Huisgenoot

MY MA IS BAIE HARDKOPPIG

-

My moedertjie is reeds in haar 80’s en woon steeds in haar eie huis. Sy hanteer die groot huis en haar tuin alleen; dit sluit selfs grassny in.

Nadat sy verlede jaar ’n hartaanval gehad het, is sy effens swakker, maar sy weier hulp en gaan steeds op haar eie aan.

My pa is twee jaar gelede oorlede en my ma het dadelik die motor verkoop, want sy wou nie langer bestuur nie. Daar is altyd vrywillige­s wat haar help en sy betaal hulle vir die vervoer wat hulle aanbied. Tog sê sy altyd sy wil nie ’n las vir mense wees nie, want hulle het hul eie lewens.

Sy weier om die huis te verkoop en in ’n oord te gaan woon. Alles is te sentimente­el vir haar. Sy werk mooi met haar geld en funksionee­r onafhankli­k.

Ek woon twee uur se ry van haar af en kan haar nie so gereeld besoek as wat ek wil nie. Ek bekommer my oor haar wat so alleen aangaan elke dag. Ek wil weet of daar ’n profession­ele mens is wat met haar kan gesels. Sodat sy haar hart kan uitpraat en ook na raad kan luister wat nie van my af kom nie.

Hoe wonderlik is dit dat jou ma nog op haar ouderdom so onafhankli­k kan leef. Dit is nie alle bejaardes beskore nie. Ek stem egter saam met jou dat in die tyd waarin ons leef dit nie ideaal is om alleen te woon as jy reeds in jou 80’s is nie.

Vir baie mense is dit vreeslik moeilik om hul manier van leef skielik te verander. Jou ma voel veilig en geborge met die bekende om haar. Sy sal egter attent gemaak moet word op die gevare wat haar alleenlewe inhou en dat sy haarself in ’n kwesbare posisie bevind. Die ideale mens om haar te besoek is haar predikant. Sy sal hom of haar beslis vertrou en ook na raad luister.

Onthou, hanteer jou ma met geduld, respek en liefde.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa