
Graeme vertel hy “werk met syfers, maar nie finansies nie”.
Sean, wat in die petroleumbedryf werk, bieg: “Ons wens ons kon net met treine die pot aan die kook hou. Maar ons moet ander werk doen om hierdie passie uit te leef.”
En Kevin, in die gasbedryf, beaam: “Ongelukkig hou treinklubs met vrywilligers nie lank nie.”
Hul drie treindrywers is voetplaatveterane. Clive Holliday (69) is ’n oudpolisieman van Engeland wat lank daar stoomtreine bestuur het. Neels Bernardo (70) is ’n afgetrede stroomdrywer van die destydse Spoornet. En Deon Müller (66) is ’n afgetrede drywer van Transnet-goederetreine. “Dan gebruik ons ook drie afgetrede Transnet coach builders wat ons help met die restourasie van die waens se houtwerk,” sê Graeme.
Deur die jaar ry die trein slegs op Saterdae en in die skoolvakansies. Maar in De
sember is Jenny so in aanvraag dat die broers 40 mense in diens neem en salarisse betaal.
Hulle beplan om die bestaande trein met nog twee waens en ’n eetsalon te verleng.
“Ons vroue dink ons is mal,” erken Graeme. Maar trots voeg hy by dat Jenny ook sý laatlam, Mason (7), se hart vinniger laat klop.
“Hy het nog nie een enkele trip gemis nie. Hy staan vyfuur soggens op vir elke reis saam met die res van die bemanning en help met die dag se take op die trein.”
DIE broers los die beste vir laaste – ’n intiemer kykie na die nooi Jenny self. Die brons nommers op haar neus sê 3655. Dit verklap haar klas en dat sy in 1948 die fabriek in Glasgow, Skotland, verlaat het.
Die Suid-Afrikaanse Spoorweë se ou Springbok-embleem glim soos ’n kamee, en die rooi afwerking lyk soos lipstiffie.
Binne, in die heiligdom van die masjinis en die stoker, begroet ’n steampunk-droom van koperpype, hefbome en druk- en spoedmeters jou. Die verslete rooi leer van die masjinis en sy maat se stoele spreek van baie, baie kilometers.
“Kyk hier, jy kan die buitelyne sien waar die drywers se kostrommels altyd staan,” sê Kevin. “En hier in die koleboks braai ons op reise soms boerewors vir die gaste wat wil kom kyk hoe die kajuit lyk. Dis alles baie spesiaal.”
Sean die romantikus se stem raak skielik dik. “Op die perron sien ons baie opgewonde mense. Kinders tot bejaardes, van sewe jaar tot 70. Wanneer die stoom die trein wakker maak en sy wegtrek, is daar soms ’n oom of tannie wat ’n traan wegpink. Dalk het hulle ’n geliefde vir die laaste keer so op ’n trein sien wegry.”
Vir ’n verandering steek Sean nie die draak met sy kleinboet nie. “Die nostalgie wat ons help skep, maak alles oor en oor die moeite werd.”
‘MY SEUN STAAN VYFUUR SOGGENS OP VIR ELKE REIS’