As sy diere afknou
Wanneer kinders klein is, speel hulle maar rof met diere. Maar wat maak jy as hulle groter is en die rowwe spel dui op mishandeling vir die lekkerte?
Kinders speel soms rof met diere. Maar wanneer jou kind se speletjies té rof raak en sy ’n kat aan die stert rondswaai of ’n duif se poot met vuurhoutjies brand, moet daar waarskuwingsligte flikker.
Dis genoeg om enige ouer se hare te laat regop staan, maar forensiese kenners waarsku kinders wat diere mishandel, kan soms later in hul lewe mense ook seermaak.
Maar is dit in jou kind se geval regtig ’n waarskuwingsteken dat geweld en misdaad later kan volg? Of is dit bloot normale nuuskierigheid en eksperimentering waarvoor jy ’n stokkie kan steek?
Insp. Henrico Pypers van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in George sê hy moet tot twee keer per maand voorvalle ondersoek waar kinders diere met ’n stok slaan of met klippe of ’n baksteen gooi. In ’n ander voorval is kookwater op ’n dier gegooi.
“Ons gaan dan na die kind se huis en ondersoek die situasie,”sê hy.“Ons praat verkieslik direk met haar in die teenwoordigheid van haar ouers. Die feit dat ons ’n uniform dra, help dat die kind meer aandag gee – dit gee ons outoriteit.”
Henrico vertel egter dat daar nooit met sulke kinders geraas word nie.
“Ons praat met haar oor wat die wet sê en wat verantwoordelike gedrag is teenoor diere – baie keer verstaan die ouers dit ook nie. As die opvoedingswerk gedoen is, vind ons meer uit oor die huisgesin se omstandighede. Ons het ’n strategie in plek as ons uitvind die gesin het ondersteuning nodig.”
Intussen sê Femke Hamming, ’n terapeut by Familie Suid-Afrika (Famsa), deel van die opvoedingstaak is om kinders te leer om hul pligte teenoor troeteldiere na te kom.
“As jy ’n dier wil aanhou, is dit jou plig om die dier gereeld en genoeg kos te gee. Jy moet weet dat hulle ook gevoelens het en pyn ervaar. Jy maak ook nie diere onbepaald vas of toe nie; jy teister hulle nie en jy mag nie jou dier se babatjies verdrink nie.”
Femke sê dit is onder baie Suid-Afrikaners nog aanvaarde praktyk dat diere kos kry wanneer en hoeveel dit die eienaar pas, geslaan kan word of selfs met warm water gegooi kan word as hulle“raas”.
“Dis nie reg nie. As ons kinders hierdie gedrag van hul ouers leer, is dit nie werklik dieremishandeling nie, maar eerder oningeligte verwaarlosing en moet die kinders én hul ouers reggehelp word, ”verduidelik sy.
Ouers moet egter op die uitkyk wees vir ’n intensie om diere seer te maak.“Dit raak ‘afknou’sodra die seermaak nie ’n toevallige handeling is nie. Die kind werk met ’n plan. Sy soek iets. Haar lyftaal weerspieël haar poging om die dier te beheer.”
Die dier se liggaamshouding wys volgens Femke gewoonlik baie duidelik vrees of die verwagting van pyn. As iemand die kind hieroor aanspreek, kan sy dalk die dier los, maar onderduims begin raak en haar aksies wegsteek.
“As die kind duidelik genot uit die voorval put – jy sal dit aan haar gesigsuitdrukking kan lees – sal die gedrag aanhou of vererger,”glo Femke.“En dis waar ouers hulle gut feel moet gebruik en hulp moet kry.”
’n Kliniese sielkundige, Marita Rademeyer van die Kindertraumakliniek in Pretoria, waarsku wreedheid teenoor diere word beskou as ’n eerste gevaarteken dat geweld en kriminele gedrag later kan volg.
Ook in Suid-Afrika is daar baie verslae van volwasse misdadigers wat in hul kinderdae diere seergemaak het. In Amerika het die twee aanvallers wat in 1999 by die Columbine-hoërskool 13 mense doodgeskiet en 21 beseer het, vooraf oor hul “speletjies”met diere gespog.
EKSPERIMENTEER
Terwyl ’n mens sukkel om te verstaan hoe-
kom sommige kinders diere sou seermaak, kwalifiseer sekere aksies tog as normale nuuskierighed en eksperimentering – gewoonlik deur seuns, sê Marita.
Sy sê kinders verstaan tot ongeveer ses jaar oud (of ontwikkelingsgestremde kinders) nog nie dat diere nie objekte is nie. Empatie vir diere word aangeleer by ouers, verkieslik deur die voorbeeld wat elke dag gestel word.
Só kan ’n eerste troeteldier gestrek en bevoel, die stert getrek en die snorre geknip word. Dit is nie noodwendig lekker vir die dier nie, maar ook darem nie buite die grense van“normale gedrag”nie.
Wanneer kinders van tussen 6 en 12 jaar oud egter diere seermaak, kan jy dit as ’n noodkreet beskou, glo Femke. Sy het onlangs met ’n 9-jarige seun gewerk wat katte en honde gevang en toe potlode in hulle agterente ingedruk het.
“Ons het uitgevind dat hy self uit ’n erg disfunksionele gesin kom en herhaalde- lik gesodomiseer is. Hy het sy probleem duidelik op die dier‘geskets’tot iemand dit raakgesien en hy hulp gekry het,”sê sy.
’n Mens noem wat dié kind gedoen het post-traumatic play: een van die paar baie spesifieke redes waarom kinders diere mishandel. Die meeste sien sulke gedrag tuis en kopieer dit óf hulle ervaar sulke gedrag tuis aan eie bas.
“Hier is so baie alkoholisme en gepaardgaande huishoudelike geweld dat dit vir ons aanvaarbaar geword het dat mense mekaar seermaak. Ons het afgestomp geraak oor wat oukei is en wat nie. In ander lande is die norm:‘Jy maak nie diere seer nie, punt’,” verduidelik Marita.
Sulke kinders mag probeer om hul eie mag terug te kry deur iets of iemand kleiner as sy seer te maak. Dit kan ook wees dat die kind sogenaamde “forced abuse” beleef: iemand groter en sterker dwing hulle.
Die gevaartekens verskil egter vir kinders ouer as 12 wat diere afknou. Dit hou dan meestal met anti-sosiale gedrag verband en ook die gebruik van dwelmmiddels, of selfs betrokkenheid by bendeaktiwiteite. Kry dadelik professionele hulp as jy dit teëkom.
Volgens Marita loop dieremishandeling hand aan hand met drankmisbruik en huishoudelike of seksuele geweld in die huis. Dit is ’n manier waarop kinders woede en depressie uitleef.
“Om ’n dier seer te maak, vat ’n spesiale toewyding: geen dier gaan daar sit en dit net vat nie. Hy gaan probeer ontsnap. Om dan berekenend en tydsaam iets te doen, soos dorings deur ’n haas se ore te kap of ’n hele werpsel diertjies een vir een dood te maak, vat ’n berekende besluit, tyd en ’n sterk maag,”sê sy.
’n Kind wat dít doen, het dus dringende professionele intervensie nodig – ook vir die onthalwe van die hele gemeenskap, glo Marita. Maar, waarsku sy verder, dit is gewoonlik juis hierdie outjies wat nie uitgevang word nie.
Vir die meeste ouers is dit egter nie nodig om paranoïes te wees nie.
“Ons almal maak soms oordeelsfoute en een of twee voorvalle beteken nie jou kind gaan ’n homocidal maniac word nie. Daar moet ’n klomp genetiese, psigiatriese en omgewingsfaktore bymekaarkom voor dit gaan gebeur. Maar wees ’n ingeligte ouer en gemeenskapslid en spreek altyd kinders onmiddellik aan as jy sien hulle is wreed teenoor diere.”