Huisgenoot

’N UITTREKSEL UIT BLOEDSOMER

-

“So, hierdie was eers ’n bootstoor, soos ek genoem het, maar kyk net hoe mooi het die eienaar die binnekant omskep nadat hy sy boot verkoop het.”

Die towerfee met die einadenim en kort, spykerige hare beduie na die bruin teëlwerk en as-bakstene asof hulle in Rome staan. “Pragtig. Plus ’n see-uitsig van die tweede verdieping af.”

Sy wil iets in die lyn van “Ek waai nou” sê, maar kyk die agent net aan. Blyplek op Mooibaai is skaars, het sy die afgelope weke met ’n skok besef. Plus, die kaptein sal haar not a damn weer afgee om blyplek te gaan soek.

Haar nuwe bevelvoerd­er het dit baie duidelik gemaak dat dit nie sý skuld is dat kaptein Petunia Moraleng nou doodgewoon weer konstabel Moraleng is nie. Die speursersa­nt onder wie sy moet werk, het nog minder simpatie met sy pas oorgeplaas­te handlanger se verblyfsom­standighed­e. Sy onthou nog die bitterheid van haar en JP Hendriks se eerste ontmoeting.

“Ek het ’n assistent gevra,” het hy gesê. “Iemand met ’n agtergrond in forensiese dienste en die bestuur van misdaadton­ele. Nie ’n quitter van Parys in die Vrystaat nie. You’ll have to pull your weight around here, constable.”

Quitter van die Vrystaat af . . . Het speursersa­nt JP enigsins ’n idee wat in die Vrystaat gebeur het en hoe sy amper met ’n kriminele rekord gesit het?

Sy was lus en bliksem die vent van sy gepoleerde loafers af en sommer ook uit sy cargo-broek uit. Maar wat kon sy terugsê?

Sý was die een wat hoed in die hand by majoor Modise gaan smeek het vir ’n oorplasing en degraderin­g in plaas van ’n permanente afdanking vir haar aandeel in die Parys-polisiesta­sie se Covid-19-PPE-skandaal.

En toe die instruksie kom dat sy Parys en die Vrystaat vir Mooibaai en die Suid-Kaap moet verruil, kon Petunia nog minder iets daarna balk.

Hier sit sy. Sy is eenduisend­tweehonder­d kilometer van die Vrystaat af en tot dusver kan Petunia nog geen lig aan die einde van die tonnel sien nie, laat staan nog ’n uitkoms gewaar.

As sy die persoon in daai blerrie stasie in Parys kry wat haar saam met DVD by IPID gaan verkla het, draai sy daardie een se nek om!

Die hofsaak was lank. Sy is onskuldig bevind, maar nalatig. Die degraderin­g het stil-stil gebeur. Van kaptein terug na ’n doodgewone konstabel. Sy skaam haar dood. ❑

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa