HOEKOM IS TAAL EN TOELATING ’N TWISAPPEL?
Die owerhede meen sommige gemeenskappe of skole gebruik hul taal- en toelatingsbeleid om sekere leerders uit te sluit. As die Skolewet volgens Bela gewysig word, sal die provinsiale onderwysdepartement kan aandring op parallelmedium-onderrig of dat ’n skool sy voertaal verander.
Kobus sê hy dink nie dit sal sommer gebeur dat ’n Afrikaanse skool moet oorskakel na Engelsmedium-onderrig nie. “Maar wat die provinsiale hoof wel kan doen, is om te eis dat Afrikaanse skole parallelmedium word en Engelse leerders moet inneem. Die praktyk het geleer sodanige skole word binne ’n paar jaar enkelmedium- Engelse skole,” sê hy.
Onderwyskenners meen as die owerhede die finale sê het, sal ’n provinsiale onderwysdepartement kan aandring op ’n “konsentriesesirkelbenadering” – kinders wat die naaste aan ’n bepaalde skool bly, kry voorkeur tot toelating ongeag die skool se voertaal.
Dit kan byvoorbeeld beteken dat Engelse kinders voor Afrikaanse kinders plek kry in ’n Afrikaanse skool.
Die departement van basiese onderwys sê egter Bela “gaan nie daaroor om die magte van skoolbeheerliggame om die beleid te bepaal weg te neem nie, maar om te verseker dit voldoen aan die land se wette. Dié soort beleid word gebruik om leerders se toegang tot skole te laat ontspoor op grond van taal, ras, akademiese prestasie, sportvermoë en die vermoë om skoolgeld te betaal.” Die wetsontwerp behels nie ’n stryd teen ’n bepaalde taalgroep nie, sê James Ndlebe van die departement. “Noudat rasse- en etniese vermenging in alle gemeenskappe is, het party kinders steeds nie toegang tot skole in hul buurt nie omdat skole net gerat is om ’n bepaalde groep te dien.” Volgens die departement mik Bela daarna om dit te verander.