WAAR IS JY DAN?
Ten spyte van al die seer van die afgelope twee jaar gee Hannon Bothma steeds om vir sy vermiste vervreemde man, Julius, en wil hy hê hy moet veilig, gelukkig en oukei wees
DIE imposante dubbelverdiepinghuis – ’n spogwoning in een van Suid-Afrika se gesogste buurte – was veronderstel om hul veilige hawe teen die lewe te wees. Dit was die kroon op hul lang verhouding, dit waarna hulle nog altyd gesmag het – maar ook die plek wat hulle teen die seerkry van die lewe sou beskerm.
Tog het die vier mure van dié huis in Sandhurst nou na ’n soort tronk begin voel. Die laaste maande hier is geken aan bittere teleurstellings en nagte se trane, aan kommer en wroeging, aan woede, spanning, verliese en vrae sonder antwoorde – aan verskriklike pyn.
Hier word selde meer gelag, sê Hannon Bothma gebroke.
Van die drome wat die Glam Guru en sy vervreemde man, Julius Swart, hier gedroom het, is net skerfstukke oor – nou is dit die herinnering aan hoe ongenadiglik álles hier, selfs die liefde, eers ontspoor en toe in duie gestort het. “Ek is uitgemergel,” sê Hannon. “Ek is moeg, beangs, stukkend. Ek is op.”
LINKS: Hannon is uitgemergel en siek van bekommernis. BO: ’n Kennisgewing wat Julius ná sy verdwyning help soek, sê hy is weerloos.
Toe die TV-man in April 2022 aan Huisgenoot vertel het hoe sy huwelik – en sy verhouding van meer as 30 jaar – eers versuur en toe dramaties verbrokkel het, was hy seker hy is op die allerlaagste punt in sy lewe.
Slegter kon dit sowaar nie gaan nie, het Hannon gedink. Volgens hom het Julius se ontrouheid hul liefde laat ontspoor, en sy slegte gewoontes en gedaanteverwisseling het hul huwelik op skeidokumente laat uitloop.
Erger as die verlies, was die onderonsie in dieselfde maand en in dié einste huis wat daartoe gelei het dat Julius op 9 April daardie jaar ’n aanrandingsklag teen die Glam Guru aanhangig gemaak het.
Hy het ná weke se spanning beheer verloor toe Julius ’n sigaret in hul slaapkamer aangesteek en Hannon hom gestamp het toe dié hom die soveelste keer woedend gekonfronteer het. Hy het vir sy lewe gevrees toe Julius ’n deur afgeskop het, het Hannon toe vertel. Hy was onmiddellik spyt toe sy horlosie Julius se voorkop tref – hy het geweet hulle het álbei geknak.
Maar dit wás nie sy allerlaagste nie, weet hy nou. Want in die weke en maande sedertdien was daar hernude konflik en frustrasies – en nou is die spanning
‘DIS ASOF HY SONDER ’N VOETSPOOR VERDWYN HET. DAAR IS NIE ANTWOORDE NIE, NIE LEIDRADE NIE – NIKS, NET VRAE’
tot op mespunt gedryf: Julius is al byna twee maande vermis.
The Pink Ladies, ’n organisasie wat help om vermiste mense op te spoor, het vroeër ’n kennisgewing oor sy verdwyning uitgereik. Julius is weerloos, word in die kennisgewing gesê.
Ja, Julius hét uitdagings met sy geestesgesondheid, sê Hannon, en is veronderstel om medikasie daarvoor te gebruik.
“Hy het die laaste keer op 23 Januarie ’n WhatsApp-boodskap van my ge
Geld, roem, liefde. Die glanspaar het eens alles gehad waaroor hulle altyd gedroom het – ook mekaar. Toe stort alles in duie.
lees,” sê Hannon. “En in die weke sedertdien is dit asof hy sonder ’n voetspoor van die aardbol verdwyn het. Daar is nie antwoorde nie, daar is nie leidrade nie – daar is niks, net vrae.”
Moedeloos sê hy: “Ek moes in die afgelope twee jaar ontsettend baie lesse leer wat ek nie wou leer nie. Ek moes bulte klim wat ek nie eintlik kón uitklim nie, en tog doen ’n mens, en is jy sterker daarna. Maar hoe bly jy sterk? Dit takel jou af om te bly wonder of hy sy medikasie neem, of hy ’n veilige slaapplek het, of hy eet.”
Die vervreemde egpaar was ná die verbrokkeling van hul huwelik in die proses om hul huis te verkoop, vertel Hannon. Ook hul egskeidingsgeding is nog voortslepend.
Toe daar in Januarie vanjaar eindelik ’n aanbod kom waarmee Hannon tevrede is, het hy na Julius uitgereik, maar net stilte het hom begroet.
Dit was nie ongewoon om vir ’n paar dae nie van hom te hoor nie – dinge tussen hulle het immers versuur. Dit wás wel ongewoon toe die dae weke word.
“Ek het elke liewe vriend en familielid gebel, maar niemand het iets geweet nie. Julius was net weg,” sê hy.
Hy het hom op 5 Februarie by die Bramley-polisiekantoor as vermis aangemeld, sê Hannon. En elke minuut van elke dag hierna was louter hel.
“Ons het álles probeer. ’n Vriend van my het sy selfoon nagespoor tot in Currylaan in Fourways. Dit was ’n doodloopstraat – agter is ’n beboste gebied wat met lemmetjiesdraad omhein is. Ek kon nie wag om daar uit te kom nie; ek het gedink ek gaan hom daar kry.
“Ek is deur die lemmetjiesdraad; dit het gelyk soos ’n omgewing waar haweloses oornag. Ons het dit ure lank gefynkam, maar sonder sukses. Daar was ook ’n ander geleentheid waar ons ’n wenk gekry het dat hy dalk in ’n woonstelblok
Op dié stoep, om dié swembad, is eens gekuier en gelag. Nou is die huis in Sandhurst ’n hartseer herinnering aan wat hulle gehad het.
in Sandton is. Ek is met ’n pak pamflette met sy foto en kontakbesonderhede daarop na die gebou, maar ook dit het op niks uitgeloop nie.”
Nes dié twee was al die ander leidrade tot dusver vergeefs.
“Dit kán tog nie die manier wees hoe alles vir ons eindig nie,” sê hy. “Dit kan mos nie.”
Die polisie het intussen ’n aansoek gebring om Julius se persoonlike rekords – sy bankrekening en selfoonrekords – te bekyk. Hulle hoop dít sal meer lig op sy geheimsinnige verdwyning werp.
Tot dusver is daar niks, buiten Julius se kar wat hy op 25 Oktober verlede jaar vir ’n nuwe battery by ’n Mercedes-Benzhandelaar in Roodepoort ingeboek, maar nooit weer gaan haal het nie.
“Dit maak nie eens meer saak wat gebeur het of wat Julius gedoen het nie,” sê Hannon emosioneel.
“Ek wil net hê hy moet veilig wees, dat hy ongedeerd moet wees. Ek pleit by die Here daarvoor.”
EINTLIK het die laaste twee jaar gelei tot ’n verlies só groot en só bitter seer, daar is byna nie ’n manier om dit te beskryf nie, sê Hannon. “Ek weet nou ek is wyser as voorheen, sterker ook,” sê hy. “Maar teen watter prys? Ek het nooit in ’n miljoen jaar gedink ek sou twee jaar ná daardie aanvanklike verbrokkeling steeds kole uit die vuur krap nie. Ek wonder gereeld hoe een mens soveel kan verduur, maar jy doen net – jy het nie ’n keuse nie. Maar al is ek so moeg van al die vure wat ek in die laaste tyd moes blus, wens ek net een ding: dat ons Julius veilig kry.”
Hy was ’n haarkapper in ’n klein salon by die Mount Nelson-hotel in Kaapstad toe hy en Julius mekaar meer as drie dekades gelede ontmoet het, sê Hannon.
Destyds het hulle ’n kamer gedeel, met net ’n tuimeldroër, matras en ’n paar handdoeke op hul naam – handdoeke wat die vensters van die kamertjie bedek het, het hulle vroeër vertel.
Die glanspaar net minder as vyf jaar terug trots by die ingang van hul tóé nuwe spoghuis. Nou is alles aan flarde – hul drome, hul liefde en die toekoms waaroor hulle altyd gedroom het.
Maar hulle het mekaar gehad en sáám gedroom. Toe ’n deel van die Mount Nelson-hotel destyds afgebrand het, het Hannon sy eie salon geopen. Hy het met ’n mooimaakwerkwinkel begin toe die kliënte begin instroom het. Daarna het hulle Hannon-produkte begin bemark – eers net ’n grimeerseëlaar wat hulle aan salonne gesmous het; vandag ’n sakeryk met meer as 200 produkte en ongeveer 800 salonne en apteke landwyd.
Dit was die droom, tot dit nie meer was nie.
“Ek het altyd gesê ons is ’n vennootskap uit die hemel,” sê Hannon. “Ons het die land in Julius se ou Volkswagen Citi Golf deurkruis – heeltyd hoër en hoër.”
Teen die tyd dat hulle in April 2018 in die spoghuis in Sandhurst ingetrek het, was daar lankal nie meer ’n Citi Golf in die oprit nie – dié het plek gemaak vir peperduur sportmotors, nes die handdoeke voor die vensters verruil is vir ryk geborduurde materiaal.
Tóé het hulle nog nie geweet dat alles in minder as vier jaar sou sneuwel nie – al die drome, net weg.
“Julius se ontrouheid was ’n koue skok,” herroep Hannon die gebeure van destyds. “Getrouheid was nog altyd ononderhandelbaar in ons verhouding – en dit het die kameel se rug gebreek. Dit het my verpletter.”
Hy het Julius om ’n egskeiding gedagvaar en hulle het besluit om die huis te verkoop, vertel Hannon.
“Ons het in aparte kamers geslaap, maar dit was vir ons swaar om onder een dak te bly. Dit was vir my veral moeilik om sien hoe hy tot in die vroeë oggendure in klubs rondhang, begin kettingrook en nie meer die liefdevolle mens was wat hy eens was nie. Hy was aggressief en wou my bykom.”
Julius het soms dae lank van die huis af weggebly en hul vriendekring begin vermy. Hy het tot kontak met sy familie verbreek, sê Hannon.
Hy onthou die wrede, gewraakte woorde: “In een van die laaste konfrontasies het hy vir my gesê hy geniet sy vryheid; hy wil dit nie prysgee nie – en dat ek nog nooit vir hom genoeg was nie.”
Dít was waar hy die streep getrek het, sê Hannon – nadat Julius die soveelste keer op hom geskree het, hom beskuldig het daarvan dat hy sy paspoort wegsteek, selfs dat hy een van die honde versteek het, was dit die laaste.
Julius is ná die stamponderonsie – ná Hannon se destydse onderhoud met Huisgenoot – uit die huis. Maar toe het dinge éérs ontspoor.
“Hy het verskriklik verontreg gevoel dat hy uit die huis moes trek – dalk het hy gedink dit sou ek wees,” sê Hannon.
“Hy het ál minder ingekom kantoor toe. Die personeel het hom weke op ’n slag nie gesien nie. Soms wanneer ek op kantoor was, het hy by die huis ingegaan en met die alarm gepeuter. Of hy het die geiser afgesit sodat daar nie warm water is wanneer ek tuiskom nie. Een aand het ek daar ingestap, toe hang al my TVbaadjies aan die kandelare. Potte, panne en breekware het oral gelê. Dit het my vier uur geneem om op te ruim.”
Opnuut emosioneel sê Hannon: “Ek dink Julius het gedink hy word van oraloor veroordeel, maar dit was onwaar. Daar was vriende uit ons vriendekring wat na hom uitgereik het – niemand het hom kwaad toegewens nie. Tog het hy kontak verbreek. Hy was verbitterd.”
Julius was ook nie meer dieselfde man saam met wie hy die Hannon-sakeryk gebou het nie, sê Hannon.
“Hy het half outoritêr geword. Ons kon nie meer oor idees debatteer nie; dit het hom kwaad gemaak. Ek het die meeste deurgeloop as ek gesê het die personeel se insette maak vir my sin.”
Dit het gevoel of hy Julius glad nie meer ken nie, sê hy. “Sy persoonlikheid het amper elke dag verskil. Ek was kwaad, maar ook ongelooflik hartseer. Net so bitter hartseer vir die manier waarop alles ten einde loop. Julius was altyd die trotsste mens wat ek ken; ek dink dit was vir hom net ontsettend swaar om skuld te beken.”
‘HOE BLY JY STERK? DIT TAKEL JOU AF OM TE BLY WONDER OF HY SY MEDIKASIE NEEM, OF HY ’N VEILIGE SLAAPPLEK HET, OF HY EET’
DIE ergste draaipunt het in April verlede jaar gekom toe Julius “uit die bloute” laat weet het hy vat onbepaald sabbatsverlof, sê Hannon. “Hy het laat weet hy is in die Seychelle,” sê hy. Julius het destyds foto’s van dié eks
kursie aan Huisgenoot gestuur: Op een is ’n bier en ’n pakkie sigarette op ’n tafel in die voorgrond; agter is palmbome en helderblou water. Op nog ’n foto loop hy hemploos in die straat, ’n sigaret hang slap tussen sy vingers, en die water drup uit sy hare.
“Dit opsigself was vir my vreemd, want die Julius wat ek ken, het geweier om in enigiets anders as ’n vyfsterhotel te bly,” sê Hannon.
Hy het later agtergekom Julius het met sý geld vir dié reis betaal, sê Hannon.
“Ek het ’n rekening waarin ek af en toe iets insit. Toe ek op ’n dag ná sy vertrek die state kry, was die rekening in die rooi – ek was geskok en kon dit nie verstaan nie. Ek het hom daaroor gekonfronteer en hy het dit erken,” sê Hannon.
Die ergste, sê hy, was nie die geld nie, maar dat dit opnuut vir hom ’n teken was dat dié Julius lank nie meer die man was wat hy vir soveel jare liefgehad het nie.
“Die Julius wat ek liefgehad het, het vir mense se kankerbehandelings betaal. Hy het ’n trollie vol inkopies vir die armes gekoop. Die teleurstelling was vir my die swaarste; dit het in daardie stadium gevoel of ek glad nie meer die lig aan die einde van die donker tonnel kon sien nie. Dis soos om oor en oor geskop te word.”
Julius het op 30 Januarie verlede jaar uit die Hannon-maatskappy bedank. Dit was nóg een van die hartseerste dae van sy lewe, sê Hannon.
“Dit was die einde van ’n era, die einde van ons liefde, van ons pad saam, van alles. Ek dink Julius het self gestoei met sy emosies – hy was skaam, maar ook kwaad en op ’n manier ook trots. Ek was net hartseer. Maar as ek eerlik moet wees, ook verlig, want ek was vuisvoos van die brande wat hý gestig het wat ek op ’n daaglikse basis moes blus.”
Drie weke daarna het Hannon by Julius se regspan gehoor hulle kry hom nie in die hande nie. Albei het vir die verdeling van bates ’n regspan aangestel.
“Ek het geweet hy wou nie van mý hoor nie, so my beste opsie was om ’n gemeenskaplike vriendin te vra om na hom uit te reik en hom te sien,” onthou hy.
Dié vriendin – wie se naam hy verkies om te weerhou – het Julius gaan besoek waar hy glo in ’n tuinwoonstel in Houghton gewoon het.
“Sy was ontsteld en huilerig toe sy my gebel het,” vertel Hannon. “Sy het gesê hy is maer en lyk siek. Daar was glo nie eens kos vir die vier honde nie; daarom het sy aangebied om hom tydelik in te neem.”
Dit het hom diep bedroef gelaat, erken Hannon. “Dit was sy keuse om uit die maatskappy te bedank – nes al die ander keuses wat hy gemaak het. Maar ek wou dit nie vir hom hê nie. Wat moes ek doen? Hy het geweier om my oproepe te neem of my boodskappe te beantwoord.
“In my hart was ek verlig toe die vriendin sê sy sal hom inneem. Ek was bekommerd, maar het geweet ek kon hom nie weer onder my dak laat woon nie.
“Nie ná alles nie – al die geskreeu, my weke van vrese, die ontrouheid, die pyn, die wraak toe dinge beëindig is. Ek kon nie. Ek was nie bereid om weer in dieselfde strik te trap waar iemand vir wie ek lief is, iemand wat ek jammer kry, weer alles om my afbreek nie.”
Maande later, in September verlede jaar, is Hannon per oproep ingelig Julius is glo in ’n psigiatriese hospitaal in Pretoria opgeneem.
“Ek het dadelik ingestem om vir al die koste te betaal, want sy welstand was nog heeltyd vir my belangrik. Ek wóú hê hy moes beter word,” sê hy.
Weke later, op die dag van Julius se ontslag, was hy by, onthou Hannon.
“Ek het verskriklik gehuil. Daar voor my het die man gestaan wat ek liefhet, maar wat dit vir ons onmoontlik gemaak het om saam te wees. Wie het hier voor my gestaan? het ek bly wonder. Die man saam met wie ek ’n lewe gebou het, of die een wat gesê het ek is nie goed genoeg vir hom nie? Watter Julius was dit?”
Daar by die hospitaal het hy en Julius ’n hartverskeurende gesprek gehad, onthou hy. “Hy het my gevra of ek hom ooit sou kon vergewe. Ek het gesê ek koester nie wrokke nie – ek kon nog nooit. So ja, het ek gesê, ek vergewe jou.”
Julius is daar weg saam met dieselfde vriendin wat hom voorheen in Houghton besoek het, en dit was dit.
“Hy is nog altyd, nes ek, ’n selfmotiveerder, en dié keer wou ek glo hy gaan sy lewe regruk,” sê Hannon.
Tot hy twee dae later ’n boodskap van dié einste vriendin ontvang het: Sy het Julius by die hek van Hannon se huis afgelaai. “Die boodskap het gelui: Hy is nou jou probleem.”
‘EK SOU IN MY HART WEET AS HY WEG IS, MAAR EK VOEL DIT NIE. EK WEET HY IS IEWERS’
DIT was waarskynlik een van die moeilikste besluite wat hy in sy lewe moes neem, vertel Hannon vandag oor dié boodskap. “Ek het oor die laaste twee jaar meer oor selfbehoud as ooit geleer,” sê hy. “Ons elkeen besluit self hoe ons aan die ander kant uitkom – of ons gaan oorleef, en of ons soveel van onsself gaan gee dat niks oorbly nie. In my geval het ek geweet daar is net te veel seer in die verlede vir my om hom weer in te neem.”
Ja, Julius se welstand was steeds vir hom belangrik. “Ek het hom by die Radisson Blu-hotel in Sandton ingeboek. Intussen het ek vir hom ’n meer permanente verblyfreëling getref – by ’n vriendin wat soos ’n ma-figuur vir ons albei is.” Maar daar het wéér konflik ontstaan. “Op die laaste dag van sy bespreking het Julius laat weet hy gaan nie na die vriendin toe trek nie; hy wil by die huis intrek. Maar dit was nie ’n opsie nie.”
Hy het Julius op alle maniere probeer bystaan, vertel Hannon – soveel hy kon.
“Ek het teen daardie tyd al onderhoud aan hom betaal. Ná sy bedanking was hy werkloos, so ek het werk help soek en daagliks vir hom e-posse met werkgeleenthede aangestuur. Julius het in ’n stadium laat weet ek moet ophou inmeng met sy persoonlike sake, dat hy nie van plan was om onmiddellik weer te werk nie.”
In die maande hierna het Julius opgehou om op sy boodskappe te reageer, en vroeg vanjaar het die aanbod op die huis in Sandhurst gekom.
“Ek was so verheug daaroor, want dit sou ’n nuwe begin vir ons albei wees. Die winste uit die verkoop sou meer as genoeg wees vir hom om ’n hele nuwe lewe te begin – ’n nuwe huis te kry, planne oor sy toekoms te bedink en so aan.
“Ons het teen daardie tyd albei ’n nuwe begin nodig gehad. Ek wou afskaal – die groot huis het vir my net té groot en hartseer geword – en hy sou die vryheid hê waaraan hy so styf wou vasklou.”
Hannon het oor die aanbod laat weet, maar Julius het nooit geantwoord nie.
“Dit was vir my eienaardig. Ek kon dit nie verstaan nie; ek kan dit steeds nie verstaan nie. As daar iemand in sy lewe was wat dalk agter die geld aan was, sou ek mos van hom gehoor het. En selfs al was daar nie . . . Die vryheid is tog wat hy wou hê.”
Omdat die laaste twee jaar rof was, het hy gedink Julius sal later antwoord.
Maar 13 dae later – teen 5 Februarie – was hy oortuig iets is fout. Dis toe hy die vermistepersoonsaak aanhangig gemaak het, onthou Hannon. “Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe niemand weet waar hy is nie. Niemand weet wie laaste van hom gehoor het nie; niemand weet waar hy laas was nie,” sê hy.
Die polisiesoektog het nog nie veel opgelewer nie, sê hy. Nes hulle dink daar is dalk hoop, is dit nóg ’n vals leidraad.
Jacqui Thomas van The Pink Ladies het vroeër aan Netwerk24 gesê daar is moontlik kringtelevisiebeeldmateriaal van hom op Vryburg, Noordwes, maar dis nie bevestig nie.
“Ek kan dit ook nie verstaan nie,” sê Hannon. “Hy het nie eens ’n kar nie. Ek wens ek kon verstaan wat gebeur het, maar ek weet net eenvoudig nie. Dalk is hy ontvoer? Miskien het hy nie sy medikasie gedrink nie en het hy sy greep op die werklikheid verloor. Dis die onsekerheid wat ’n mens mal maak, want jy is totaal in die donker.”
AL WAT nou oorbly, is die verterende angs, sê Hannon. “Daar is ’n verskriklike angs wat net nie wil wyk nie. Ek staar na my foon, want ek is doodbang ek mis ’n boodskap of ’n oproep wat dalk kan help om hom op te spoor. Dit voel of ek nie gewerk kry nie, want my gedagtes is heeltyd net by hom.
“Wanneer ek gaan slaap, bly ek wonder waar hy slaap. Is hy warm? Is hy veilig? Dan lê ek in die middernagtelike ure en dink miskien moet ek dié een of dáái een kontak; hulle weet dalk iets. Elke keer is dit ’n storie om nommers te kry, elke keer hoop ’n mens, en elke keer beleef jy daardie verskriklike teleurstelling.”
Hy kompartementaliseer nou; dis al hoe hy staande bly – dit, en sy geloof.
“As jy net op die boksie met uitdagings fokus, oorweldig dit jou hele lewe; van jou eie lewe bly daar niks oor nie. Nou oorskadu dit alles, maar dit sal weer kleiner word sodra ek die emosionele energie het. God hou my sterk; dis al hoe ek dit kan verduidelik.”
Hannon sê albei Julius se ouers is oorlede. Oor ander familie verkies hy om nie uit te brei nie.
“Ek wens ek kon verstaan hoekom ek nie van hom gehoor het nie.
Hy het soveel kere vir my gesê hy geniet sy vryheid – hy kon tog ’n weerbegin met die huis se verkoop gemaak het. Hoekom sou hy nie? Dit laat ’n mens wonder of daar iets meer duisters agter sy verdwyning skuil, maar ’n mens weet net absoluut niks.”
Hy glo onwrikbaar Julius leef nog, sê Hannon.
“Ons het 30 jaar van ons lewe met mekaar gedeel. Ek sou in my hart weet as hy weg is, maar ek voel dit nie. Ek weet hy is iewers; ek is oortuig daarvan.”
In sy donkerste uur is dit vir hom swaar wanneer die vinger na hom gewys word, sê Hannon. Asof dit sý skuld is.
“Al het ek geen van hierdie dinge vir hom gewens nie, is Julius ’n volwasse man. Elkeen van ons neem aan die einde van die dag besluite, en ons moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
“Julius was in die laaste twee jaar soos ’n wegholtrein wat ek net nie kon keer nie – ek kon hom nie gesond maak nie. In my hart sal daar altyd vir hom liefde wees, maar ek het ook geen van hierdie keuses namens hom gemaak nie. Ek wil hê hy moet veilig wees. Somtyds moet ’n mens ook kies om lewend anderkant uit te kom . . . As ek myself opoffer, bly niks van my oor nie. En ek het ook ’n verantwoordelikheid teenoor myself.”
Wrang onthou hy vandag een van die laaste gesprekke met Julius.
“Ek het hom gevra: ‘Is jy seker dis wat jy wil doen, dat jy alles wil opgee wat jy opgebou het, net sodat jy hierdie nuwe rigting kan inslaan?’ En hy wou. So in die tye wat ek vir hom ontsettend jammer voel – want ek doen – moet ek myself van sy besluite probeer losmaak.”
Ál wat hy hoop, sê Hannon, is dat hy binnekort die nuus sal ontvang dat Julius veilig is – dis al wat saak maak.
“Ons kan nooit weer lewensmaats wees nie. Ná al die trauma en seer is dit nie ’n spelonk waarin ek vrywillig sal instap nie. Die vertroue is vir altyd weg en ek moet my beskerm.
“Maar ek wil weer saam met hom om ’n tafel sit, miskien selfs ’n glas wyn drink, en saam lag – ons het altyd so lekker gelag. En ek wil hom ondersteun, hom bemoedig en hom weer sien opstaan. Ek gun dit vir hom; ek wíl hê hy moet weer gelukkig en oukei wees.”
● Huisgenoot het Julius probeer kontak, maar sy foon bly af.
‘JULIUS WAS IN DIE LAASTE TWEE JAAR SOOS ’N WEGHOLTREIN WAT EK NET NIE KON KEER NIE – EK KON HOM NIE GESOND MAAK NIE’