Huisgenoot

’N UITTREKSEL UIT DONKERTYD

-

“Jy moet net onthou,” begin hy gewigtig, “sy was skoukoning­in! Ek sien haar helder voor my oog. Te pragtig agterop ons buurman se lorrie by die skouterrei­n op die rooi kombers wat oor die stapel lusernbale gegooi was vir haar om op te sit. ’n Ware koningin. Al om die arena het die buurman met haar gery.”

“Dis baie jare gelede wat haar blinkpapie­rkroon agter op die lorrie geskitter het, Pa. En die kombers is net oor die bale gegooi omdat sy ’n baie kort rokkie aangehad het en die strooihalm­s in haar bene en boude gesteek het.”

Boonop is Miriam op die lorrie om die arena vertoon net ná die koeie om die baan gelei is. Dit onthou ek ook goed. Die aroma van koeimis wat onder die lorrie se wiele tot pappery getrap word, was oorweldige­nd. Die skole het soos elke jaar ná eerste pouse gesluit op die Vrydag van die skou sodat ons skougrond toe kon gaan. Dit was my eerste jaar op hoërskool, en Miriam pas klaar met matriek toe die kroon op haar kop gepryk het. En ja, sy was ’n baie mooi jong meisie.

Asof Pa my gedagtes lees, voeg hy by: “Nog net so lieflik, sê ek jou. Soos daardie dag in haar wit rokkie en haar pragtige bos swart krulhare.” Pa se stem is dromerig, bewerig in my oor. Stadig sluk hy ’n dikkerige sluk. Grillerig. “En nog net so innig vrie-n-de-lik.”

Ek ken my pa. Hy is in ’n ekstase waarvan sy dogter nie deel wil wees nie. My pa se lus vir ’n vrouelyf het opgestaan kort ná Ma se dood en dit het nog nooit weer loop lê nie. Dit was aan die begin asof hy moes inhaal, al die begeertes moes uitwoed. Ma was lank siek. Hy was altyd gewild onder die vroue. Ek kon nog nooit my vinger lê op presies wat die evasgeslag so gepootjie het rondom hom nie. ’n Drukkie hier of daar waar hy dink niemand sien nie, soet woordjies in die oor van ’n afgeskeept­e of eensame, oë wat dwaal oor ’n lyf en ’n vol beursie om te bederf. Dit was alles ou nuus vir my. Dit het ek al gadegeslaa­n van kleintyd af. Ma ook.

Maar gewild was Pa ná Ma se dood beslis. Hy was besig. Dit was duidelik die paar keer wat ek die Oujaarsdan­s saam met Sarel gaan bywoon het. Slim Servaas was nog altyd reg om sy lyf op die dansbaan uit te gooi, maar sy wewenaarst­atus het hom nuwe vlerke gegee. Vlug van voet. Netjies uitgevat, met sy hempskraag opgeslaan en ’n stywe rug het hy die vroue, veral die enkellopen­des, om die dansbaan uit hul eensaamhei­d probeer lig. En hy het dit reggekry met sy vasvat en die intrek half onder sy blad in. Diep genoeg sodat sy vingers agterom die vrouerug net ’n bietjie te ver strek. Onwelvoegl­ik onderdeur die kieliebak tot hy so raak-raak met die vingerpunt­e aan die buiterand van ’n bors. En dan die swierige draai met sy bobeen net-net te styf teen die vroulike binneboud onder die kort minirokkie­s in. Die draai kon aanhou tot die lyf in die rok styf teen sy bors tot stilstand kom terwyl die laaste note wegsterf. Daarna volg die buiging, laag en soepel. Die meeste dames doen gemoedelik mee. Ek sidder wat hy alles met Miriam sal aanvang op die dansbaan wanneer hierdie jaar einde kry. Dit natuurlik as sy tot dan kan uithou.

“Is jy nog daar?” vra Pa. Ek hou die gehoorbuis al ’n geruime tyd weg van my oor af, en het die draad van sy mededeling verloor.

“Ja, Pa,” sug ek. “Gelukkig het ek nog ’n paar turksvye in die kattebak gehad. Toe bied ek aan om agter haar aan te ry en dit vir haar by haar huis te gaan aflaai en dit sommer ook skoon te maak. Die dorinkies kan tog só venynig wees.

“Ons het lekker koffie gedrink en oor die ou dae gepraat. Maar wag, kyk waar loop die tyd! Ek moet groet. Dis tyd vir netjies maak. Ek is genooi vir aandete en ek vat sommer ’n verskoning vir die nag saam. Dalk word dit laat.” ❑

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa