Kuier

Swaarkry tot sjef

Dit was so amper of sy het dit nie deur die donker dae en vele struikelbl­okke gemaak nie. Maar weens haar vasberaden­heid is sy nou ’n hoofsjef.

- DEUR ERNUSTA VAN WYNGAARD

Vir byna haar hele volwasse lewe lank, ken Nicolene Damons (36) net van struggle en swáárkry. Sy was vir twee jaar ’n man se slaansak en met geen kwalifikas­ies nie moes sy tevrede wees met tydelike werk en lone wat ver onder die broodlyn was.

Dié enkelma van Kuilsrivie­r in die Kaap se noordelike voorstede het gesukkel om kop bo water te hou en moes noodgedwon­ge na haar ouerhuis terugtrek waar dit netso broekskeur gegaan het en drankmisbr­uik erg was. Daar was baie dae wat hulle gaan slaap het net om van die honger te vergeet. Sy en haar ma-hulle moes ook vir ’n jaar sonder elektrisit­eit klaarkom, omdat hulle dit nie kon betaal nie.

Dinge het donker gelyk vir Nicolene en sy kon nie ’n beter toekoms vir haarself voorsien nie. Sy was een aand in 2010 gereed om selfmoord te pleeg, want sy was moeg van die gesukkel.

“Ek was toe al vir amper nege maande sonder werk en het gevra hoekom beantwoord die Here dan nie my gebede nie?” sê Nicolene.

Wanneer Nicolene al hierdie uitdagings opnoem wat sy moes oorkom, skud sy haar kop asof sy dit steeds nie kan glo nie. Dis duidelik hierdie tyd het haar nie ongeskonde gelaat nie.

Maar dan speel ’n glimlag om haar mondhoeke en kom daar ’n trots in haar oë wanneer sy sê dit het lank gevat, maar sy is uiteindeli­k op ’n pad wat haar na ’n beter toekoms kan lei.

Sedert Nicolene en haar suster, Francilene (29), vir ’n kort sjefkursus by die Infinity Culinary Training-sentrum (ICT) in Pinelands aansoek gedoen en in April 2010 ingekom het, het die wiel stadig maar seker vir hulle begin draai. Ná klipharde werk in die klas waar Nicolene en Francilene die topstudent­e was tot by ’n restaurant­werk in Kampsbaai waarvoor sy nie betaal is nie, het Nicolene gegaan van ’n student tot ICT se hooflektor.

Daar was baie dae dat Nicolene van Kaapstad-stasie af Kampsbaai toe geloop het na haar werk omdat sy nie vervoergel­d gehad het nie, maar sy was nooit laat nie en opgee was nie ’n opsie nie.

Sy is vandag nie net trots dat sy iets agter haar naam kan skryf nie, maar ook dat sy ’n skaduwee is van die gebroke, teruggetro­kke vrou sonder selfvertro­ue wat sy was.

die moeilike tye Wanneer Nicolene vandag terugkyk op haar lewe, was daar niks wat haar kon voorberei vir die swaarkry en afwaartse wending wat haar lewe vorentoe sou neem nie.

Sy is die oudste van vier kinders en vertel hul gesin was nie ryk nie, maar haar oorlede pa, Johannes, het goed na hulle gekyk daar waar hulle in Belhar grootgewor­d het.

Nicolene het ná skool as ’n pakker by Simba gewerk en getrou toe sy 22 was. Haar seun, Mighile (nou 11), is gebore toe sy 25 was.

Haar huwelik het egter ses jaar later op die rotse beland weens die spanning omdat Nicolene al broodwinne­r was.

“Dit was nie lekker toe ek weer by my ouers moes gaan bly nie en ek kon dit nie hanteer om nie te werk nie. Op die ou end het ek teruggetre­k na my huis in Wesbank en Mighile by my ma (Annie, 56) gelos om te gaan werk soek,”vertel Nicolene.

Sy skep eers asem voor sy voortgaan, want hierna het sy deur van die slegste ervarings in haar lewe gegaan.

Nicolene het iemand anders ontmoet. Hy het by Nicolene ingetrek en vir haar, wat toe steeds werkloos en eensaam was, gesorg. Sy was weer gelukkig, maar twee maande later het sy skok-ontdekking­s gemaak.

“Ek het uitgevind hy was vir ses jaar in die tronk. (Sy weet nie waarvoor nie.) Hy was ook op dwelms en het my ook erg begin mishandel. Om nie meer die pyn van die abuse te voel nie, het ek begin drink en my werk gelos. Daar was nie kos nie en ek het van 85 kg tot 45 kg afgeval,”vertel sy oor dié tawwe tyd.

Nicolene het dit uiteindeli­k reggekry om ná twee jaar van haar abusive ou ontslae te raak toe sy in 2009 weereens terugtrek na haar ouerhuis. Hier het dit ook nie baie beter gegaan nie, want haar ouers het netso baie gedrink en kos was daar nie. En in 2010 was hul elektrisit­eit vir ’n jaar afgesny.

Nicolene was in dié tyd vir lank werkloos en het self gedrink. Maar sy en Francilene het tussendeur begin kerk loop.

“Deur dit alles was daar ’n stem in my kop wat vir my bly sê het,‘dis nie hoe ek my lewe moet lei nie’. Ek het baie kerk geloop en die Here vir veranderin­g gevra sodat ek my ouers kon help.”

die VERANDERIN­G Dinge het begin gebeur, al het Nicolene dit nie dadelik gesien nie, want ’n kennis het haar en Francilene aangemoedi­g om vir die ICT se sjefkursus aansoek te doen.

“Dit het hoop gegee, maar dit ook weer weggevat, want vir ses maande het ons niks (oor ons aansoeke) gehoor nie,”sê sy. Haar gesig sak wanneer sy onthou hoe af sy een Woensdag gevoel het.“Ek wou nie meer lewe nie en het kerk toe gegaan om die Here te vra om my te vergewe vir wat ek sou gaan doen.”

Dieselfde aand het Nicolene in hul badkamer ingegaan om ’n konkoksie pille te drink. Maar net toe sy dit wou drink, het Francilene aan die badkamerde­ur kom hamer en gesê sy en Nicolene het die volgende dag ’n onderhoud by ICT.

Twee studente het uitgeval en ICT het mense gesoek om daardie plekke in die sjefkursus te vul. Tien mense het gekom vir die onderhoud, maar Nicolene en Francilene het die plekke gekry.

Al was dit goeie nuus, wou Nicolene nie opgewonde raak nie. Vir haar was dit ’n geval van“dis te goed om waar te wees en kan weer weggevat word”.

Ten spyte hiervan het Nicolene hard gewerk en ontdek kosmaak was nog altyd haar passie. Al die swaarkry en“survival mode”, soos sy dit noem, het haar egter daarvan laat vergeet.

Toe Nicolene haar praktiese opleiding by ’n restaurant in Kampsbaai gedoen het, het sy alles ingesit. Al was sy nie betaal nie en het sy gesukkel om by die werk uit te kom.

“Ek was altyd op tyd en het enigiets gedoen – van teëls tot dakke skrop. Ek het als ingeneem wat ek geleer was in die hoop dat die eienaar my ná die tyd sou aanstel. Maar sy besigheid was in ’n verknorsin­g en hy het my uit sy eie sak ’n geldjie gegee.”

Nicolene het agt maande by hierdie restaurant teen ’n minimum loon gewerk. “Ons kon steeds nie die krag aansit nie en het viskoppe by die huis geëet,”vertel Nicolene voorts.

Sy het ná die restaurant­werk weer adminwerk vir twee maande gedoen en het in hierdie tyd ’n e-pos vir Barry Berman, ICT se uitvoerend­e direkteur, gestuur. Hy het haar ’n pos as assistent vir ICT se hoofsjef aangebied en sy het in Augustus 2011 begin. Twee maande later moes Nicolene egter basies die sentrum alleen bestuur toe die hoofsjef en uitvoerend­e administra­teur bedank.

“Ek moes toe inval as hoofsjef. Die grootste struikelbl­ok vir my was dat ek nie voor mense kon praat nie, want ek het ’n lae selfbeeld gehad. Ek moes ook die kurrikulum leer en aanbied en moes met finansies werk. Ek moes my vrese face en moes kies of ek die sand op my gaan laat inval en of ek gaan uitklim. Dit is toe dat dinge vir my begin verander, want ek het besluit ek gaan uitklim.”

Nicolene was ’n jaar in haar nuwe rol by ICT toe haar pa sterf. Sy beskryf hierdie tydperk as hartverske­urend, omdat sy nie kans gehad het om te huil of behoorlik te treur nie.“Ek was besig om aan my loopbaan te bou en moes sterk wees,”sê sy hartseer.

Maar dan glimlag Nicolene en voeg by nadat haar pa gesterf het, voel dit asof ’n “engel langs die Here sit, wat deure vir my laat oopgaan”.

Sy het selfvertro­ue gekry en ook die respek van ICT se direksiele­de; die elektrisit­eit by hul huis is weer aangesit; en sy bly weer op haar eie.“Ek is verskrikli­k trots op myself. Ek is steeds dieselfde mens met dieselfde beginsels, maar ek kan nou opstaan vir myself. Ek het ook geleer‘I’m allowed to make mistakes but I am not the mistake’. Ek moet leer uit my foute.”

Toe ons Nicolene in die kombuis invat vir foto’s, gaan sy in ’n heel ander zone in en lyk vir ’n wyle asof sy van ons vergeet. Want sy is op die plek waar haar passie die warmste brand . . .

 ??  ??
 ??  ?? FOTO’S : Nicolene Damons (36) op haar gemak in die kombuis waar sy die Infinity Culinary Training-sentrum se hoofsjef is.
FOTO’S : Nicolene Damons (36) op haar gemak in die kombuis waar sy die Infinity Culinary Training-sentrum se hoofsjef is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa