Huisgenoot

MY STORIE Waar is die pyporrels wat blaas, en waar die trots?

-

EK dink terug aan toeka se jare toe die hart en trots van feitlik elke kerk die pragtige groot orrel met sy blink pype was.

Die instrument is met elke erediens, troue en begrafnis ingespan. Die orrelis was iemand uit die gemeente wat musikaal geletterd was en die kuns verstaan het om imposante klanke met die pedale, klawers en hefbome op te tower – nie maklik nie!

Die tye het verander en die orrelspel van ons jeug is glad nie meer so algemeen nie. Ek wonder hoeveel van ons jonger mense besef watter uitsonderl­ike tradisie nou al haas verlore geraak het. En hoeveel orrels staan nie vergete nie?

Omdat ek op my ouderdom nou “in die voorste linie veg”, soos een vriend dit stel, gaan ek na redelik baie begrafnis- of troosdiens­te van ou kennisse.

Elke familie het voorkeure oor hoe hulle van ’n geliefde wil afskeid neem, en ’n kerkgebou is nie, soos in my jong dae, altyd hul keuse nie.

Dus is daar nie orrelmusie­k nie. Sleutelbor­de, kitare en selfs tromme word soms ingespan.

Die onlangse diens vir een van my vriendinne bly my egter by. Voor haar heengaan het sy versoek dat die orrel bespeel moes word. Die orrelis het begin en ons het almal “Nader my God by U” gesing. Op ’n stadium het ek stilgebly en net na die wonderlike orrelklank­e en samesang geluister.

Selfs die dominee was ’n ruk stil voor hy hervat het.

Ek gun die jonger mense hul eie manier om die Here te loof. Maar, ai, ek wens so dat meer kerke weer gereeld die pyporrel sal inspan om die hele gebou met sy besonderse klanke te vul.

BRENDA, BARBERTON

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa