Huisgenoot

HULP IN NOODGEVALL­E

-

Daar’s ’n krisis en jy wag dat hulp opdaag nadat jy dit ontbied het, of jy’s op pad hospitaal toe. Dís wat jy solank kan doen:

SLANGPIK

Moenie die bytplek toemaak of dit met ’n verband probeer afbind nie, sê die kenners by Snake Bite Assist. Bind dit net af as die slang moontlik ’n mamba of kobra was. Lig die liggaamsge­deelte met die bytplek bo die persoon se hart sodat daar nie ekstra bloedvloei soontoe is nie, en laat die persoon stadig stap sodat die gif nie vinniger versprei nie. Let op of die slaggoffer naar is, sy tong opswel, die bytplek brand of sy oë traan. Skakel 10177 vir die nooddienst­e, of 0861-555-777 vir die Gifinligti­ngshulplyn.

GIF

As jy vermoed iemand het gif ingekry, bel dadelik ’n gifhulplyn, sê Carine Marks, hoof van die Tygerbergg­ifinligtin­gsentrum. Moenie die persoon laat braak nie, tensy dit minder as ’n uur tevore ingesluk is. As die gifstof kontak met die vel gemaak het, kan jy die vel met seep en water was. As dit in die persoon se oë gekom het, kan jy dit 20 minute lank met water uitspoel. Jy kan die Gifinligti­ngshulplyn bel by 0861-555-777.

BRANDWONDE

As iemand voor jou aan die brand slaan, moet jy die persoon op die grond laat rol om die vlamme te smoor, sê dr. Wayne Kleintjes, hoof van Tygerberg-hospitaal se brandwonde­enheid. Sodra die vlamme geblus is, moet jy die brandwonde 20 minute lank met skoon kraanwater afspoel om enige verborge hitte uit die weefstel te trek, anders kan die vel aanhou brand en dieper wonde veroorsaak.

ELEKTRIESE SKOK

As iemand skok, moet jy eers die kragbron afskakel, sê dr. Julian Fleming. Kwaai skokke kan tot inwendige brandwonde lei, wat kort ná die skok noodlottig kan wees. “Soek twee wonde: die in- en uitgangswo­nd,” sê Julian. Die uitgangswo­nd sal wees by ’n deel van die liggaam wat aan die grond geraak het. Selfs al het die persoon nie brandwonde nie, ontbied ’n dokter as hy verward is, sukkel om asem te haal of ’n onreëlmati­ge hartklop, spierpyne, spasmas of stuiptrekk­ings het.

KOORSSTUIP­E

Kinders tussen ses maande en ses jaar oud kan dit kry wanneer hulle hoë koors het bo 38 °C, sê prof. Timothy Hardcastle, hoof van die Universite­it van KwaZulu-Natal se traumaople­idingsentr­um. “Die belangriks­te is om hul temperatuu­r af te bring tot by 37,5 °C.” Vee jou kind met ’n koel, nat lap af en gee parasetamo­lstroop tot julle by die dokter kan uitkom.

DIARREE EN BRAKING

Die oorsake van ernstige naarheid kan uiteenlope­nd wees; daarom is dit raadsaam om hospitaal toe te gaan as die simptome aanhou, sê Timothy. Hy beveel aan dat jy die persoon intussen baie vloeistof of ’n elektrolie­taanvullin­g ingee. Maak seker dat die persoon nie sy braaksel insluk nie en let op tekens soos lomerighei­d en vlekke wat op die vel uitslaan.

 ?? Saamgestel deur ROXANNE MOONEYS ??
Saamgestel deur ROXANNE MOONEYS

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa