Kuier

Geleerd

Met haar ouers wat vroeg in haar tienerjare gesterf het, ken sy van swaarkry. Sy het dit egter oorkom en danksy ’n beurs, vertrek sy eersdaags om in Amerika te studeer. DEUR nadine williams

-

Doktor Venicia McGhie (53) is nie iemand wat ooit jammer vir haarself gevoel het nie, ten spyte van al die terugslae, want sy het geweet as jy glo daar is ’n lewende God, dan is enigiets moontlik.

As ’n dosent aan die Universite­it van Wes-Kaapland (UWK) en die ontvanger van die gesogte Fulbright Scholarshi­p in Amerika, is Venicia vandag ’n bewys al woed die storms in jou lewe, jy steeds ’n sukses van jouself kan maak.

Die Fulbright Scholarshi­p is ’n internasio­nale uitruilpro­gram wat deur die Amerikaans­e regering geborg word. Dié merietebeu­rs word jaarliks aan byna 800 mense wêreldwyd toegeken, waar onder andere studente, skoliere en onderwyser­s in Amerika kan studeer, klasse aanbied, aan seminare deelneem of navorsing kan doen.

Maar Venicia se sukses het nie so maklik gekom nie. Sy is die tweede oudste van vyf kinders en het met haar onderwyser-ouers in Potchefstr­oom grootgewor­d. Dié dosent kan jou ook ’n ding of twee vertel van ’n goeie pak slae, waarvoor sy altyd gereed was wanneer sy en haar broer iets stouts aangevang het.

haar kinderjare

“My kinderjare was die beste jare van my lewe. Sorgvry en lekker, beslis jare wat ek altyd sal onthou.”

Op 13-jarige ouderdom het Venicia haar ma aan die dood afgestaan. Twee jaar later het haar pa ook gesterf.“Toe hulle weg is, het die uitdagings begin. Niemand kon meer vir my en my broers en susters sorg nie. Ons is onder die voogskap van my tante geplaas. Sy kon nie vir almal sorg nie, want sy het ook haar eie vyf kinders gehad. Ek en my suster moes gaan werk het sodat ons in die huis kon uithelp en daarom het ek nie skool klaargemaa­k nie.”

Sy dink terug aan haar eerste werk.“Met geen werkonderv­inding was die enigste werk wat volop beskikbaar was, om kombuiswer­k te doen.”

Venicia het die werk met toewyding gedoen, want daar was ’n behoefte by die huis, maar sy het altyd geweet sy was bestem vir groter dinge.“Ek het geweet ek moes werkervari­ng opbou en ook geld verdien, so dit was ’n begin. Daarna het ek by ’n skoenfabri­ek in die dorp gewerk en later was ek gelukkig om werk as ’n administra­tiewe klerk by die destydse Potchefstr­oom Universite­it vir Christelik­e Hoër Onderwys (vandag bekend as NoordwesUn­iversiteit) te kry.”

Op ’n naweek sou jy haar agter die stuurwiel in haar oom se taxi kry. Maar sy het nooit fokus verloor nie; inteendeel sy was vasberade om ’n beter lewe vir haarself te maak. Daarom het sy besluit om haar matriek deur ’n korrespond­ensiekursu­s te voltooi.

Hoewel Venicia baie trots was op haarself, het haar passie vir studeer glad nie haar man beïndruk nie.“Ek het jonk getrou met ’n man wat tien jaar ouer was as ek. Hy (my eksman) het glad nie daarvan gehou dat ek studeer het nie en gedurig met my baklei daaroor.”

Sy was moeg vir die bakleiery, moeg daarvan dat haar kinders moes sien hoe hul pa fisiek hul ma aanrand. Dis toe dat sy besluit het om haar man te los.

“Op 13 Desember 1985 het ek besluit om saam met my twee kinders Potchefstr­oom, alles wat bekend was aan my, te verlaat en ’n nuwe begin op ’n onbekende plek te maak. Ek het regtig ’n leap of faith geneem, want behalwe dat ek niemand in Stellenbos­ch geken het nie, het ek ook nie eens ’n werk gehad nie. Al wat ek geweet het, is dat ek so ver as moontlik weg van my eksman af moet kom, want hy het telkemale gedreig om my dood te maak, sou ek hom verlaat.”

Die pad vorentoe was nie maklik nie, want sy moes haar kinders alleen grootmaak. Maar sy was bereid om hard te werk en opoffering­s te maak. Terwyl sy voltyds by UWK gewerk het, het sy haar kinders versorg én deeltyds studeer. Sy het haar BA-graad voltooi met linguistie­k, Engels en IsiXhosa as hoofvakke. Sy het gehou van wat sy leer en toe ook haar honneurs- en meestersgr­aad in linguistie­k gedoen.

“Nagraadse studie was nog lekkerder en ek het besef ek wil in die akademie wees. Ek wou ’n goeie dosent wees en het toe my nagraadse hoëronderw­ys-diploma gedoen. My eerste pos as dosent was in 2000 by die Vrystaatse Technikon in Bloemfonte­in. In 2002 het ek ’n pos as dosent in akademiese ontwikkeli­ng by UWK aanvaar, waar ek steeds werksaam is.”

Venicia het ook haar doktorsgra­ad in opvoedkund­e aan die Universite­it van Stellenbos­ch voltooi. Sy vertrek eersdaags na Amerika om haar navorsing by die Universite­it Missouri in St. Louis te gaan doen.

Aan jongmense wat voel dit is nie vir hulle beskore om groot dinge te bereik nie, sê sy:“Dit is inderdaad probleme en uitdagings wat ’n mens sterk maak en ook van jou ’n beter persoon maak. Daar is geen situasie wat geheel en al hopeloos is nie. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.”

 ??  ?? Doktor Venicia McGhie het ’n gesogte beurs gekry om in Amerika te gaan studeer.
Doktor Venicia McGhie het ’n gesogte beurs gekry om in Amerika te gaan studeer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa