Huisgenoot

Die geheim

Vandag is haar troudag. ’n Positiewe dag. Nou moet sy net van al die ou kwaad ontslae raak

- DeurALMA CARSTENS Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

PÊRELPIENK en ligpers seepborrel­s verskyn op die oppervlak van die water toe Esta die bad se kraan wyer oopdraai. Die sterk straal skiet waterdrupp­els tot op die rand, en sy staar gefassinee­rd na die vloeistof wat opdam voor dit teen die bad se rand afloop. Dit vloei stadig af tot in die skuim, soos bloed, maar nie rooi nie. Ook nie taai nie.

Esta trek haar asem in en stroop haar klere van haar lyf af voor sy in die koel water afsak. Die skuim kom tot by haar ken, en sy leun oor en draai die kraan toe. Sy wil nie aan bloed dink nie. Nie vandag nie. Vandag is ’n spesiale dag. Dis haar troudag, en sy wil net aan positiewe dinge dink. Sy wil dink aan die dag toe sy Marius ontmoet het. En aan al die kere wat hulle saam deurgebrin­g het. Ja, dis waaraan sy wil dink. Nie aan bloed nie.

Haar lyf sak laer af in die bad tot haar gesig onder die water verdwyn. Die borrels in haar ore laat haar dink aan die dag toe Marius haar leer snorkel het. Hulle was aan die Natalse Suidkus met vakansie toe hy haar omgepraat het om saam met hom op die boot uit te gaan. Hy was so lief vir die see en mal oor watersport. Skubaduik was een van sy gunsteling­stokperdji­es.

Sy sit regop in die bad en snak na asem. Is. Nie wás nie. Is. Hy is lief vir water, nie was nie. ’n Frons plooi teen haar voorkop en sy skud haar kop. Hoekom het sy aan hom gedink asof hy dood is? Marius is nie dood nie, hy lewe. Dis vandag hul troudag. Alles is reg. Selfs die episode met Ilse is vergeet en vergewe.

Die gedagte aan Ilse laat die hare op haar lyf regop spring, en sy vryf die seep met mening oor haar vel. Haar naels skraap rooi merke oor haar arm, maar sy hou nie op nie. Dis haar troudag, sy moet haarself goed reinig en van al die ou kwaad ontslae raak. Sy het Marius vergewe. Ja, sy het, sy het. En sy het Ilse ook vergewe. Natuurlik het sy hulle vergewe. Dis mos oor en verby. Oor en verby.

“Esta, ons gaan laat wees!” roep ’n vrou voor die kamerdeur, en Esta los die seep om met ’n plonsgelui­d in die water te val. Sy kyk verskrik na die rooi hale oor haar

voorarm en vryf sag met haar vingerpunt­e oor die merke. Toemaar, sy sal dit met grimering verbloem. Niemand sal dit kan sien nie, net sy sal daarvan weet. Dit sal haar geheim wees. Sy het destyds ook gedink niemand weet van Ilse en Marius nie, dink sy kwaad en spring regop in die bad. Die handdoek brand byna haar vel soos wat sy dit hardhandig oor haar lyf vryf. Sy moet Ilse uit haar gestel kry. Haar ontroue bloed van haar afwas.

“Esta, het jy my gehoor? Ons gaan laat wees,” sê die vrou weer voor die deur.

“Ja,” prewel Esta en gaan staan nakend voor die spieël. Haar lyf lyk goed, Marius sal daarvan hou. Hy het altyd so aangehou dat sy haar kos moet opeet, nou sal hy sien sy het dit vir hom gedoen. Sy sal enigiets vir hom doen. Hom selfs sy misstap met Ilse vergewe.

Haar vingers vee vlugtig oor die Swa rovski- kristalle wat op die wit kant-en-satynrok geborduur is voor sy dit oor haar kop glip en die fyn knopies vasmaak. Dis haar droomrok, gemaak deur haar gunsteling­ontwerper. Alles is presies soos sy dit maande lank haarfyn beplan het. Veral haar rok met die lang sluier. Dis haar groot dag. Die dag waarvan sy al droom sedert sy ’n klein dogtertjie was. En Marius is haar ideale bruidegom, haar ridder op die wit perd. Niks sou hierdie dag verhoed nie. Nie eens Ilse nie. Daarvan het sy seker gemaak. Marius is hare, vir ewig en altyd net hare. Vir ewig en altyd. Vir ewig en altyd.

’n Droë knop steek in haar keel vas, en sy moet twee maal sluk om dit af te kry. Dit voel of haar asem wegraak, nes daardie dag toe sy hulle saam gesien het. Toe dit gevoel het of haar hart tot stilstand geruk is en haar lyf gevries het. Hulle het na haar gestaar. Asof sy die buitestand­er is en nie Ilse nie. Marius het gepraat, maar sy kon niks hoor wat hy sê nie. Sy het sy lippe sien beweeg, maar alle klank het verdwyn. Dit was asof haar ore toegesluit is van alle klank. Ilse was kwaad. So verskrikli­k kwaad dat sy bloedrooi in haar gesig geraak het. Haar mond was wyd oop soos wat sy geskreeu het, maar Esta kon haar nie hoor nie. Sy kon niks hoor nie, sy kon net sien. En dit wat sy gesien het, was ondenkbaar. Haar ridder saam met Ilse was ondenkbaar. Ondenkbaar. Ondenkbaar!

Haar beeld in die lang spieël teen die kas toon ’n beeldskone vrou in ’n sprokiesag­tige trourok. Lang donker hare hang klam teen haar rug af en die groot amandelvor­mige oë vertoon helder blou tussen digte donker wimpers. So pragtig. So buitengewo­on mooi. Dis wat almal altyd gesê het wanneer hulle haar sien. Veral haar stiefpa. Sedert haar tiende verjaardag was sy sy prinses. En hy haar leermeeste­r. Sy kners hard op haar tande toe haar gesig byna waansinnig vertrek. Haar leermeeste­r in erotiese kunsies, het hy gespog. En altyd wanneer sy hande haar lyf soos pottebakke­rsklei hanteer het, het sy haar troudag beplan.

Dan het sy haar oë styf toegeknyp en vandag beplan.

’ n Geklop aan haar kamerdeur laat haar ruk van die skrik. “Esta, asseblief ! Ons kan nie vandag laat wees nie. Maak asseblief gou,” roep die vrou weer buite die deur.

Esta lek oor haar droë lippe en spuit tydsaam parfuum aan haar polse. Die sproei daarvan brand die skrape op haar arm, en haar gesig trek pynlik saam. Nee, vandag is daar nie tyd vir pyn nie. Sy moet haarself regruk. Dis haar troudag. Haar en Marius se troudag. Haar en die dokter se troudag. Haar eie dokter Marius Jansen van Helderspru­it. Sy lag hardop en wend grimering aan voor sy die digte sluier oor haar gesig laat sak. Dis tyd. Sy is gereed.

DIE vrou kyk verslae na Esta toe sy die deur oopmaak. Haar mond gaan oop asof sy iets wil sê, maar dan druk sy haar lippe ferm opmekaar en stap saam met die beeldskone vrou in die spierwit trourok na die wagtende motor. Sy weet nie wat om van die situasie te dink nie. Al wat in elk geval nou van belang is, is dat hulle betyds by die hof opdaag. Haar werk as polisievro­u is om te sorg dat die beskuldigd­e daar is vir haar vonnisople­gging, nie om haar oor Esta as mens te ontferm nie.

’n Doodse stilte sak oor die hofsaal neer toe die konstabel met Esta aan haar arm by die trap opstap en haar tot by die beskuldigd­ebank lei. Mense snak na hul asems voor ’ n gezoem van stemme vanuit die galery opstyg. Die regter het moeite om almal tot stilswye te maan voor sy na die beskuldigd­e toe draai en frons.

“Juffrou Bekker? Sal u asseblief die sluier verwyder sodat ek u gesig kan sien?”

“Nee, eers ná die seremonie.” Haar stem is kortaf, soos dié van ’n dikbek kind.

“Nou maar goed,” knik die regter gemoedelik en begin met die prosedure. “Ná al die getuienis wat ons aangehoor het en die sielkundig­e verslag van dokter Meintjies, is my uitspraak soos volg: Dokter Jansen was die psigiater wat u daagliks in Helderspru­it behandel en u selfs eenmaal met vakansie saam met sy gesin geneem het. Hy was onder die indruk dat u gereed is om in die samelewing toegelaat te word en hy, sowel as sy vrou, moes ongelukkig vir daardie oordeelsfo­ut met hul lewens betaal. Ek kan net sê dat die wrede manier waarop u hom en sy vrou vermoor het, getuig van iemand met ’n erge geestestoe­stand en dat u daarom permanent uit die samelewing verwyder moet word en hulp moet kry, juffrou Bekker.

“Daarom beveel ek dat u lewenslank in die Donkerhoek-inrigting opgeneem word vir die moord op dokter Marius Jansen en mevrou Ilse Jansen op Dinsdag 25 Junie 2019.”

Esta lig stadig die sluier oor haar gesig en gooi die ruiker in haar hande na die galery agter haar voor sy omdraai en na die mense in die hof kyk. Die konstabel snak na haar asem. Die grimering op Esta Bekker se beeldskone gesig is besmeer sodat sy byna soos een van Picasso se kunswerke lyk.

“Ek het vir haar gesê hy is myne, vir ewig en altyd net myne,” lag sy honend. “En as ek hom nie kan kry nie, sal niemand anders nie!”

NÁ DIE dag van haar stiefpa se dood het sy gehoop sy hoef nooit weer bloed te sien nie, maar Ilse wou nie hoor nie. En haar liefste Marius moes betaal omdat hy sy minnares teen haar wou beskerm en haar droomdag verwoes het. Hulle moes ongelukkig dieselfde paadjie as haar stiefpa volg, maar daar is iets wat net sy weet.

Anders as wat die geval is met Marius en Ilse, weet net sy wie vir die ou man se dood verantwoor­delik is. Net sy weet, niemand anders nie. Dis haar geheim, net haar geheim. En geheime word nooit verklap nie. Dit het sy op haar tiende verjaardag al geleer.

SY WIL NIE AAN BLOED DINK NIE. NIE VANDAG NIE. VANDAG IS ’N SPESIALE DAG

 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa