Huisgenoot

PASSIEWE AGGRESSIE: KEN DIE KODETAAL

-

SOMS snou iemand jou toe: Moenie so passief-aggressief wees nie! Passiewe aggressie is gedrag wat indirek of subtiel negatiewe gevoelens wys eerder as om dit reguit te verwoord. Jy probeer dalk jou ware gevoelens versteek of dit agter kwansuise neutralite­it verbloem, maar daar’s ’n negatiewe steek aan jou woorde of gedrag.

Bolangs maak jy mooi praatjies, maar onder dit skemer jou irritasie, woede of verwyt deur.

Dubbelsinn­ige seine kan verwarrend wees vir ander en boonop veroorsaak dat julle spanning of probleme nie oplos nie.

Hierdie vyf frases word dikwels deur ander mense as passief-aggressief geïnterpre­teer – selfs al is dit dalk nie jou bedoeling nie:

“Mooi so”

Jy bedoel dit dalk as ’n kompliment, maar dit klink soms soos ’n verwyt. Sê dit as jy dit opreg bedoel, nie as jy eintlik ’n sarkasties­e of ondermynen­de klankie wil inkry nie.

“Ek is jammer dat jy so voel”

Jy wil jammer sê vir iets, maar met die woorde “dat jy so voel” skuif jy die blaam na die ander mens en aanvaar nie verantwoor­delikheid vir die seer wat jy veroorsaak het nie. Sê eerder: “Ek is jammer ek het jou seergemaak.”

“Dis oukei”

Om te sê niks is fout nie as jy eintlik ontsteld is kan sake vererger. Jy wag dalk vir iemand om te besef wat skort, maar hulle weet dit nie – dan is jy éérs vies. Boonop is dit dan te laat, want jy het die gesprek kortgeknip. Sê wat jy voel.

“As jy so sê”

Dit skep die indruk dat jy jou gespreksge­noot se mening of perspektie­f nie respekteer nie, of dat jy die gesprek wil afsluit. Wees oop vir hul siening. As jy dit nie verstaan nie, sê eerder: ‘Kan jy asseblief verduideli­k?”

“Moenie aanstoot neem nie”

Dikwels volg daar ná hierdie woorde iets wat juis onsensitie­f of krities klink. Dis so goed jy sê: “Ek gaan nou iets leliks sê, maar jy mag nie kwaad raak nie.” As jy iets nie reguit kan of wil sê nie, moet dit nie sê nie.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa