WAT BEHELS DIT?
Die wetsontwerp wil besluitneming oor skole tot ’n groter mate sentraliseer – en dit kan onder meer groot implikasies inhou vir skole se magte om self besluite oor hul toelatings- en taalbeleid te neem.
Die voorgestelde wysigings sal in ’n neutedop beteken dat die magte van skoolbeheerliggame ingeperk word, met meer besluitneming wat na provinsiale onderwysdepartemente verskuif. Die voorgestelde veranderinge sluit in: dat hoofde van provinsiale onderwysdepartemente besluite oor ’n openbare skool se toelatingsbeleid sal kan neem of hersien – nie net oor die getal leerders wat toegelaat word nie, maar ook oor kriteria vir toelating;
dat die onderwysdepartementshoofde die besluit oor ’n skool se taalbeleid sal kan neem of hersien gegrond op wat hulle as die behoeftes van die gemeenskap beskou;
dat skool vanaf gr. R en sesjarige ouderdom verpligtend sal wees, nie meer vanaf gr. 1 of sewejarige ouderdom nie; dat ouers daarvoor aanspreeklik gehou kan word as hul kinders nie skool toe gaan nie en strenger gestraf kan word – selfs met 12 maande tronkstraf;
dat die onderwysdepartement tuisonderrig strenger sal monitor;
dat die onderwysdepartement sal monitor of skole hul beleid rondom godsdiens- en kulturele kwessies sensitief toepas;
dat die onderwysdepartement groter insae sal hê in hoe skole hul geldsake, besteding en aankope bestuur;
dat dit groter insae sal hê in die voordele wat onderwysers en hoofde kry; en
dat daar strenger beheer sal wees oor die verkope van alkohol op skoolpersele – ook tydens gesellighede en geleenthede vir ouers.