Huisgenoot

Lelies vir Pase

Die onthou kan jou ontglip, maar ’n oomblik van helderheid vergoed

- Deur THILDE NEL Illustrasi­e: MICHAEL DE LUCCHI

‘HALLO, Mamma. Kom, ek vat jou handsak en trui. Annabel het s o l ank Mamma se tas in die kar gaan sit.” “Waarheen gaan ons?” Daar is nie ’n sweempie herkenning in haar ma se oë nie. Mart se gemoed skiet vol. Haar ma was op haar tyd voorbakste­r, voorloper, skoolhoof. Die mens wat haar nou onbegrypen­d aankyk, is wêrelde verwyder van die vrou voor wie Mart grootgewor­d het.

“Ons gaan huis toe, Mamma. Nes laas jaar se Paasnaweek. Vandag is Vrydag, môre ontvang ons ’n klompie kinders van die kinderhuis vir die Paaseierja­g, en Sondag kom oom Jakkie-hulle by ons eet.” Mart tel haar ma se handsak op. “Dié broer van Mamma is darem vol dinge. Hy bring sy nuwe liefde saam. Die twee van hulle speel blykbaar heeldag gholf en tennis. Volgens hom is die aftreeoord die beste ding wat nóg met hom gebeur het.”

Die gebrek aan reaksie laat Mart wonder of haar ma nie weet wie haar broer Jakkie is nie. Wat meer is – weet haar ma wie sy wat Márt is? Trane maak Mart se keel dik.

In die kar op pad huis toe sit haar ma doodstil langs haar. Mart vang Annabel se oog in die truspieëlt­jie. Sy pers haar lippe saam en skud haar kop stadig. Woorde is oorbodig. Van die tweeling is Annabel die empatiese een. Clarabel sukkel nie graag met dinge nie. Nes haar pa. Norman verstaan nie waarom Mart haar ma elke jaar vir die Paasnaweek gaan haal nie. “Sy het hoegenaamd geen idee wat om haar aangaan nie, Mart.”

“Haai, Norm, dit beteken mos nie sy moet op haar eie sit die naweek nie. Sy het darem nog heelwat helder oomblikke. Ons kan mos maar aangaan en ons ding doen saam met die kinders. Die nabyheid van haar mense is vir haar lekker, jy kan nou maar sê wat jy wil. It takes a village, jy weet.”

Mart hou Annabel in die truspieëlt­jie dop. Sy en haar ouma was nog altyd baie na aan mekaar. Oumas het nie oogappels nie, maar almal weet Omi het ’n sagte plekkie vir die “jongste” enetjie van die tweeling. Annabel sit met haar hand op die leuning van Omi se sitplek, maar sy raak nie aan haar nie. Dan vind Annabel se oë weer hare in die truspieëlt­jie.

“Stop vinnig by Woolies, asseblief, Mamma. Ek het gesien hulle het St. Josephs.”

Toe Annabel weer in die kar klim, hou sy twee bosse spierwit langsteelb­lomme vas. “Ek weet Mamma het klaar over the top gegaan met blomme in die huis, maar Sint Josefsleli­es is mos Omi se favourite.”

Haar gesiggie is oop toe sy een van die bosse na haar ouma toe kantel. “Ruik, Omi. Lekker, nè!”

Omi draai haar kop half skuins en ruik behaaglik aan die blomme. “Watse blomme is dit?”

Annabel se oë skiet vol trane. “Dis . . .” Maar dan is hulle by die huis, en Mart se

hart wil breek vir haar kind.

Annabel help Omi uit die kar en stap dan saam met haar in die huis in.

Nadat Mart die kar ingetrek het, stap sy reguit kombuis toe, maak tee en dek ’ n skinkbord waarop sy twee Paasbollet­jies en sagte botter sit.

Toe sy daarmee in die spaarkamer kom, het Annabel reeds Omi se goedjies uitgepak. Haar dogter se oë is dik en rooi. “Ek het Omi se klere uitgehang, Mamma. Ons sal vir haar ’n trui moet leen; hier’s net dun somerskler­e.”

“Dis goed, my kind. Gaan roep jy solank vir Pappa en Clarabel. Sê vir hulle hulle moet vir ’n oomblik ophou met Operasie Paaseierwe­gsteek en kom groet. Ek het die res van die hot cross buns in die eetkamer neergesit. Julle kan solank wegval.”

Sy hou Annabel ’n oomblik teen haar vas. “Maar gaan haal eers die blomme wat jy gekoop het, en kom sit hulle hier in Omi se kamer sodat sy dit heeltyd kan sien en ruik.”

Omi het intussen in die bed geklim. Die bed is so geskuif dat dit op die swembad uitkyk.

“Mamma kan nie nou al in die bed klim nie, basta. Die son sit nog hoog.”

“Los my. Gaan gee jy liewers aandag aan die ouens van die tuindienst­e hier buite. Daai twee hou nie op met karring aan my mooi potte langs die swembad nie. Netnou breek hulle dit.”

“Mamma, dis . . .” Maar Mart sluk haar woorde. Sy gee haar ma se Paasbollet­jies vir haar aan voor sy eetkamer toe stap. Norman en Clarabel is reeds daar. “Gaan julle nie vir Omi groet nie?” Norman steek ’n stuk van die bolletjie waarop die botter al gesmelt het in sy mond. “Sy weet nie regtig meer wie ons is nie, Mart. Los vir Clarabel; ons is besig.” Hy vee sy mond af. “Hierdie meisiekind van ons het ’n goeie job gedoen daar buite om die Paaseiers in die potte weg te steek. Moenie haar dag spoil nie, asseblief.”

Clarabel prop ook ’n homp in haar mond. “Mamma,

Omi maak my ongemaklik wanneer sy so na my kyk en nie weet vir wie sy kyk nie.

Ek sal sorg vir alles vir môre se Paaseierja­g.” Sy druk nog

’n stuk in haar mond. “Solank ek net nie na Omi hoef te kyk nie.”

Annabel hap ook aan haar Paasbollet­jie. “Jy hoef nie met Omi te deal nie. Ek sal na haar kyk. Al kyk sy hóé na my.”

Mart raak vies vir Norman omdat hy nie moeite wil doen met haar ma nie. Hy gaan sê nie eens hallo nie. Maar aan die ander kant, hy en Clarabel gaan elke jaar uit hulle pad om die Paaseierja­g so kleurvol moontlik te maak. Op die oggend van die tweede dag van Paasnaweek klim hy in hulle kombi en gaan laai die kinders reg voor die kinderhuis op. Op elkeen se sitplek lê ’n sorgpakkie, beplan en met liefde gepak deur Clarabel. Daarom kan Mart haar onwillighe­id om die naweek by haar ouma betrokke te wees vir die oomblik vergewe.

SATERDAG loop soos stroop. Omi sit by die swembad onder die palmboom, strooihoed op die kop. Sy kyk na Annabel wat met ’n skinkbord vol leë koeldrankg­lase en ’n vadoek oor die arm tussen die jagters deurbeweeg.

“Bedien julle nog ontbyt?” Sy wag nie op die verbaasde Annabel se antwoord nie. “Bring vir my ’n continenta­l breakfast, asseblief.”

Mart kraai van die lag en sê vir Annabel: “Dis nou omtrént bittersoet. Omi het netnou vir Pappa gevra om solank die kar uit die garage te trek – sy moet haarkapper toe.”

SONDAGOGGE­ND breek hopeloos te vinnig aan. Mart lê vir oulaas en beplan aan die spyskaart vir middagete. Buite begin die voëltjies sing. ’n Hadeda kondig sy teenwoordi­gheid op die grasperk trots en luidrugtig aan.

Daar is heelwat om te doen voor oom Jakkie en sy metgesel arriveer. Die tannie, wat vir Mart na ’n formidabel­e vrou klink, het aangebied om kerrievis en aartappels­laai te maak.

Mart het vroeg in die week besluit om Norman se gunsteling­gereg te maak – Griekse salm. Dit kan wag tot kort voor ete. Al die voorafbepl­anning is gedoen. Sy sal haarself ’ n rukkie voor ete verskoon om dit in die oond te steek. Die sampioene en bros aspersies gaan netnou oond toe, en net voor ete sal sy dit vinnig met ’n mozzarella­kaaskomber­sie bedek en weer in die oond druk. Sy het ook ’n pakkie knoffelgar­nale en malvapoedi­ng gekoop. Woolies maak die lewe darem maar gerieflik vir ’n mens.

Norman het gaan draf. Die tweeling slaap seker nog. Hulle is nou wel tieners, maar op twaalf jaar oud is hulle maar nog haar babas. Gister het so goed afgeloop. Clarabel was in haar element en het die dag soos ’n wafferse projekleie­r saam met die kinders deurgevoer.

Uit die kombuis klink die fluitgelui­d van ’n kokende ketel op. Gaan die tweeling haar sowaar met tee in die bed verras? Mart kry ’n warm gevoel om die hart. In daardie geval bly sy net waar sy is.

Toe daar ’n ligte kloppie aan die deur is, roep Mart: “Ek lê soos ’n lady en wag vir my tee. Kom in, julle.”

Annabel se gesig verskyn in die deuropenin­g. Sy het twee bekers in die hand. Clarabel stap ook in. Met nóg ’n beker tee.

En dan verskyn haar ma se dierbare gesig ook in die kosyn. Sy hou ’n glasvaas met spierwit Sint Josefsleli­es in albei haar hande vas. Mart neem dit by haar. Die goddelike geur vul die hele kamer onmiddelli­k en sy ruik behaaglik daaraan.

“Môre, Annamart. Die huis was so stil dat ek die tweeling gaan opklop het om vir jou tee in die bed te bring.”

Die son breek deur die venster en val op haar ma se gesig en die lelies. “Dankie vir die blomme in my kamer; ek voel so bederf !”

Mart is sprakeloos. Twee dae lank was haar ma iewers in haar kop in haar eie wêreld. En hier, op dag drie, staan sy op met ’n helderheid wat Mart wil koester. Al is dit net vir ’n paar uur.

Haar ma kom sit langs Mart op die bed. Sy buig vooroor en ruik diep aan die blomme.

“Ek wonder of jy onthou – Sint Josefsleli­es is mos my gunsteling.”

WEET HAAR MA WIE SY WAT MÁRT IS? TRANE MAAK MART SE KEEL DIK

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa