Huisgenoot

HOE PAK ’N MENS IEMAND SE LEWE OP?

-

Ek weet nie of ek net dom is nie, maar ek het raad nodig, asseblief.

Ek was meer as 30 jaar met my skoolkys getroud. My man is in 2021 aan covid oorlede en dit is ’n enorme aanpassing om ná soveel jare saam sonder hom te leef. Dit begin nou eers vir my voel of my menswees so stukkie-virstukkie terugkeer.

My beste vriendin het laat val dat sy dink ek sukkel emosioneel omdat al my man se besittings en klere nog net so rondstaan soos die dag toe hy gesterf het. Is sy reg?

Ek het tot nou toe nog nooit in sy werkswinke­l ingegaan nie. Sy kroegie op die stoep lyk asof hy enige oomblik daar gaan instap en saam met sy vriende kuier. Sy klerekas is onaangeraa­k. Ek begin huil as ek net dink dit moet opgepak word.

Wanneer dink jy is ’n mens gereed vir hierdie take? Ons kinders het reeds die aandenking­s van hul pa geneem wat vir hulle kosbaar is. Hulle woon almal oorsee. Hoe hanteer ek die berg voor my?

My innige simpatie. As iemand wat self ’n weduwee is, verstaan ek heeltemal waardeur jy gaan. ’n Legio boeke en video’s is beskikbaar oor begrafnisr­eëlings, die rouproses en administra­tiewe pligte ná ’n wederhelf se afsterwe. Daar is egter bitter min leiding beskikbaar oor hoe om ’n geliefde se lewe op te pak. Sommige mense spring dadelik weg om alles uit te sorteer. Ander wag ’n jaar en dan is daar dié vir wie dit ’n enorme struikelbl­ok is.

Emosioneel voel dit ook of die mens nog naby is wanneer sy besittings oral om jou is. Ek gaan die proses van ontruiming in twee deel:

Jouself

Daar is nie ’n regte of verkeerde tyd om geliefdes se besittings op te pak nie. Net soos die rouproses verskil vir elke mens, is emosionele gereedheid vir opruiming ook ’n persoonlik­e reis wat by elkeen anders is. Net jy sal weet wanneer die tyd reg is.

◗ Oppak het sy eie tyd.

◗ Jy sal skuldgevoe­lens ervaar.

◗ Dit is baie emosioneel en ’n mens huil maar deurentyd.

◗ Oppak help soms met die rouproses, veral om daarna ligter te voel. ◗ Moenie toelaat dat mense jou druk nie.

Opruiming

◗ Begin by wat die minste sentimente­el is. Dit sal die proses aan die gang kry. ◗ Vra ’n vriendin om te help as jy dit nie alleen kan doen nie.

◗ Vra familie en vriende of hulle ’n item of twee wil uitsoek vir hulself.

◗ Skenk klere en bruikbare items aan welsynsorg­anisasies.

◗ Duur items kan jy prys en te koop aanbied, dis nie verkeerd nie.

Daar is oulike en goeie idees waarmee ander weduwees vorendag kom om herinnerin­gs van hul geliefde vas te vang. Sommige maak teddiebere uit die klere en gee dit vir kleinkinde­rs. Ander maak kussings.

Een van die gewildste items is ’n kwilt. Dit word uit somerhemde gemaak en kan as kombers of muurbehang­sel gebruik word. By enige naaldwerkw­inkel sal hulle jou bystaan met raad, jy kan selfs ’n kursus doen en sodoende nie net ’n nuwe vaardighei­d aanleer nie maar vriende ook maak.

Aangesien dit vir jou moeilik is om nie goed van jou man om jou te hê nie, beveel ek hierdie naaldwerka­andenkings baie sterk aan.

Soos wat ’n mens met die opruiming vorder, begin daar dikwels ’n gevoel van opgewonden­heid ook posvat, want dit maak die deur oop vir projekte in jou huis. Jy kan beplan aan ’n nuwe slaapkamer vir jouself, of jou stoep ’n hele nuwe baadjie aantrek sodra die kroeg weg is, selfs die werkswinke­l kan anders benut word.

Glo my as ek dit vir jou sê: Jy sal hierdeur kom en jy sal ná ’n tyd beter begin voel oor die veranderin­gs. Sterkte.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa