Huisgenoot

EK’S NET MYSELF

Sy wou mense oor die alledaagse absurditei­te van die lewe laat lag, toe begin sy video’s maak. Nou’s sy ons TikTokker van die Jaar

- Deur COLIN HENDRICKS Foto’s: MISHA JORDAAN

BEURTKRAG, vrot tande, Springbokr­ugby, en hoe om mense op jou foon te blok as hulle vir jou stres veroorsaak. Dis alles onderwerpe waaroor baie mense menings het en graag gesels. Maar een van dié mense, Schaney van Wyngaard van Oudtshoorn, het haar geselsies oor dié alledaagsh­ede op die internet begin uitsaai. Daarvoor het sy nie spesiaal aangetrek nie, en ook geen spesiale effekte of videoredig­eringsfoef­ies ingespan nie. Sy het bloot voor haar selfoon haar plek ingeneem en begin klets.

Wat sy ook al gedink het die uiteinde sou wees – sy sou moeilik kon voorsien dat haar video’s sou lei tot ’n glansaand in ’n Kaapstadse wolkekrabb­er, waar sy soos ’n wafferse Oscarwenne­r in ’n ivoorwit aandrok na vore geroep sou word om voor ’n gehoor van mediamense en internetst­erre ’n prys te ontvang.

Maar dít is presies wat gebeur het, want Schaney is pas as die eerste wenner van Huisgenoot se TikTokker van die Jaarprys op Netwerk24 se Smaakmaker-prysgeleen­theid aangewys.

Haar TikTok-video’s is sonder enige pretensie en wys dikwels hoe sy oor ditjies en datjies gesels en grappies maak terwyl sy haar vroegoggen­d vir haar dag voorberei of saam met vriende kuier. Maar dit het mense aanlyn gaande – in so ’n mate dat sy al derduisend­e volgelinge het en die stemme in die Smaakmaker-kompetisie laat inrol het.

“Ek is net myself op TikTok . . . ek bry, ek is nie pretensieu­s nie en ek praat plat,” vertel sy nou.

Sy het self altyd gewens sy kon iemand op TikTok opspoor met wie sy kan identifise­er. En toe sy sien hoe skaars sulke mense op dié platform is, het sy besluit om maar self so ’n mens te word.

“Want alles was so perfek en plastiek. En toe dink ek, hoekom moet ek wag dat iemand my inspireer? Ek kan mos my eie inspirasie wees.”

AANGESIEN haar video’s so vol grappies en ’n gespot is, kan mense maklik dink sy loop met ’n permanente glimlag rond. Maar eintlik is daar ’n hartseer verhaal agter haar TikTok-sukses. “Vyf jaar gelede was ek baie diep in depressie,” vertel Schaney (32) die dag nadat sy bekroon is. “Ek het myself met my vriende vergelyk wat al so ver in die lewe was en uitgestyg het. Ek het gevoel ek’s agter en het gewonder waarheen my lewe regtig op pad is.”

Aanvanklik het sy gedink sy sou uit haar donker gemoedstoe­stand kon ontsnap as sy verpleging studeer en iets produktief­s met haar lewe uitrig. “Maar verpleging was nie ek nie.”

Die ware Schaney was ’n jong vrou wat mense wou vermaak, hulle oor die absurditei­te van die lewe wou laat lag.

Haar frustrasie met die gebrek aan rigting en vooruitsig­te in haar lewe het haar so swaar getref dat sy selfs op ’n tydstip daaraan gedink het om haar eie

lewe te neem, sê sy.

En toe red TikTok haar lewe.

“Ek het in 2021 by TikTok aangesluit. My profiel was aanvanklik nie oop vir almal nie, want ek was te bang. Ek het vir myself gesê dit is wat ek al van skooldae af wou doen, om op sosiale media te wees, so ek sal my op die een of ander manier aan mense móét blootstel.”

Om die stres te verlig nadat sy die eerste keer ’n video vir die publiek oopgestel het, het ’n vriend voorgestel dat sy haar foon vir ’n ruk ignoreer nadat sy die video opgelaai het. “Ek het toe die video gelaai, my foon gelos en na my ma toe gery.”

Voor daardie video het sy net 124 volgelinge gehad. “Die aand toe ek weer op TikTok gaan, was daar 5 000 followers. Binne die eerste twee dae is die video meer as 10 000 keer op TikTok gekyk. Ná daai was daar geen terugdraai nie.”

Op 30 was Schaney eensklaps beroemd. Sy het ’n loopbaan gehad waar sy mense kon vermaak. “Die Here het mooi vir my deurgekom. Die gedagtes om my eie lewe te neem en die depressie was weg, want net soos my TikToks ander later sou help, het dit my eers gehelp.”

In minder as vier jaar het TikTok haar lewe so verander dat sy dit nou voltyds doen, sy het haar verpleegst­udies gestaak en dra maandeliks finansieel tot die huishoudin­g by.

Haar video’s verskyn ook op Facebook, waar die sosiale netwerk haar daarvoor betaal aangesien dit so gewild is. Sy word ook genooi om as seremoniem­eester by geleenthed­e op te tree.

“Ek kan my man nou baie help en sy las verlig. Soms kan ek vir hom sê: Hou jou salaris dié maand; ek het ook ge- pay.”

Om dan nog met ’n Smaakmaker-prys erken te word “is bevestigin­g vir my”.

“Ek het vanoggend met die grootste glimlag opgestaan. As ek ooit onseker was oor wat ek doen vir ’n lewe, was gisteraand vir my ’n bewys ek is op die regte pad,” sê Schaney, wat ook R25 000 kontant as deel van die prys gekry het.

Sy skryf haar gewildheid op TikTok toe aan haar persoonlik­heid. “Ek dink dis omdat ek vir my ondersteun­ers voel soos iemand wat hulle ken. Baie mense kan hulle nie vereenselw­ig met die glitz and glam op sosiale media nie. Ek het ’n normale lewe en ek dink baie vroue kan met my relate – ook jong meisiekind­ers wat vir my ‘antie Schaney’ skree as hulle my in die openbaar sien.

“Ons bly in ’n land waar die werklooshe­idsyfer so hoog is, maar ons mense se

mindset oor sosiale media is so klein, hulle sien nie die groter prentjie en wat sosiale media werklik kan doen nie. Ons jong mense sit met gawes en talente en is bang om hulself daar buite te sit oor die negatiewe kommentare wat jy kan kry.”

Sy kry self soms negatiewe kommentaar op sosiale media, onder meer oor haar gewig. “Ek is ’n lekker vet meisie. So dis fine; ek weet die meerderhei­d mense is supportive en lief vir my en ek sal eerder op hulle fokus,” sê sy glimlaggen­d.

“My ma het my vanoggend vol trots gebel oor die prys,” sê die oudste van vier kinders.

Haar man, Jaquen (36), is haar skoolliefd­e en is in die weermag op Oudtshoorn. “My man is die totale teenoorges­telde van my. Hy’s ’n vreeslike introvert, so ons verskil groot, maar hy weet hoe om my geraas en malheid uit te skakel.

“As mense my in die openbaar nader, kry hy maar ’n stil plekkie tot ek klaar is met hulle. Hy’s baie supportive in alle aspekte van alles wat kom danksy TikTok.”

Hul dogter, Nia (8), wil nou ook soos haar ma ’n ster op sosiale media word. “Sy maak haar eie klein video’s op haar

tablet.”

En daai skerp humorsin wat haar volgelinge op TikTok sien en so geniet? “Dit kom van my ma en die hele familie. Ons hou van stukke sny en ’n gelag.”

En nou lag sy nooit alleen nie, want daar’s altyd sommer duisende mense wat wil kyk wat Schaney nou weer aanvang, en wat sy te sê het oor net mooi enigiets.

En dít smaak te lekker. Die smaak van soete sukses.

● Besoek Netwerk24 om te sien wie die ander kategorieë in die Smaakmaker­kompetisie gewen het.

‘TOE DINK EK, HOEKOM MOET EK WAG DAT IEMAND MY INSPIREER? EK KAN MY EIE INSPIRASIE WEES’

 ?? ?? Sy wou nog altyd mense vermaak, en nou is Schaney van Wyngaard ’n TikTok-ster!
Sy wou nog altyd mense vermaak, en nou is Schaney van Wyngaard ’n TikTok-ster!
 ?? ?? Schaney is in Netwerk24 se Smaakmaker­kompetisie as TikTokker van die Jaar aangewys.
Schaney is in Netwerk24 se Smaakmaker­kompetisie as TikTokker van die Jaar aangewys.
 ?? ?? Sy’s sonder fieterjasi­es in haar video’s, en dis dalk juis hoekom sy vandag byna 9 miljoen likes op haar TikToks het.
Sy’s sonder fieterjasi­es in haar video’s, en dis dalk juis hoekom sy vandag byna 9 miljoen likes op haar TikToks het.
 ?? ?? Haar man, Jaquen, ondersteun haar in haar loopbaan, en hul dogter, Nia, wil nou in haar ma se voetspore volg.
Haar man, Jaquen, ondersteun haar in haar loopbaan, en hul dogter, Nia, wil nou in haar ma se voetspore volg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa